Heeltyd speeltyd met nuwe Ducati Scrambler

Die nuwe Ducati Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Die nuwe Ducati Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Ons wat oud genoeg is, sal sekerlik vir Kerrie en Borrie onthou, die twee gifappeltjies wat deur die Geel Heks gestuur is om die silwer roos uit Blommeland te steel. En ou Liewe Heksie wat heeltyd onwetend hul planne in die wiele gery het. Die Ducati Scrambler wat ek onder hande gehad het, is net soos die gifappeltjies: helder geel en baie ondeund.

Die Scrambler-naam het ʼn oplewing beleef en drie vervaardigers, waarvan ek weet, het nou al ʼn Scrambler in hul reeks. Ducati het egter die konsep beter uitgevoer en nie net ʼn bestaande fiets aangepas  nie.

Nee, hierdie kalant is ʼn volwaardige fietsie op sy eie. Ek gebruik maar die verkleinvorm, want hierdie fietsie lyk klein, maar is verbasend gemaklik. Die Scrambler-naam het ook ʼn lang geskiedenis by Ducati en brosjures uit die laat 70s wys Scramblers saam met manne met snorre, kartellende hare en denims wat baie styf sit.

Die nuwe Ducati Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Die nuwe Ducati Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Toe Ducati die Scrambler bekendgestel het, het hulle ʼn reeks variasies gehad. Elke model het die ICON as basis, waarvandaan die ander modelle uitgebou word. Die een wat ek onder hande gehad het, staan bekend as die Flat Track Pro. Die uitlaapyp is ʼn Termignoni-eenheid, wat die Scrambler se stem net so effe dikker maak.

Die kantpanele en skermpie bo die hooflig lyk asof jy ʼn nommer daar moet opplak en gaan jaag. Met sy breë handvatsels en laerige saal, sit jy baie gemaklik. Dit en daardie vet Pirelli-dubbeldoelbande maak van hom ʼn baie ratse fiets. Pret is baie diep in die Scrambler se DNA vasgelê en tussen die karre deur en tussen verkeersligte is dit net een groot fees om bo-op hierdie gifappeltjie te sit.

Die enjin is ʼn 803cc L-eenheid. Die een silinder eindig net daar waar die saal en retro-tenk bymekaar kom en as jy bietjie lank stilstaan raak die hitte merkbaar, maar daarvoor is daar ʼn oplossing. Dit is alles in jou regterhand: draai hom so bietjie en dan is die hitte skoon vergete.

Die nuwe Ducati Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Die nuwe Ducati Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentpaneel is ʼn vloeikristaleenheid, so effe na regs gemonteer en wys jou spoed en toere en nie veel meer nie. Daar is nie eens ʼn brandstofmeter nie. Daar is wel ʼn liggie wat jou waarsku as die brandstofvlak te laag daal. Die versnellerkabel loop in ʼn perfekte boog bo-oor die intrumente. Sou jy skielik moet stadiger ry, sal die enkelskywe voor en agter jou vining genoeg stop.

Daar is ook sluitwering vir ekstra gemoedsrus. Sou jy bietjie skrik vir die 803cc enjin, het Ducati sy Sixty2 model, wat net 399cc groot is, maar gaan ry gerus die 800. Hy is ʼn mak gifappeltjie. Ek het my tyd op die Ducati ongelooflik geniet en waar jy hom stop, sal jy aandag trek. Gaan loer gerus in by Ducati, maar wees gewaarsku: jou keuse watter model om te vat mag dalk moeiliker wees as wat jy dink.

Vir meer inligting, besoek Ducati se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Basson ·

Jan, die model (reeks) naam is ‘Ducati Scrambler’. (Sien foto’s)

Bertus ·

Die foets lyk 35 jaar oud. Soos n ou 500 XT. Kon dit nie meer modern wees nie…

VRA MY EK WEET ·

Bertus…
Retro beteken juis iets uit die 70’s en 80’s
Glo my onder daai tenk is nie ‘n XT nie.
Die Scrambler lyk oud met ‘n doel maar glo my tegnologies is die fiets BAIE modern.
Koop ook enetjie dan praat ons weer

Brian Cheyne ·

Bertus, dit is seker die grootste kompliment wat jy die fiets kan toeswaai! Hy moet lyk soos iets uit die verlede, maar onder die ou baadjie is ‘n uiters moderne fiets. Selfs die ontblote versneller kabels is aspris so met ‘n boog oor die instrumentasie ontwerp om soos jou ou XT te lyk. Maar glo my, en ek het self ‘n XT gery, my XT kon nie stop of versnel of bane verwissel soos hierdie outjie nie. ABS is standaard. Brandstofinspuiting en daardie vet Pirelli bane… man, dis pure pret!

Bikergirl ·

Duh…dis veronderstel om so te Lyk Bertus . Retro, Cafe racers en Bobbers is nou se aan die orde van die dag. Kyk ook na die BMW R NINETY .
De ou XT 500’s is collectors items met pryse tot en met r 50 000 ren volle gerestoureer. (ek is in die motofiets beryf – daarvan my kennis)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.