Hier is die toptien-passasiersmotors in SA

Volkswagen (Foto: Facebook)

Tradisioneel is April ’n swak verkopemaand vir die voertuigbedryf, maar desondanks het die totaal van 36 346 eenhede gedui op ’n verbetering van 1 260 verkope teenoor April verlede jaar. Dit was veral die passasiersmotorkomponent wat goed gevaar het met ’n totaal van 23 928 – ’n verbetering van 1 438 eenhede.

Ligte handelsvoertuie, daarenteen, het ietwat gesukkel, en die 10 580 eenhede wat verkoop is was 127 minder as ’n jaar gelede.

Die toptienlys het min verrassings opgelewer en Toyota bly in die eerste plek met ’n totaal van 8 213 – drie duisend eenhede minder as in Maart vanjaar. Toyota se uitgebreide modelreeks van 20 (Lexus ingesluit) het deur die bank gesukkel en net Hilux (2 679) en Quantum (1 021) kon die viersyferkerf haal. Die Lexus-reeks het in totaal ’n beskeie 48 verkope aangeteken.

Ook by Volkswagen – wat steeds tweede is – het die totaal van 6 261 verkope die oë laat rek omdat dit neerkom op ’n daling van nagenoeg 1 300 eenhede. Oudergewoonte was Volkswagen se presteerders die Polo Vivo (2 143), gevolg deur Polo op 1 907 verkope en Tiguan wat met sy 424 verkope steeds Toyota se RAV (337) gemaklik troef.

Ondanks ’n verkopedaling van meer as twee duisend eenhede klou Ford SA steeds aan sy derde plek onder die toptien met 3 570 verkope wat sterk steun op Ranger (2 372). Dis eintlik verstommend dat die res van die Ford-span (sewe modelle) vir die balans moes sorg.

Intussen blaas Nissan (3 403) sterk in Ford se nek ondanks ’n daling van 2 007 eenhede in sy eie

totaal. Nissan steun sterk op sy NP200 (1 058), maar sy 11 passasiersmodelle sukkel maar voort – met uitsondering van Datsun GO wat 447 nuwe eienaars se harte gesteel het.

Die vyfde plek in die toptien behoort steeds aan Hyundai met 2 633 verkope – ’n geringe daling van nagenoeg 400+ eenhede. Hyundai se uitblinkers was weer eens Grand i10 (1 013) en Creta wat goed vaar met 611 eenhede wat verkoop is.

Die eerste Franse vervaardiger/invoerder, Renault, het van sewende tot die sesde plek opgeskuif ondanks ’n verkopedaling van nagenoeg 300 eenhede vir ’n totaal van 1 611. Renault neem hiermee die plek in van Mercedes-Benz (1 385) wat na die agtste plek afskuif te midde van toenemende kommer oor bougehalte. Renault maak staat op Kwid (693) en Duster (261) om sy totaal mee op te kikker

BMW, wat in Maart in die agtste plek was, skuif met sy totaal van 1 393 verkope bo Mercedes-Benz in. BMW se topverkopers is weer eens sy 3-Reeks (502), wat nie meer plaaslik gemonteer word nie, en die X3 (244) wat nou by Rosslyn digby Pretoria gebou word. Die oulike maar peperduur X2 (41) het ook nie juis die verbeelding aangegryp nie, en baie kopers is klaarblyklik van oordeel dat dieselfde, of beter, gehalte teen ’n beter prys elders beskikbaar is.

In die negende plek staan Isuzu steeds redelik sterk, al is daar net een model (KB). Isuzu se totaal van 1 310 is ook nagenoeg 200 eenhede swakker as in Maart.

KIA (1 304) blaas toenemend in Isuzu se nek ondanks ’n eie daling in verkope van meer as 200 eenhede. Uitblinkers vir KIA was Picanto (798), Rio met 246 verkope en Sportage wat darem 114 kopers kon oortuig.

In sekere opsigte was April ’n dramatiese maand met Fiat/Alfa Romeo en Chrysler/Jeep wat hul samesmelting finaliseer en nie in staat was om aan Naamsa verslag te doen oor hulle verkope nie. Daar word bereken dat hulle totaal in die orde van 350 eenhede was.

Onder die invoerders wat buite die toptienlys beweeg, het Mazda uitstekend gevaar met ’n indrukwekkende totaal van 1 294 wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan CX-3 en CX-5 (beide 378) en die BT-50 bakkie wat met 106 verkope die eerste keer die toptienlys vir ligte handelsvoertuie haal.

Volvo Cars sal redelik tevrede voel met sy 207 verkope waarvan 36 toegeskryf kan word aan die XC90 wat in 2016 motor van die jaar was en waarvan die prys meer as R1,2 miljoen is.

Jaguar/Land Rover sal beslis wil verbeter op sy 305 totaal, terwyl Mitsubishi Motors ook baie beter kan doen as sy 123 verkope. Veral die skitterende Pajero Sport verdien ’n grote skyf van die verkopekoek.

Honda se totale verkope van 446 eenhede kan aan twee redes toegeskryf word; sy modelreeks begin verouderd raak en is terselfdertyd te duur. Dit verklaar waarskynlik ook waarom kopers in groot getalle na Mazda en in ’n mindere mate na Suzuki oorskuif. Laasgenoemde sal ook besorg wees oor sy Maart-totaal van 1 011 wat in April slegs 697 was.

Ekonome verwag steeds dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met 2% kan groei, wat sal beteken dat 2018 se voertuigverkope met tot 3% kan verbeter – gemeet aan die 2017 totaal.

Toptien-passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo Vivo: 2 143
  2. Volkswagen Polo: 1 907
  3. Hyundai Grand i10: 1 013
  4. Toyota Fortuner: 879
  5. KIA Picanto: 798
  6. Toyota Corolla/Auris/Quest: 771
  7. Toyota Etios: 729
  8. Renault Kwid: 693
  9. Hyundai Creta: 611
  10. BMW 3-Reeks: 502

Toptien- ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux: 2 679
  2. Ford Ranger: 2 372
  3. Isuzu KB: 1 071
  4. Nissan NP200: 1 058
  5. Nissan NP300: 370
  6. Nissan Navara: 261
  7. Volkswagen Amarok: 208
  8. Toyota Land Cruiser PU: 192
  9. Mahindra Scorpio Pik Up: 130
  10. Mazda BT-50: 106

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Goeie aanbieding van vervelige syfers dankie.
…toenemende kommer oor Mercedes se bougehalte? Eish!

Vraagteken ·

Like! Mercedes se bougehalte is al swak vir die afgelope 15 jaar. Dieselfde geld vir jou BMW’s en Audi’s. Na 5 jaar is dit asof hulle uitmekaar val.

anton ·

Ja want daar is nie meer n ander klein goeie bakkie op die mark nie nadat Chev nou ontrek het.
Dus koop almal nou maar die Renault NP200……..skies Nissan.

Johann ·

OOPSI… die syfers beslis VOOR VW my as blanke klient uitgesluit het met hulle blatante anti blanke sentiment! Tatta nuwe TIGUAN, halo VOLVO.

Uitroepteken ·

‘Vraagteken’ ek dink jy praat bollie. Ek het ‘n BMW325i gery vanaf 2007 tot 2015 sonder ENIGE probleme. Na 7 jaar moes slegs die battery vervang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.