Hierdie bakkies verkoop die meeste

draadkarSuid-Afrika se Groot Vyf wat bakkieverkope betref, spook steeds genadeloos sake uit met die verwagting dat die onlangse staking in die motorbedryf groot skade ten opsigte van September se verkope gaan aanrig.

Ons land se gewildste bakkie, Toyota se Hilux, het weer eens bewys gelewer dat selfs ‘n ietwat lank in die tand voertuig steeds kopers se verbeelding aangryp. ‘n Konstante verkopegroei die afgelope drie maande tot ‘n indrukwekkende totaal van 10 354 eenhede besorg dan weer eens aan Toyota die boonste plek op die podium.

Die maatskappy se Juniesyfers het afgeskop met ‘n reuse 3 070 verkope vir die Hilux, gevolg deur 191 kopers wat vir die Land Cruiser PU gestem het.

Julie se syfers was ewe indrukkend vir Hilux met 3 159, terwyl die Land Cruiser se aandeel ietwat gesak het tot 154 voertuie.

Maar dit was in Augustus dat Toyota die krane oopgedraai het en Hilux 3 339 verkope aangeteken het, terwyl Land Cruiser ook netjies presteer het met 441 verkope.

Benewens hierdie indrukwekkende verkopesyfers wat die Hilux in Augustus ook Suid-Afrika se topverkoper-voertuig – nieteenstaande die markteenwoordigheid van ‘n hele reeks sogenaamde ‘intreevlak’ passasiersmotors.

In die tweede plek en dalk ietwat meer as ‘n kortkop agter Toyota is die Ford Ranger met ‘n totaal van 5 198 eenhede verkoop die afgelope drie maande. Hierteenoor het Ford se stiefkind (en binnekort onafhanklik) die Mazda BT-50 ietwat gesukkel met totale verkope van 539 oor drie maande. Dis minder as 10% van grootboet Ranger se syfers.

Anders as by Toyota wat elke maand konstant gegroei het (Hilux) is Ranger-verkope ‘n redelike wipplankryery. In Junie is 1 627 verkoop, 1 876 in Julie en 1 695 in Augustus. Ten minste het Mazda liggies gegroei of konstant gebly met verkope van 173 eenhede in Junie en 183 in Julie asook in Augustus.

Dit bring Ford/Mazda se totaal op ‘n heel skaflike 5 737 eenhede te staan.

Die derde plek op die podium behoort oudergewoonte aan General Motors se Isuzu KB-reeks met totale kwartaallikse verkope van 3 830 eenhede. Alhoewel redelik beskeie, het Isuzu darem elke maand geringe groei getoon soos sal blyk uit die Juniesyfers (1 012), Julie se 1 379 en Augustus se 1 439 eenhede.

Dit besorg aan GM ‘n gemaklike voorsprong van amper 1 000 eenhede – gesien teen die agtergrond van Nissan se totaal van 2 967. In Junie het Nissan 600 eenhede van die NP300 en 166 van die Navara verkoop, terwyl Julie se syfers nog beter gelyk het met 916 vir die NP300 en176 vir die Navara. Augustus se totale verkope het min verandering getoon met die NP300 wat 883 nuwe eienaars gekry het, teenoor 226 wat Navaras gekoop het.

Die enigste ander ‘groot’ rolspeler in die Suid-Afrikaanse bakkiemark, die Volkswagen Amarok, toon elke maand geringe verbetering wat verkope betref, maar is steeds nog ver agter wanneer dit met sy mededingers vergelyk word. Trouens, daar word nou al openlik gesê die Amarok is eintlik vir die gentleman farmer met die sagte handjies en die groot beursie wat af en toe sy wildsplaas wil kom besoek.

In Junie was Amarok-verkope maar 365 eenhede, met ‘n verbetering (412) in Julie en ‘n verdere verbetering in Augustus toe 430 eenhede van die hand gesit is. Dit bring dan ook Amarok se totaal op 1 207 te staan; bietjie meer as ‘n derde van wat Toyota in een maand verkoop.

Onder die ander kleiner markmededingers het Mahindra stil-stil, amper soos die Guptas, hul markaandeel opgestoot tot 589 eenhede wat bestaan uit verkope van 176 in Junie, 185 in Julie en 228 in Augustus. Dis nou ten opsigte van Scorpio en Bolero.

In die laaste plek is Associated Motor Holdings se Mitsubishi Triton-reeks waarvan altesaam 283 eenhede die afgelope kwartaal verkoop is. Hierdie totaal het bestaan uit 129 in Junie, 143 in Julie en 111 in Augustus.

Nou is alle oë gerig op die September-syfers en die uitwerking van die stakings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.