Hilux GR Sport: Dié bielie bult spiere

Toyota Hilux GR (Foto: Verskaf)

Akio Toyoda, Toyota se president, het ʼn paar jaar gelede aan ʼn wedren tussen die wêreld se voorste motorvervaardigers deelgeneem. Elkeen het hul vinnigste en beste model gebring om aan die wedren deel te neem. Toyoda moes ongelukkig in ʼn twintig jaar oue Toyota Supra deelneem. Hy het net daar besluit dat Toyota moet ophou om vervelige rygoed te maak, en terugkeer na hul suksesse van dekades heen.

Toyota het toe al hul onderskeie motorsport-bene onder een naam saamgesmelt: Gazoo Racing. Dit sluit in al die vorige TRD’s, Gazoo, die Formule 1-manne, WEC, WRC, de lot. Hul taak was om voertuie te maak waaroor mense weer begin gesels en op verlief raak.

Toyota was nog altyd in Japan gewild vir die feit dat hul motors met bietjie gevroetel vuurvretende monsters kon word. Ná Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika se onlangse suksesse in die Dakar-tydren, sou ek ook bietjie wil spog.

Welkom aan Toyota se nuwe Hilux GR Sport.

GR staan vir Gazoo Racing. GR Sport is die tweede vlak op hul produkskaal en behels visuele en veringopknappings. Ek is nie seker van een van die visuele opknappings in die vorm van die plakkers nie, maar die groot TOYOTA op die sierrooster is vir sommige baie mooi.

Toyota Hilux GR (Foto: Verskaf)

Die GR Sport is slegs in Gazoo Racing se kleure beskikbaar: Glacier White, Arizona Red of Attitude Black. Al drie kleure kry wel ʼn swart enjinkap en dak. Die spieëls, rotsglystawe, wielboogomhulsels en wiele is almal swart. Die GR Sport kry sy eie pasgemaakte 17”‑sierwiel.

Die binneruim kry verskeie rooi aksente om jou GR Sport Hilux uniek te maak tussen sy boeties. Daar is swart leerbekleedsel met rooi stikwerk en GR‑embleme op die sitplekke. Elke GR Sport kry ʼn beperkte weergawe produksienommer, aangesien daar net 600 in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees.

Die GR Sport geniet ook die nuwe inligtingstelsel met sy draai knoppies en navigasie soos in die Legend 50‑reeks.

Die Hilux GR Sport is slegs in 2.8 GD-6 4×4 outo beskikbaar en bied 130 kW en 450 Nm. Waar die GR Sport uitblink is in sy vering. Die agterste bladvere is onveranderd – maar die skokbrekers is nuut en uniek aan GR. Voorste kronkelvere is aanvanklik stywer, maar die beter skokbreker stel die onderstel in staat om beter met ʼn ondeunde pad oor die weg te kom. Die GR Sport het aansienlik beter padhouvermoë op ʼn grondpad as die standaard bakkie, maar dit is vir my te hard. Wanneer ons ʼn tydjie met die GR Sport in die dorp deurbring, sal ek sien hoe hy hom op die teerpad gedra.

Die reeks lyk só:

Hilux 2.8 GD-6 4×4 GR Sport 6AT                                                R707 400

Die reeks word deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑waarborg en 9 dienste/90 000 km‑diensplan gedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

C.J.P. ·

Nou waar is die “bielie” se spiere dan, 130 kW en 450 Nm? So jy betaal R50 000 meer vir plakkers op die kant en ‘n ander sierrooster? Nee dankie…

Siener ·

Ek stem saam. Soos Toyota se President sê” Vervelige rygoed” Miskien moet hy agter die stuur van ‘n Ranger klim en sien wie gee die pas aan wat veiligheids eienskappe en Performance betref. Mooi wiele en stickers het Ford al 5 jaar terug gedoen.

Koos ·

En moenie die nuwe skokbrekers vergeet nie!
Toyota soek iets om die Raptor te veto en het niks in hul stal om dit dadelik reg te kry nie, daarom die GR.

Jaco ·

Wel teen 150kw en 500nm is dit heelwat beter as die TOY en moenie vergeet van die 10 spoed ratkas nie. So hy sterk genoeg en sommer sterk genoeg vir al daai stickers wat julle so pla????????

Piet ·

Nee wat toyota, gaan slaap maar. Net n paar plakkers, ens ekstra. Julle reklame is slegs oraait.

Chris Ws ·

Die Ford Ranger Raptor is in ‘n heel ander klas die’ Toyota GZ Sport .Ford DOEN Toyota PROBEER net.
Daar kom “sports” met die nuwe Ford Rangers wat in FIA (Dakar) spesifikasie gebou word vir veldrenne.Toyota se Gazoo Racing manne sal hul storie moet ken in die toekoms!

chrisjan ·

“Die bielie bult spiere” ?? Met ‘n standaard 2.8D Hilux enjin??Agge neewat.Dis ‘n geldmaak foefie die!Die Hilux V6 sal ‘n beter opsie wees as mens gerief en spoed soek.Toyota kn BAIE beter gedoen het as dit.Probeer maar weer Toyota.Teleurstellend om die minste te se.
Ford het die regte ding GEDOEN en die Ranger Raptor geboorte gegee.Geen plakkertjies om hom op te dollie nie.Maar hy DOEN.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.