Hoe die brandstofprys bereken word

Deur Rika Nieuwoudt

(Argieffoto)

Die meeste Suid-Afrikaners bevind hulle  gereeld by ʼn vulstasie om brandstof in hul motors te gooi.

Wat kos dit jou en waarvoor word die geld aangewend? ʼn Verhoging in die brandstofprys raak elke individu, hetsy jy van persoonlike of openbare vervoer gebruik maak. Die verhoging kan ook beteken dat goedere wat ingevoer of vervoer word se pryse styg – waarvan die eindverbruiker die lading moet dra – en daarom is dit nodig om te verstaan watter elemente die brandstofprys kan beïnvloed.

Die prys vir een liter brandstof word bepaal deur vier hoofelemente, twee indirekte belastings, die basiese brandstofprys en verspreidingskoste. Die indirekte belasting is redelik vas en kan slegs verhoog of verlaag word deur ʼn amptelike aankondiging deur die minister van finansies. Al twee die ander komponente is die veranderlike elemente wat in die meeste gevalle ʼn verandering in die brandstofprys veroorsaak.

Die basiese brandstofprys word bepaal deur die koste wat verband hou met die aankoop en verskeping van petroleum vanaf die Mediterreense gebied, die Arabiese Golf en Singapoer. Hierdie koste sluit die koste vir versekering, vraggeld, voorsiening vir verliese in die oseaan en kaaigeld (aflaai en stoorkoste) in. Die basiese brandstofprys word gekwoteer in Amerikaanse dollar per vat, en is daarom afhanklik van die rand­-dollar-wisselkoers.

Die vervoer en verspreidingskoste dui op die koste om verfynde petroleumprodukte vanaf die kusraffinaderye na binnelandse depots te vervoer, doeane- en aksynsverpligtinge, kleinhandelmarges aan vulstasie-eienaars, en sekondêre stoorkoste. Die vervoer- en verspreidingskoste na die binneland beloop tans 356,9 sent (R3,57) per liter. Vervoerkoste vir binnelandse brandstof verskil teenoor dié van die kus, en daarom is die brandstof langs die kus in die meeste gevalle goedkoper as in die binneland.

Amper 35% van die koste van ʼn liter brandstof is toeskryfbaar aan belasting, ʼn algemene brandstofheffing en die padongeluksfondsheffing. Die algemene brandstofheffing is in Februarie 2020 361 sent (R3,61) per liter en word volgens die minister van finansies met 16 sent tot 377 sent per liter verhoog.

Rika Nieuwoudt.

Hierdie belasting word as ʼn algemene belasting behandel en nie, soos baie mense aanvaar, vir padverwante uitgawes nie. Die belastingheffing aan die Padongeluksfonds (RAF) is een van die grootste inkomstestrome daarvan. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) administreer die mandjie brandstofheffings en betaal dit aan die RAF ooreenkomstig die tersaaklike statutêre bepalings. Tydens die begrotingsrede het die minister van finansies, Tito Mboweni, ʼn verhoging in die padongeluksfondsheffing van 9 sent per liter aangekondig, en hierdie heffing sal die brandstofprys in April 2020 tot 207 sent per liter verhoog.

Die verhoging in brandstofheffings het tot gevolg dat die algemene verbruiker vanaf April 2020 ʼn minimum van 25 sent per liter meer sal betaal, en die verhoging kan selfs nog hoër wees, afhangend van hoe die rand teenoor die dollar presteer, en hoe ander gebeurtenisse soos onder andere die koronavirus en die versterking van internasionale markte die vraag en aanbod van petroleum beïnvloed.

Uiteensetting van 95 loodvrye oktaan (binnelands) per liter (Maart 2020)

Basiese brandstofprys                                  = 667,97

Vervoer en verspreidingskoste                  = 356,90

Algemene brandstofheffing                        = 361,00

Padongelukkefonds                                       = 198,00

Totale brandstofprys                                    = 1583,87 (R15,84)

Bronne:

Padongelukkefonds: https://www.raf.co.za/Pages/Default.aspx

Outomobiel Assosiasie – https://www.aa.co.za/

Departement van energie – http://www.energy.gov.za/files/esources/petroleum/petroleum_arch.html

  • Nieuwoudt is die programkoördineerder van BCom (Bestuursrekeningkunde) by Akademia

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gato ·

Die 356,90 sent per liter sluit ook die Groothandel en Kleinhandel winste in.
Ook interessant is dat die Groothandel wins op Diesel 74.6 sent per liter is teenoor 35.7 sent per liter vir Petrol en dan kan die kleinhandelaars self besluit hoeveel wins hulle wil bysit op die Diesel prys want dit word nie gereguleer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.