Honda Africa Twin Adventure Sport – Groter en beter

Die Honda Africa Twin Adventure Sport. Foto: Brian Cheyne

Die Honda Africa Twin is een van daardie fietse waarvan verkoopsyfers nie noodwendig die fiets se vermoë reflekteer nie. Om 30 jaar van die Africa Twin te vier en vars lewe in die reeks te blaas, het Honda onlangs sy verbeterde Africa Twin Adventure Sport uitgebring. Ek het so ʼn paar dae met dié nuweling deurgebring.

Die Adventure Sport vertoon heelwat groter as die standaard Africa Twin. Dit is te danke aan ’n groter brandstoftenk en vering wat nou 20 mm meer strek bied. Waar die standaard fiets 18,8 ℓ se voggies saamdra, dra hierdie een 24,5 ℓ. Die vering gee die fiets ook heelwat meer grondvryhoogte, maar lig ook die saal na 900 mm. Jy kan dit selfs nog hoër stel, so as jou sterk punt nie jou lengte is nie, gaan hierdie fiets dalk nie jou kortlys haal nie.

Die Honda Africa Twin Adventure Sport. Foto: Brian Cheyne

Die profiel van die fiets kry ook ’n nuwe aansig met ’n platter saal en is afgewerk in die kleure van die oorspronklike Africa Twin van die jare 80. Die windskerm is langer en bied meer beskerming, maar is steeds nie verstelbaar nie. Daar is ook ’n herontwerpte instrumente paneel en Honda het die elektronika verder verfyn. Verhitte grepe en ’n 12 V-sok is standaard.

Die nuwe instrumentepaneel is steeds ’n vloeikristaleenheid, maar dit is nou heelwat uitgebrei en is swart met wit letters. Dit bevat ’n magdom informasie, en in die week wat ek die fiets gery het, het ek steeds nuwe funksies ontdek. Die paneel sit knus onder ’n klein afdakkie wat help om dit meer leesbaar in direkte son te maak.

Die Honda Africa Twin Adventure Sport. Foto: Brian Cheyne

Omdat hierdie fiets ’n elektroniese versneller het, kon Honda sy ryprogramme omvattend uitbrei. Enjinkrag, enjinremming en traksiebeheer kan elkeen afsonderlik verstel word. Die traksiebeheer is verstelbaar deur sewe vlakke en kan ook afgeskakel word sou jy oor die nodige vaardighede beskik.

Die Africa Twin is toegerus met ’n 21”-voorwiel met speke en ʼn beskermende pensplaat. Stewige pype omvou die voorkant van die fiets en behoort genoeg beskerming te bied, sou hy omval. Die Africa Twin bevat dus al die elemente van ’n ordentlike vrotpadfiets. Die hoogte van die fiets maak rowwe terrein nogal senutergend. Hierdie model was toegerus met Honda se dubbele koppelaar ratkas (DCT) en persoonlik hou ek baie van hierdie ratkas.

Die Honda Africa Twin Adventure Sport. Foto: Brian Cheyne

In tegniese terrein vaar die ratkas verbasend goed, want dit is een minder element om oor te kommer. In swaar verkeer vaar hy egter nie so goed nie. Ek het heeltyd gevoel ek is in die verkeerde rat. Die oplossing is om hom uit outomaties te haal en self ratte te verwissel. Die Honda-ergonomie was egter die vlieg in die salf. Die kontroles op die linker handvatsel is seker my grootste kritiek teen die fiets. Om af te rat, druk jy die knoppie waar ek die toeter verwag. Om op te rat, trek jy die knoppie wat ek tradisioneel met ligte flits assosieer. Dit het beteken dat ek in ’n oomblik van padwoede met mening ratte verwissel het. Selfs die flikker en toeter knoppies is omgeruil.

Die Honda Africa Twin Adventure Sport. Foto: Brian Cheyne

Maar die stad en die N1 is nie waar die Adventure Sport wil wees nie. Hy wil in die ooptes wees, en hier skitter die ratkas. Ratskakeling gebeur amper onopmerklik. Die windskerm kry dit goed reg om die wind van jou af te hou en jou ryposisie is ontspanne en die handvatsels breed. Dit is so gemaklik dat ek ’n punt daarvan moes maak om my spoedmeter dop te hou. Jy kry nie die sensasie dat jy vinnig ry nie, maar jy hoef net na die spoedmeter te kyk om te weet jy is al lankal in die moeilikheid.

Die Africa Twin is ’n baie gemaklike langafstandfiets, want die saal bied baie ondersteuning en beweegruimte. Honda beweer dat met die groter tenk jy maklik ’n reikafstand van 500 km kan haal. Met meer gemak, groter reikafstand en beter vrotpad vermoë bied hierdie fiets baie vir die prys.

Kyk hier na die produkblad.

Die feite:

Enjin998 cc parallel twee
Gewig ( Nat )253 kg
Kraglewering70 kW  @ 7 500 rpm
Wringkrag99 Nm @ 6 000 rpm
Tenk kapasiteit24,2 ℓ
Saalhoogte900/920 mm (verstelbaar)
Diensinterval12 000 km
PrysR 217 490

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anton ·

Baie mooi fiets moet ek sê!
Maar nou wonder ek…….BMW se 850 Gs sit ook 70 kw uit.
Is dit dus baie goed van BMW se 850 of bietjie swak van Honda se 1000cc

Hendrik van George ·

My voorspelling is dat die Africa Twin in 2020 n 1100cc of selfs groter enjin sal hê. Die BMW 850 en KTM 690 maak dieselfde perde, en Honda sal dié fiets tussen die BMW 850 en BMW 1250 wil hou.

Karel ·

Anton
Honda het hul ontwerpers-filosofie oor die AT uit die staanspoor goed uiteengesit. Die AT is ontwerp om optimaal op grondpad in die 800cc ADV mark te kompeteer, nie teen hoër-werkverrigtingklas fietse nie. Maar die AT se hoër (as die 800cc s’n) wringkrag is koning op die grondpad:

“This pragmatic, torque-rich mantra that Honda has been following for many of its recent engines feels dull sometimes, but for the dirt it’s absolutely perfect. The Africa Twin does not even come close to matching bikes like BMW’s R1200GS or KTM’s 1190 Adventure for raw power, but where those Euro elites can sometimes feel like wild and loose hot rods in the dirt the Honda feels terrific. Power is ultra linear, easy to use, and you never even dream of revving it anywhere near the ceiling”

Op grondpad hanteer die AT makliker as die groter 1200c klas ysters agv sy kleiner gewig. Die verwagting is ook dat die 1000cc @70kW nie so hard werk soos die 800cc @70kW nie, dus langer enjin leeftyd.

Hier’s n baie goeie vergelykende veldtoets tussen die Honda Africa Twin, BMW F800S en Triumph Tiger XC800: (soek compare Africa Twin F800 Triumph 800 en kies die motorcyclistonline resultaat)

Gys ·

Daar is maar min dinge so mooi soos n mooi geweer, motorfiets of vliegtuig. Jip, dit is selfs mooier (en goedkoper, en lekkerder om mee te speel, en minder probleme) as DIT.

Loutjie Maritz ·

Ek ry die 2017 AT en voorheen die BMW 1200 GS Adv. My beskeie mening is dat ek nie maklik sal terugkeer BMW toe nie. Awesome fiets met n onheilspellende grom klank.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.