Honda NC 750 X – Steeds die pendelkoning

Die Honda NC 750 X. Foto: Brian Cheyne

As mense my vra watter motorfiets ek sal aanbeveel vir iemand wat lanklaas motorfiets gery het, of wat begin pendel werk toe, was my standaard antwoord altyd: die Honda NC 700 of NC 750.

Drie jaar gelede was ek by die bekendstelling van die NC 750 X en dit het net my opinie versterk. Noudat ek so week met een deurgebring het, oorweeg ek dit sterk om een vir myself aan te skaf.

NC staan vir New Concept, en as ʼn mens na die fiets kyk is dit duidelik waar die benaming vandaan kom. Hoewel dit die afmetings en uiterlike voorkoms van ’n motorfiets het, skuil daar ’n paar verassings op die NC.

Die Honda NC 750 X. Foto: Brian Cheyne

Die NC is uit die staanspoor ontwerp vir ekonomie en gerief. Vir die ekonomie het Honda sy bewese enjin uit die Honda Jazz-motortjie gelig en in twee gesaag. Die parallel twee enjin lewer 54 perdekrag teen 6 250 revolusies per minuut en is ver vorentoe gekantel. Ek het ’n week lank in verskeie toestande gery en my gemiddelde brandstof verbruik was 3,3 liter per 100 km. Die brandstoftenk sit onder die saal en hou maar 14 liter, maar met die ekonomiese enjin behoort jy maklik 400 km per tenk te kry.

Die rede hoekom die enjin vorentoe gekantel is en die brandstoftenk onder die saal sit, is omdat die NC ’n groot paneelkissie het waar die brandstoftenk gewoonlik sit. Hierdie spasie is groot genoeg om ’n volgrootte valhelm te sluk en sal meer as genoeg pakplek bied as jy gou wil gaan brood en melk koop. Bo-op die tenk is daar ook plastiekinsetsels wat dit maklik maak om iets daarop vas te maak soos ’n tenksakkie.

Die Honda NC 750 X. Foto: Brian Cheyne

Die ryposisie is regop en neutraal. Dit maak dat jy lang afstande kan aflê met gemak. Die NC het ’n klein, nie-verstelbare windskermpie wat verbasend goed werk om die wind van jou af te hou. Die saal bied genoeg ondersteuning en is 83 cm hoog.

Die instrumentasie is ’n klein vloeikristaleenheid. Dit het wit letters op ’n swart agtergrond en die toereteller verander van kleur soos die toere klim, maar is ongelukkig nie so duidelik helder oordag nie. Dit het ’n klein plastiekdakkie oor wat help, maar in helder sonskyn is die skerm moeilik om te lees. Dit bevat baie inligting vir so ʼn klein eenheid en ek het veral gehou van die brandstofverbruiksyfer.

Die Honda NC 750 X. Foto: Brian Cheyne

Op die pad is die NC werklik ʼn fees om te ry. Hoewel die verrigting nie juis aardskuddend is nie, is die kraglewering meer as genoeg vir alledaagse gebruik. Op 120 km/h tol die enjin teen ’n lae 3 500 revolusies per minuut en die enjin is heeltemal vry van vibrasies. Daar is ook genoeg woema vir ’n vinnige verbysteek. Die fiets het net een skyf voor maar ek het nooit getwyfel oor die remme se vermoë om die fiets tot stilstand te dwing nie. Die 2019-model kom nou ook met tolbeheer as standaard.

Die NC is beskikbaar met ’n ses-spoed ratkas of met Honda se DCT outomatiese ratkas. Laasgenoemde sal die NC nog meer moeitevry maak. Die NC750X is prakties, gemaklik en belaglik lig op brandstof. So, as jy ’n pendelfiets soek wat ewe gemaklik op naweke langer afstande kan aflê, dan kan jy maar met ’n geruste hart ’n NC aanskaf.

Produkblad:
 https://www.honda.co.za/motorcycles/nc750x

Prys:
NC 750 X – R 105 999 (R 100 999 sonder tolbeheer)
NC 750 XD – R 113 999 (Beskik oor DCT-ratkas)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gys ·

Lyk na ‘n fantastiese motorfiets, veral teen daai prys.
Honda het nog altyd goeie motors en fietse gemaak.

Ek sal egter ‘n avontuurfiets vir mense aanbeveel.
Dit hoef nie noodwendig ‘n BMW of KTM te wees nie, enige kleinerige avontuurfiets.
Dan kan jy darem oor naweke bietjie grondpad ook gaan ry, of selfs ‘n lekker trippie deur die Karoo. So saam met die manne. :):):)
Driekwart van ons paaie is immers grondpad.

Hendrik ·

As iemand wet ELKE dag pendel (9000km/jaar), wil ek net een stuk raad gee: Moenie ‘n fiets met ‘n ketting koop nie. Dit benodig weeklikse onderhoud en raak nogal gou ongemaklik as die slytasie begin optel.

Jack Klok ·

‘n Ketting is die mees doeltreffendste met kragoordraging maar hou nie van stof en ander vuiligheid nie. Ek onthou vroeër jare het NSU en Jawa? hulle kettings met ‘n stofskermkas teen die elemente beskerm. In vandag se tydsgees van “sportiewe vertoon is alles” is sulke skermkaste nie aanvaarbaar nie. Harly Davidson het lankal weg beweeg van kettings en gebruik getande aandrywings bande. Dit verg minder instandhouding maar kom nie by geslote as-aandrywing nie. Laasgenoemde is duurder om the vervaardig maar bespaar jou op die lange duur. As daar een stelsel was wat slegs voordele en geen nadele gehad het nie sou almal dit gebruik het, nie waar nie?

Vraagteken ·

Hi Hendrik, iets maak nie sin met jou kommentaar nie. Dalk kan jy raad gee? Suzuki reken die GSXR’s se ketting moet elke 1000km gediens en geolie word. Met jou hoeveelheid kilo’s behoort jy jou ketting net een keer ‘n maand te onderhoud. Is jy seker jou ketting is nie al klaar verby sy lewe nie?

Boerboel ·

Kettings moet tenminste elke 500 km gesmeer word. Gebruik eerder n’ wax as die lube. Ek het 60 000 km uit n’ ketting gekry met goeie instandhouding, maar stem saam dis baie aandag en is altyd vuil. As jy nuwe ketting koop vra vir n” O ring” hou baie langer, onthou om die klein rat en groot rat ook te vervang. Wens hulle kan die ou “shaft drives ” weer terug bring , baie min instandhouding nodig.. Baie belangrik vir ketting lewe is die vry spanning. Dit moet ten minste elke 1000 km gedoen word.

marco polo ·

Ek stem saam, Boerboel. Ek smeer my motorfiets se ketting elke 4-500km en ook as ek in die reen gery het. Die spanning op die ketting word gereeld nagegaan en verstel. Ek het pas n lang rit in die suide van China onderneem, met baie reen en nat paaie, en ek het gereeld die ketting ge’lube’, maar met my terugkoms was dit effens gerek en ook tyd vir my fiets se diens. As jy na n ketting omsien, sien dit na jou om.

Vraagteken ·

So as ek na Dullstroom ry vanaf Jhb vir ‘n ‘day-out’, moet ek dan spesiaal ‘n blik olie saamvat? Julle interval is te kort…

Moet asb nie vir my sê dat jy ooppad ry en dus benodig jy dan nie die olie halfpad in Dullstroom nie, want daardie wax olie word sag sodra hy warm word wat beteken dat hy juis makliker van die ketting sal afgaan.

Die grootste probleem is mense maak die ketting verkeerd skoon, en hulle smeer hom terwyl hy nat is (met water).

marco polo ·

Vraagteken, ek ry met ‘n blik kettingolie saam en sal selfs na ‘n 200km rit in die reen olie opspuit. Maar ek moet ook se, waar ek bly is dit baie nat en meeste van my trips deesdae is in die reen.

Lag net ·

Ek en my vrou het, elkeen met ons eie NC 750, sopas ’n toer van 3000 km vanaf Pretoria na die Weskaap en terug gedoen. Dit was die derde keer wat ons met hierdie motorfietse dit gedoen het. Laasjaar se toer was oor die 4000 km. Was net ’n plesier en ons kan nie wag vir die volgende toer nie.

NC700 ·

Ek het ‘n NC700 wat ek nuut in 2013 gekoop het vir R65 000. Hy het nou 60 000km op die klok en hy is nog soos nuut! Pendel gereeld met hom, en ek het al verskillende toere gedoen, onder andere die Weskus, Kaapstad, deur die Karoo en Mpumalanga. Was nog nooit spyt oor die oulike fiets nie en kan hom regtig aanbeveel. As mens vir adrenalien soek, dan is die fiets nie vir jou nie. Maar as jy na ‘n fiets soek vir lekker ry, goeie brandsofverbruik en praktiese gebruik is dit die regte fiets. My gemiddelde brandstofverbruik is 3l/100km

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.