Honda se veeldoelige voertuie die beste?

Die Honda BR-V Elegance. Foto: Verskaf

Honda is een van die voorvaders van die veeldoelige voertuig. Dink aan ʼn luikrug, ʼn bietjie langer, effe meer regop met slim verpakking – en skielik is daar baie meer spasie in die kajuit. Renault se Scenic was só ʼn veeldoelige voertuig wat die mark op hol gehad het in die vroeë 2000’s.

Twee van Honda se produkte staan vir my uit as puik veeldoelige voertuie… die Jazz en die BR-V. Baie vervaardigers het opgegee op die veeldoelige voertuig en jaag die allerbelangrikste sportnutsvoertuig. Maar hulle vergeet een ding:- daar is gesinne wat ʼn tweede, kleiner buksie soek met sewe sitplekke. Hulle is nie op die knapste begroting nie, en soek ʼn motor wat vir jare en jare sal hou… Die Honda BR-V is presies daai motor.

Die Honda BR-V Elegance. Foto: Verskaf

Die ontwerp is glad nie lelik nie. Effe langer as ʼn luikrug, maar glad nie soos die ou stasiewaens wat ʼn mens in Amerikaanse flieks van die tagtigerjare gesien het nie. Daar is mooi chroomafwerkings en sierwiele… baie netjies.

Die BR-V in die spesifikasie wat ons gehad het om te toets, die Elegance, begin aan die binneruim sy staal wys. Sewe netjiese leersitplekke en goeie bougehalte. Die Honda is Japannees, so ons moet nie te veel gepla word deur die meer duursame en harde plastiek nie. Honda se stuurwiel pas lieflik in jou  hand, en die rathefboom is perfek ergonomies uitgelê.

Die Honda BR-V Elegance. Foto: Verskaf

Daar is elektriese vensters, dubbelsone klimaatbeheer wat die agterste passasiers self aan en af kan skakel. Twee funksies wat effe tekortskiet in die BR-V is die gebrek aan Apple CarPlay en Android Auto en die flikkerligte wat nie self drie keer flikker as jy bane wissel nie.

Dit bring my by die lekkerste gedeelte van enige Honda. Die enjin. Honda maak na my mening van die beste atmosferiese enjins ter wêreld. Ja, dit is VTEC-enjins wat bitter lief is vir toere. Dit is ʼn getoordery met die nokaste, kleppe en die tydsberekening daarvan.

Die Honda BR-V Elegance. Foto: Verskaf

In die werklikheid verander die tydsberekening op verskeie revolusies om seker te maak die kleppe laat die perfekte hoeveelheid suurstof in die silinder in op die regte tyd. Soos die omwentelinge opbou, voel jy hoe hy al hoe sterker en sterker word. By 6 500 r/min trek die 1.5 laat die stof staan. Hy bied wel net 88 kW en 145 Nm, maar voel fantasties op die pad. Dit bied ook fantastiese brandstofverbruik wanneer mens nie die heel tyd op 6 000 r/min sit nie.

Op die pad voel die BR-V lekker gemaklik. Sy vering is soepel en sy padhouvermoë goed genoeg vir ʼn 7-sitplek-gesinsbuks. Daar is 2 lugsakke, ABS en EBD om dinge veilig te hou. Al klagte wat ek in hierdie afdeling het, is dat daar ʼn gesuis om die venster is teen 120 km/h op die snelweg.

Die BR-V is maklik om op te som: Dit is ʼn Honda. Hulle breek nooit nie. Die enjin is fantasties en die derde ry sitplekke se meganisme is baie slim en dit bied goeie beenruimte, selfs vir ʼn volwassene.

Die reeks lyk só:

Honda BR-V 1.5 TrendR274 400
Honda BR-V 1.5 ComfortR309 000
Honda BR-V 1.5 Comfort outoR329 000
Honda BR-V 1.5 EleganceR333 300
Honda BR-V 1.5 Elegance outoR353 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Datsun Go+ 1.2 Lux50 kW/ 104 Nm5.5 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R182 300
Renault Triber 1.0 Prestige52 kW/ 96 Nm5.5 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R196 900
Suzuki Ertiga 1.5 GLX77 kW/ 138 Nm6.2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R273 900
Toyota Avanza 1.5 TX77 kW/ 137 Nm6.3 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

4 dienste diensplan

R320 000

Die is die enigste sewesitplekvoertuie wat nie groot sportnutsvoertuie is nie. Die BR-V is die duurste, maar beslis elke sent werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Suzuki Ertiga??? Oorsig Brendon??? Dis ‘n besliste mededinger teen ‘n beter prys!
Die Datsun en Renault hoort nie hier nie, Dis net die Suzuki, Honda en Avanza in die mark.

Brendon Staniforth ·

Dagsê koos10

Baie dankie vir jou kommentaar! Jammer vir die oorsig. Jy is inderdaad heeltemal reg. Die Ertiga is die Honda se mees direkte mededinger. Die artikel is reeds gewysig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

koos10 ·

Dankie Brendon vir die regstelling.
Ek sou egter nie die Ertiga GLX koop nie, dis glad nie mooi met die nagemaakte hout binne nie. Die GL is my keuse, met ‘n paar van die GLX se speelgoed miskien, maar dan troef die Honda die Suzuki wat speelgoed betref. Dan het die GA weer die troef op prys maar het bykans geen luukshede nie. Ek sou baie daarvan hou as nog so een of twee van die vervaardigers die tipe voertuie wil vrystel. Dis baie goeie waarde vir geld, lig op onderhoud en brandstof en nie sleg om te bestuur nie. Ek ry tans my tweede Ertiga (GL auto), en is versot op die kar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.