Hyundai se nuwe Venue stof die res uit

Die Hyundai Venue. (Foto: Verskaf)

Die klein sportnutsvoertuigsegment gaan in die nabye toekoms uit sy nate bars … indien die wêreldekonomie hierdie vervlakste koronavirus oorleef. Omdat die segment so mededingend is, gaan ons ʼn paar fantastiese rolspelers daarin sien. Die hele wêreld het gewag vir Volkswagen se T-Cross, en dit is ʼn lieflike buksie. Jy kan gerus hier meer oor hom lees.

Maar ek gaan hier op skrif vir jou sê, die splinternuwe Hyundai Venue is vir my ʼn lekkerder kar as die T-Cross. Én hy’s goedkoper. Dit het vir my ʼn lekker aggressiewe voorkoms, maar is tog ʼn klein sportnutsie. Dié klas is klein luikrugmotors wat effe hoër ry en ʼn bietjie stewiger op die pad voel. Die Venue het die kenmerkende Hyundai-gesig met die dagligte bó die koplig wat laer in die buffer sit. Van agter lyk die Venue vir my bitter baie soos Volvo se XC40 – en dis beslis nie ʼn slegte ding nie.

Aan die binneruim is daar sitplek vir vyf – maar ek moet opmerk dat die voorste sitplekke voorwaar gemaklik is. Die paneelbord se instrumente is vir my regtig mooi, en ek hou van die skermpie wat Apple CarPlay en Android Auto bied. Ons het die middelste model in die reeks getoets, die Fluid wat wel ʼn meganiese lugreëling het in plaas van klimaatbeheer – maar ek moet bieg dat ek dit só verkies. Verder is die binneruim van goeie gehalte en die bougehalte beïndruk. Die enigste plek wat effens afsteek, is die plastiek-deurkaarte, maar dit is nóg slegter in die T-Cross. Dalk is dit om dit meer duursaam te maak in dié segment?

(Foto: Verskaf)

Die enjin is waar die Hyundai my geheel en al oorrompel het. Nou ja, 1.0-driesilinderturbopetrolenjins is deesdae baie gewild. Van hulle is puik, soos die een in die Venue. Ander is ʼn bietjie oninspirerend, en dan is daar dié wat eenvoudig sleg is. Die T-Cross sʼn is heel goed. Hy voel wel soms effe plat, te danke aan sy dubbelkoppelaarratkas se programmering. Dié spesifieke Hyundai Venue het ʼn sesspoedhandrat. En ʼn absolute juweel van ʼn enjintjie. Hyundai noem dit hul Kappa 1.0 T-GDI. Ek kon nie verstaan hoe die Hyundai soveel sterker voel as die T-Cross nie, toe gaan krap ek – en ek het die rede gevind. Die Venue bied 88 kW en 172 Nm. Die T-Cross 85 kW en 200 Nm. Die geheim is dat die Venue se wringkrag beskikbaar is tussen 1 500 en 4 000 r/min. Dis ʼn verskriklik wye kragband. Die T-Cross sʼn is slegs tussen 2 000 en 3 500 r/min. Die T-Cross se kW piek ook op 5 000 r/min, en die Venue sʼn op 6 000 r/min. Die Venue loop eenvoudig ʼn hond uit ʼn bos uit en voel eerder soos ʼn 1.4-turbo as ʼn piepklein ou 1.0-driesilinder.

Die Venue se ritgehalte is effe ferm, maar dit pas by die karakter van die kar. Padhouvermoë is heeltemal goed vir dié klas voertuig – maar waar die Venue weereens beïndruk, is op die snelweg. Hy toer lieflik stil teen 120 km/h, omwentelinge laag in sesde rat met puik brandstofverbruik. Omdat ál daai wringkrag vanaf 1 500 r/min beskikbaar is, hoef mens nooit terug te skakel na ʼn laer rat vir bulte nie. Die spoedbeheer hou die Venue presies op 120 km/h en jy kan ontspan en lekker musiek luister.

Die Hyundai Venue. (Foto: Verskaf)

Ek en Franciso Nwamba van Ignition het saam by die bekendstelling gery. Ons het toe al bespiegel dat die Venue sterker voel as die T-Cross, maar ek het hulle nou nader aan mekaar gery, en die Hyundai het tyd gehad om in te loop. Die Hyundai Venue 1.0 T-GDI Fluid-handrat is eenvoudig volgens my die koning in daai segment. Indien jy ʼn outo wíl hê, bied Hyundai ook ʼn dubbelkoppelaar-outo, wat selfs beter geprogrammeer is as die T-Cross sʼn. Sjoe, Hyundai – is dié nommer ʼn Motor van die Jaar-finalis vir 2021?

Die reeks lyk só:

Hyundai Venue 1.0 TGDI Motion handrat88 kW/172 Nm6.5 ℓ/100 kmR279 900
Hyundai Venue 1.0 TGDI Motion outo88 kW/172 Nm6.9 ℓ/100 kmR312 900
Hyundai Venue 1.0 TGDI Fluid handrat88 kW/172 Nm6.5 ℓ/100 kmR317 900
Hyundai Venue 1.0 TGDI Fluid outo88 kW/172 Nm6.9 ℓ/100 kmR348 500
Hyundai Venue 1.0 TGDI Glide outo88 kW/172 Nm6.9 ℓ/100 kmR378 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ʼn 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Mahindra XUV300 1.2T W881 kW/200 Nm6.1 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R304 999
Ford EcoSport 1.0T Trend92 kW/170 Nm5.4 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R319 200
Citroën C3 Aircross 1.2T Feel81 kW/205 Nm6.5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- diensplan

R355 900
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85 kW Comfortline85 kW/200 Nm5.3 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R364 300

Teen R317 900 is die Venue ʼn ware winskoop in die segment – veral teen die T-Cross se R364 300. Ek dink die Venue is nou die koning. Volkswagen sal binnekort sy T-Cross Trendline met ʼn handrat beskikbaar stel en het deurgans gemik vir R300 000, maar ek is nie oortuig dat die wisselkoers dit gaan toelaat nie … én die Venue Motion is reeds beskikbaar teen R279 900. Gaan toetsbestuur die Venue en vat by wyse van spreke die tjekboek saam, terwyl die rentekoers laag is en voor die prysverhogings kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.