Hyundai se ridder op ʼn wit perd?

Die nuwe Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Hyundai het 45 092 van sy vorige Atos-motors verkoop. Dit is fantastiese getalle en werk uit op ʼn paar honderd per maand. Ek sou stry dat die Atos ʼn groot rol gespeel het in die vestiging van Hyundai as handelsmerk in Suid-Afrika.

Die Atos is in ʼn stadium vervang deur die i10, ook ʼn model wat heel goed gevaar het. Die i10 is betyds vervang deur die Grand i10. Dit los nou weer ʼn gaatjie heel onder in die mark vir ʼn getroue ou Hyundai … en hulle het presies die ding – ʼn nuwe Atos.

Die nuwe Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Die maklikste manier om ʼn goedkoop ryding in die mark te bring is om dinge eenvoudig te hou. Dus het Hyundai besluit om net een weergawe bekend te stel. Die Atos word aangedryf deur Hyundai se getroue 1.1-viersilinderpetrolenjin. Die enjintjie bied 50 kW en 99 Nm. Spoed en krag is minder belangrik as die 5,7 ℓ/100 km-brandstofverbruiksyfer. Ons het die Atos verskriklik hard gery oor ʼn 200 km-roete en die brandstofverbruik het nie slegter as 6,3 ℓ/100 km geklim nie.

Die nuwe Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Die binneruim van die Atos is lekker ergonomies uitgelê en van duursame materiale gebou, sonder om goedkoop te voel. Kop- en skouerruimte is regtigwaar puik. Met die sitplekke afgeslaan, is hy prakties genoeg om ʼn rolstoel te huisves. Die ritgehalte is heel in die kol vir ʼn buksie van dié grootte en padhouvermoë heel goed. Die nuwe Atos is baie meer standvastig teen die wind as wat ek die vorige model onthou.

Die nuwe Hyundai Atos. Foto: Verskaf

Die spesifikasievlak is waar die Atos lekker uitblink. Die Atos het ʼn 7″-raakskerm-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, ʼn aanboordrekenaar, ʼn veeldoelstuurwiel, lugreëling, elektriese vensters voor, twee lugsakke, ABS en ISOFIX.

Is daar enige probleme? Net twee waaraan ek sover kon dink. Die bestuurdersitplek is te hoog en kan nie laer stel nie. Die agterste ruit is nie verhit en het ook nie ʼn ruitveër nie. Verder sal ek eers weer tyd met hom moet deurbring om hom dán teen sy mededingers te vergelyk.

Die Atos lyk só:

Hyundai Atos50 kW/99 Nm5,7 ℓ/100 kmR159 900

Die Atos is gedek deur Hyundai se markleidende 7 jaar/200 000 km-waarborg, ʼn eenjaar-diensplan en 7 jaar/150 000 km-padbystand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mornay ·

Ek het nou leke gelag van voor lyk dit of die ding twee oe en n Smiley face het

Brendon jy skryf jy het hom verskriklik hard gery vir 200 km is daar nog iets oor van die ATOS

Groete daar

anton ·

Hyundai is van die beste voertuie op die mark en ek sal so n ATOS met toe oë koop!!!
Ek is net bietjie teleurgestel in die prys.
Gehoop hy sou ietwat goedkoper gewees het vir n intree model van Hyundai.

Grens ·

Hyundai bou uitstekende goeie voertuie, en hulle inruilwaarde is glad nie sleg nie.

Chris Ws ·

Ek het lankal met my eie Elantra agter gekom dat Hyundai hulle huiswerk uitstekend gedoen het.Hulle voertuie staan nie ‘n millimeter terug vir enige Toyota of VW produk nie.Vir my persoonlik is daar tussen die 3 vervaardigers net een keuse en dis Hyundai.

liekie ·

op die foto lyk dit na ‘n “oulike-klein-buksie” so van agteraf !!!

JanKo ·

Hyundai-Kia se motors tans nie die mees opwindende beskikbaar. Maar wraggies die bougehalte en uithouvermoeë is verstommend. Die heel beste is dat Hyundai nog nie geswig het onder die turbo-petrol klug wat die Europeërs begin het. Net dalk is ons gelukkig en Hyundai voeg ‘n 1.2 (of daaaalk 1.4!) enjin ook later by die reeks. Standaard spesifikasie lyk heel aanvaarbaar vir die prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.