Hyundai soek ʼn stuk van VW se koek

Die Hyundai Venue. Foto: Verskaf

Hyundai het laat in 2019 ʼn splinternuwe mededinger aan die Suid-Afrikaanse mark bekendgemaak. Die Hyundai Venue is ʼn B-segment-sportnutsvoertuig – ʼn effe opgepompte luikrugmotor met ʼn ruwer ontwerp.

Volkswagen het middel 2019 sy T-Cross in Suid-Afrika bekendgestel en dit was van die begin af duidelik dat ʼn B-segment-sportnutsvoertuig die mark gaan opraap. VW het ongeveer 850 per maand daarvan in die laaste vier maande van 2019 verkoop. Wie sal nie ʼn stukkie van daai koek wil hê nie?

Die splinternuwe Venue het ʼn volwasse voorkoms. Ek hou van die ontwerp, dit lyk taf. Die binneruim is belyn met Hyundai se ontwerptaal in sy nuwer voertuie soos die Kona. Die kajuit is ergonomies uitgelê en mens is gou gemaklik.

Dié Hyundai word aangedryf deur ʼn turboaangejaagde 1.0-driesilinderenjin wat 88 kW en 172 Nm bied. In dié segment is 0–100 km/h-tye nie belangrik nie, maar die Venue kan die naelloop in 11,3 sekondes aflê en sal aanhou draf tot 183 km/h. As mens dit met die duurder T-Cross vergelyk, lyk die Venue stadiger op papier, maar op die pad voel die Venue heelwat sterker. Die handrat is doodgewoon, maar die outomatiese ratkas is ʼn lieflike 7-spoed-dubbelkoppelaarratkas.

Die Hyundai Venue. Foto: Verskaf

Ritgehalte is in die kol vir die segment. Vering is hard genoeg om ondeunde bakrol te voorkom, dog soepel genoeg om nie ongemaklik te wees op ʼn stukkie grondpad nie. Padhouvermoë begin eintlik ʼn onbenulligheid word, want die meeste moderne voertuie het puik padhouvermoë.

Hyundai het in Desember, die eerste maand van die Venue se bekendstelling, ʼn fantastiese 307 eenhede verkoop. Ek dink daar sou baie mense wees wat teruggehou het om sodoende hul nuwe motor eers in 2020 te registreer. Ons sal dus binnekort sien hoeveel eenhede Hyundai in Januarie 2020 kon verkoop.

Die reeks lyk só:

Hyundai Venue 1.0T MotionR274 900
Hyundai Venue 1.0T Motion autoR304 900
Hyundai Venue 1.0T FluidR309 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid autoR339 900
Hyundai Venue 1.0T GlideR369 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelsel-waarborg asook ʼn 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Terwyl Volkswagen nog nie sy intreemodel Trendline T-Cross in die mark het nie, is die 1.0T Motion baie goedkoper as VW se aanbieding. Kia stel binnekort sy Steltos bekend – hoewel hy meer ʼn Renault Duster-mededinger is wat tussen die B- en C-segment sit as ʼn ware B-segment-mededinger. Ek voorsien goeie dinge vir die Suid-Afrikaanse nuwe voertuigmark te danke aan dié nuwe buksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

B ·

Ek het ook na die Venue gaan kyk (as ‘n ernstige aspirant koper) terwyl ek wag vir die 70Kw T-Cross., en was uiters teleurgestel. (Nogals na ‘n kleiner weergawe van die XC40 gelyk wat my beïndruk het, van ver af)
Wat ‘n konkoksie van swak gehalte materiale, afwerking, bou- en ontwerp ‘integrasie’, ens ens.
Die ambiance was net nie daar nie. Jammer Hyundai, jy gaan nie ‘n plekkie op my werf kry.

B ·

(Moet dalk by sê – ek het net na die intree model gekyk, kan dalk die rede wees vir die flou Tee)

Wielspore ·

B is in die kol met sy kommentaar, ons het die huidige TCross gaan toets bestuur en dit is ‘n diamant van ‘n voertuig. Ons bly in die Laeveld en het die spoedbeheer deur ‘n bergpas op 100km/h gestel en die laagste spoed wat die voertuig na toe gedaal het was 98km/h. Puik bougehalte en kwaliteit materiaal. Met my besoek aan die Hyundai het ek gevind dat die Venue baie kleiner is as die TCross, beenspasie agter is net te klein. Die handelaar in Nelspruit wou nie ‘n toetsrit toelaat want daar is net een voertuig op die vloer en die ander een in die werkwinkel. Jammer, die Venue is nie heeltemal in die TCross se klas, die Voertuig het wel sy mark en gaan seker heelwat koper gelukkig maak. TCross is my keuse… koop een binnekort.

Lou ·

Ek het nog nie die VW of Hyundai persoonlik gaan toets bestuur nie, maar uit vorige ondervinding met die twee fabrikate is ek geneig om saam te stem. Hyundai se afwerking en kwaliteit is net nie op dieselfde vlak as VW nie. En ek dink hoe ouer die voertuig word hoe meer gaan ‘n mens dit agterkom. Een troos is darem dat die Hyundai ‘n goeie waarborg het wat sal help as die wiele begin afkom.

Lou ·

Amper vergeet ek om te sê wat my vreeslik krap van VW is dat hulle blykbaar vergeet het hulle het blanke kliente ook want al hulle advertensies is deesdae net gemik op swartmense.

Wielspore ·

‘n Advertensie alleen maak nie dat ek ‘n voertuig koop of nie koop, wat die voertuig my bied en wat my sak pas is oorwegend by die koop van ‘n voertuig.

Theoman ·

Ja nee Lou ek stem 100% saam met jou dis so asof ons net nie meer bestaan nie asof ons ook nie meer VWagens mag besit of ry nie maar raai wie het VW jare gelede op die ” map ” geplaas? Dit geld vir ander motor vevaardigers ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.