Indian 1200 FTR: Uiteindelik ’n sportiewe Amerikaner

Foto: Brian Cheyne

Die Amerikaners het vreemde kampioenskappe as dit by motorresies kom. Hulle verkies om al in die rondte te ry en die heeltyd links te draai.

Motorfietswedrenne is darem anders, maar hulle begeerte om al in die rondte te ry is al van 1946 ingeburger in wat hulle “Flat track racing” noem. Die baan is gewoonlik ovaalvormig en wissel in lengte van 400 m tot 1 600 m. Die fietse wat hier deelneem, moet aan streng kriteria voldoen om te probeer om almal ʼn gelyke kans te gee. Groot name in MotoGP het hulle tande geslyp in hierdie reeks.

Vanaf 1947 tot 1962 was die kampioene óf op ’n Harley-Davidson óf op ’n Indian. Die Japannese en Britse fietse het hier en daar ’n indruk gemaak, maar as jy na die lys van kampioene kyk, is Harley-Davidson loshande voor.

Foto: Brian Cheyne

Sedert 2011 is Indian Motorcycles weer onder die Polaris‑vaandel vervaardig en die maatskappy het weer vir Harley-Davidson die stryd aangesê op die sandbane van Amerika. Hulle het in 2017 en 2018 die titel ingepalm met die Indian Scout FTR750. Nou werk dit so: as ’n fiets op Sondag wen, dan wil mense Maandag só een koop. Vir Indian om iets te kon verkoop op ’n Maandag moes hulle ’n replika bou van die FTR, en dit het hulle gedoen met die Indian 1200 FTR.

Indian maak drie weergawes van hierdie fiets: die 1200 FTR, 1200 FTR S en 1200 FTR Race Replica. Die gewone FTR het analooginstrumentasie, terwyl die S en Race Replica ’n TFT‑skerm het. Die S het ’n swart raam en nie die Akrapovič‑pype nie. Indian het vir my die Race Replica vir een dag geleen en dit is ’n dag wat ek nie gou gaan vergeet nie.

Foto: Brian Cheyne

Die FTR is baie aggressief gestileer. Die grootste gedeelte van die fiets word opgeneem deur ’n 1203 cc V-2‑enjin. Teen 8 250 r.p.m. lewer die Indian ’n lywige 123 pk. en 120 Nm wringkrag. Die enjin hang aan ’n pragtige rooi raam en die agterste skokbreker is nie in die middel van die raam gemonteer nie. Dit sit mooi ontbloot aan die regterkant neffens die twee Akrapovič‑trompette. Die saal is kort en bevat net die agterlig. Die flikkers en nommerplaat is laer af aan ’n hegstuk gemonteer wat om die agterwiel sit.

Die brandstoftenk is in swart, rooi en wit afgewerk met die Indian‑kenteken in oudtydse skrif daarop aangebring. Tegnies is dié nie die brandstoftenk nie, want dié sit onder die saal om die gewigsverspreiding van die fiets te verbeter. Die brandstoftenk hou 13 liter.

Verdere stileringselemente lê in die tienspeek‑allooibande. Die voorste band is 19” en die agterste een 18” en albei is toegerus met Dunlop‑bande wat spesiaal vir die FTR ontwikkel is. Die hele fiets vertoon ongelooflik kompak, maar sy grote is bedrieglik. Die FTR is nie ’n klein fietsie nie, ten spyte van wat jou oë vir jou probeer wysmaak.

Foto: Brian Cheyne

Klim jy op die fiets, dan voel alles sommer reg. Die handvatsels is van Pro Taper. Mense wat veldfietse ry, sal bekend wees met hierdie handelsmerk. Die voetrusse sit reg onder jou boude en die saal is so gevorm dat dit ’n gemaklike ryposisie tot gevolg het. Die afwerking van die FTR is uitstekend en die bedrading is netjies weggewerk. Niks lyk onooglik nie.

Die instrumentepaneel is heelwat groter as die klein TFT‑skermpie wat hy huisves, want selfs met moderne TFT‑tegnologie het Indian steeds waarskuwingsliggies vir goed soos oliedruk en brandstofvlak. Die TFT het ’n aanraakskerm en kan met jou vinger beheer word, of met die kontroles op die linkerhandvatsel. Daar is twee skermuitlegte om van te kies en die skerm kan ook met jou foon konnekteer.

Foto: Brian Cheyne

By Indian se winkel in Melrose Arch is ek so ʼn vinnige les of twee gegee hoe die skerm werk, en ek is aangeraai om nie die fiets nou al in die “Sport”‑program te sit nie. Blykbaar is die fiets dan redelik nukkerig. Ek is nou al Indian se gladde enjins gewoond, so ek was nie verras toe ek hom aansit nie, net teleurgesteld dat die Akrapovič‑pype nie meer geraas maak nie. Die enjin luier amper apologeties. Met die wegtrek het ek sommer dadelik van die fiets gehou. Daar is oorgenoeg woema en die koppe draai as jy verby ry. Dit is ’n kaalfiets, so daar is geen windbeskerming nie, maar dit was nie vir my ’n probleem nie. Daardie rou, rebelse karakter slaan sommer gou deur.

My eerste draai het my onkant gevang. Die bande laat die fiets onseker voel en jy moet die fiets nogal stoei in ’n draai in. Dit klink nou vreesaanjaend, maar die Indian hou sy gekose lyn en die bande bied baie meer greep as wat ek myself voorgestel het. Na so ʼn paar uur in die saal raak jy die gevoel gewoond en dan kan jy en die Indian armdruk deur die draaie.

Ek het die Indian net vir een dag gehad, so ek moes maar roer met alles wat ek wou probeer. Na so ʼn paar kilometer het ek hom in sy Sport‑program gesit. Die mense by Indian was reg. Skielik moet jy al jou sintuie verskerp en fokus. Die FTR raak dan ’n handvol. ’n Genotvolle handvol. Die glimlag op my gesig het alles gesê. Hierdie fiets is ongelooflik baie pret om te ry en die tikkie individualiteit wat hy bied, kan dalk net die deurslag gee as dit by die koopslag kom.

Produkblad: https://www.indianmotorcycle.co.za/ftr-1200-family/

Die feite:

Enjinkapasiteit1203 cc V-twee
Gewig (nat)231 kg
Kraglewering125 pk./92 kW @ 8 250 r.p.m.
Wringkrag120 Nm @ 6 000 r.p.m.
Tenkkapasiteit13 ℓ
Saalhoogte840 mm
PrysFTR – R209 900

FTR S – R229 900

FTR S Race Replica – R269 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.