Indian Chieftain Dark Horse – Gemaklike langpad-fiets

Die Indian Chieftain Dark Horse. Foto: Brian Cheyne

Na die soveelste klein kapasiteit- fietsie wat vir my gegee is om mee te ry, kontak ek vir Indian en hoor of hulle nie vir my iets groter het nie. 1800 cc klink net soveel beter as 250 cc. Met dinge gereël, ry ek na hulle nuwe winkel in Melrose Arch en hier moet ʼn impulsiewe koper soos ek nie sommer inloop nie. Jy moet jouself geestelik voorberei. Daar is klere en allerhande bybehore wat baie aanloklik lyk. Maar ek is hier vir die 2018 Chieftain Dark Horse.

Die Indian Chieftain Dark Horse. Foto: Brian Cheyne

Afgewerk in dofswart is hy onmiddellik herkenbaar tussen die ander Indians wat op die sypaadjie staan. Die Chieftain volg die stilering van ʼn “bagger”. Die lyne begin hoog voor by die windskerm en loop dan steil na agter met ʼn lae saal en twee kanttassies. Ek sal netnou verduidelik hoekom ek die verkleinvorm gebruik.

Die Chieftain is ʼn imposante fiets. Hy is groot en swaar en is beslis nie ʼn stadsvoertuig nie. Nee, hy soek die oop pad waar hy sy bene kan rek en sy enkele passasier in gemak kan vervoer. In stadsverkeer was hy meer as ʼn handvol, veral as jy besluit om midde in die Brics-beraad deur Sandton te ry.

Die Indian Chieftain Dark Horse. Foto: Brian Cheyne

Waar Japanse mini-vuurpyle alles doen om gewig te verminder, is die Indian nie gepla deur goed wat gewig by die fiets sit nie. Die modderskerms is van metaal en die rem- en koppelaar hefbome is soliede stukke metaal wat lyk of dit twee keer dikker is as wat nodig is. Die Indian steur hom nie hierdie ekstra gewig nie. Met ʼn yslike V-twee, 111 kubieke duim enjin is daar oorgenoeg wringkrag om jou, die fiets, jou bagasie en jou kar saam te sleep.

Die Indian Chieftain Dark Horse. Foto: Brian Cheyne

Die enjin is heeltemal vry van vibrasies wat jy normaalweg sal verwag van hierdie enjins. Die uitlaatpype vloei elegant na agter en kom onder die twee kanttassies uit. Hierdie tassies is bedrieglik klein. Omdat hulle deel uitmaak van die hele stileringsoefening, is daar ʼn betreklike groot spasie onder die tas wat bo-oor die uitlaatpype gaan. Dit maak dat die tassies nie juis diepte het nie. Daar behoort egter genoeg spasie te wees vir ʼn vinnige naweek weg, maar enigiets langer as dit kan problematies wees. Die een tas het ʼn 12V sok in, sou jy iets wou laai in die ry.

Die Indian Chieftain Dark Horse. Foto: Kobus Schoeman Photography

Ek en ʼn maat van my het op die N4 uitgery Dullstroom se kant toe, en hier is die Chieftain sonder weerga. Op die vervelige N4, verby die deinserige Witbank, kon ek die spoedbeheer aanskakel en agteroor sit. Dit het my tyd gegee om die instrumentasie beter te leer ken. Daar is ʼn groot raakskerm in die middel met oneindig baie inligting.

Aan weerskante is twee analoog wysers, elk met sy eie vloeikristal-eenheid in. Links wys die spoed en regs die toere, maar al hierdie inligting word ook vertoon op die skerm in die middel. Hierdie skerm het drie bladsye en jy kan uit verskillende uitlegte kies. Die stelsel het ook Bluetooth om jou foon en/of interkom te koppel, en beskik ook oor ʼn GPS. Daar is verder ʼn klein paneelkissie met ʼn USB sok waar jy jou foon kan laai, of ʼn musiekspeler kan inprop.

Die Indian Chieftain Dark Horse. Foto: Brian Cheyne

Na ʼn vinnige koffie in Dullstroom het ons aangery en ʼn foto-geleentheid gaan soek. Mense wat hierdie roete ken, sal weet dat die slaggat tussen Dullstroom en Lydenburg partykeer ʼn stukkie pad ook het. Hier het die Chieftain my verbaas. Ek kon nie glo hoe maklik die Indian van rigting verander nie. Selfs met sy 380 kg gewig het ek nooit gevoel ek werk hard nie.

Die Indian Chieftain is by uitstek ʼn langpad fiets. Met sy groot voetplate en breë sitplek kan die pad maar kom en die kilometers sal net aanhou verbyglip. Die enjin luier net oor die 2500 rpm teen 120 km/h en die vering maak enige pad gelyk. In die Dark Horse afwerking lyk jy ook fantasties. Die enigste kritiek wat ek kan lewer, is die lugdraad wat skuur teen die agterste flikker. Verder kan ek nie fout vind met hierdie groot Amerikaner nie. Dit is ʼn formidabele fiets met uitstekende afwerking en skoon lyne wat maklik ʼn plekkie in my ideale garage sal kan volstaan.

Die feite:

Enjin1811cc V-twee
Gewig (Nat)380 kg
Wringkrag150 Nm
Saalhoogte660 mm
Tenk kapasiteit20.8 L

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wowie ·

Dit was nou ‘n lekker berig om te lees!
Kort, kragtig en vol feite!!
Kan ons nie asb. meer sulke berigte oor karre en motorfietse hier op Maroela kry nie?!

Matrys ·

Sjoe, R399K is nogal heelwat vir ‘n motorfiets, maak nie saak hoe wonderlik dit is nie. Ek hou vol dat die Japanese motorfietse (bv. Honda Africa Twin @ R200K ) veel beter waarde vir geld bied as die Europese or Amerikaanse motorfietse.

Hardus ·

Ek sal nogal graag hierdie outjie se oor vir n naweek wil draai, alhoewel ek eerder n dubbeldoel (avontuur) fiets verkies. Iets soos n GS, Adventure of Explorer. Ek dink nie baie mense weet dit nie, maar net n kwart van SA se paaie is geteer. Met die Indian sal jy dus na n klomp mooi plekke toe kan gaan, maar jy sal ook n klomp mooi plekke mis. Maar ek dink op teerpad is die Indian tipe fietse koning. Dit maak egter nie saak watse fiets jy het nie, solank jy daai ding net ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.