Indian Scout Bobber: Nie vir introverte

Die Indian Scout Bobber (Foto: Brian Cheyne)

My kennismaking met die motorfietswêreld was beperk tot Japanse motorfietse. Op Brits waar ek grootgeword het, was daar nie ʼn afsetpunt vir groot Amerikaanse fietse nie. Eers baie later in my lewe moes ek ʼn nuwe woordeskat ontwikkel toe ek probeer sin maak het van goed soos scramblers, softails en bobbers. Die scrambler naam het onlangs herleef met BMW, Triumph en selfs Ducati wat die konsep deurgevoer het met moderne interpretasies van ʼn ou term.

In die jare 50 het daar ʼn nuwe term ontstaan, naamlik ʼn bobber. Die woord bobber is afgelei van die term “bob-job”. Die agterste modderskerm is korter gemaak, en net soos vroue hulle lang hare afgesny het in ʼn bob, so is dié term gebore. Verder is alles wat nie direk verantwoordelik was om die fiets te laat vorentoe gaan of stop nie, afgehaal. Die fiets moes ook so laag moontlik gemaak word en selde is daar voorsiening gemaak vir ʼn passasier.

Indian het onlangs hulle Scout Bobber aan die pers bekendgestel in hulle nuwe leefstylwinkel in Melrose Arch in Johannesburg, en ek kon uiteindelik voel hoe dié nuwe toevoeging ry. Die Scout is Indian se intree-vlak fiets en beskik oor ʼn 1 133 cc ( 69 kubieke duim ) V-twee enjin. Verlede jaar het Indian die Scout Sixty bekendgestel, met ʼn 60 kubieke duim enjin. Ek was baie in my noppies met daardie fiets. Dinamies was daar min verkeerd met die Sixty. Die Bobber is gebaseer op die groter Scout en het nou behoorlik “houding”.

Die Scout se lyne is ongelooflik mooi en nou het Indian die agterste skokbrekers korter gemaak, die metaal modderskerms korter gesaag en ʼn vet voorband opgesit. Verder is alle blink stukke verwyder en die swart verf is vryelik aangewend. Net die twee silinderkoppe is blinkgepoets, en die algehele prentjie is een wat koppe beslis laat draai en die ryer laat voel alle oë is op hom. Hierdie is nie ʼn fiets vir iemand wat soos vissies die stroom volg nie. Onthou, selfs ʼn dooie vis gaan saam met die stroom.

Die Indian Scout Bobber (Foto: Brian Cheyne)

Die Bobber is laag. Baie laag. Sy lae saal sal aanklank vind by korter ryers. Die voetkontroles is vorentoe gemonteer, en die handvatsels is ietwat gelig, maar tog bereikbaar. Voor jou is ʼn enkele spoedmeter, en die kalibrasie is vreemd. Tot op 120 km/h is die inkremente mooi gespasieer, maar van daar is dit ingeprop in ʼn klein spasie tot by 200 km/h. So asof die ontwerper nie sy beplanning mooi gedoen het nie. Dit, of Indian het besluit bo 120 km/h gee hulle net vir jou ʼn geskatte waarde. Op daardie spoed gaan jy in elk geval so besig wees om vas te hou, die spoed gaan nie veel saak maak nie. Daar is ook ʼn klein vloeikristal meter wat verskeie items kan wys, soos toere of brandstofverbruik. Die gebrek aan ʼn brandstofmeter kan dinge egter laat skeefloop. Daar is wel ʼn liggie wat aankom as die vlakke laag daal, maar verder is jy uitgelewer aan jou eie oordeel.

Omdat die Bobber na ʼn tema ontwerp is, is daar ʼn prys te betaal vir al hierdie elegansie. Die saal is baie netjies oorgetrek in leer, maar die driehoek tussen hande, voete en boude los jou oor aan die genadelose aanslag van elke rimpel in die pad. Die komiese kort skokbrekers skok eerder as om te demp. Dit is nie noodwendig ʼn slegte ding nie, want dit gaan jou forseer om meer gereeld te stop.

Die Indian Scout Bobber (Foto: Brian Cheyne)

Nog ʼn ontwerpflater is juis die verkorte modderskerm. Hy is nou ʼn modderdeurlater. Hy skerm niks meer nie, en na ʼn kort reënbui het my rug so mooi nat streep gehad. Net soos wat my skoolfiets my aangedoen het op ʼn nat pad.

Behalwe vir die twee kleinigheidjies is die Indian waarlik ʼn fiets waarmee ek sal kan saamleef. Oral waar ek gekom het met die Bobber het mense nadergestaan en vrae gevra. Die Indian Scout is ʼn ontsaglike mooi fiets. Selfs my een seun wat nie eens ʼn Kawasaki van ʼn Honda sal kan onderskei nie, het dit opgemerk. Met ʼn gevestigde naam soos Polaris nou aan die stuur van sake kan jy gerus wees dat die Indian jou ʼn betroubare alternatief bied. So as jy so bietjie anders wil wees, is die Indian net die fiets vir jou.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

Die feite:

Enjin1133 cc V-Twee
Gewig ( Droog )245 kg
Saalhoogte649 mm
Tenk kapasiteit12,5 ℓ
PrysVanaf R 189 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

anton ·

Ek dink alle vervaardigers moet nou eerder begin kyk na ”elektriese” of battery aangedrewe fietse want dit is waarheen die wêreld begin beweeg.
Soos dit tans is, is die 2de vinnigste motorfiets n elektriese aangedrewe fiets wat oor die 300 km/h kan doen.
Net Kawasaki se H2R Ninja klop hom wat 400 km/h kan bereik.
Ongelooflik vir n elektriese motorfiets.

Raasbek ·

Elektriese “enjins” het nie die vereiste klank nie. Jy koop nie dié tipe fiets om stil-stil deur die lewe te gaan nie.

anton ·

Raasbek, ek hoor wat jy sê, maar onthou nie almal hou van n klomp lawaai nie.
Partykeer kan daai lawaai n mens teen n muur uit dryf.
Ek dink en glo die vervaardigers sal seker nog n plan uitdink om die elektriese fietse n ”kunsmatige” lawaai te gee, spesiaal vir die wat van n geraas hou. :-)

Paseseun ·

Motorfiets…introvert?
Duidelik weet die skrywer nie wat n introvert is nie.

Cherokee ·

Weet jy wat ‘n introvert is? ‘n Introvert wil ondermeer nie aandag trek nie en miskien is dit wat die skrywer op dui.

Jack Klok ·

Introverte sal niks van die Indian Bobber hou nie. Kyk mooi, die fiets het vir alle praktiese doeleindes nie knaldempers nie en raas gevolglik ongelooflik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.