Indian se toekomsplanne

Indian open ʼn leefstylwinkel in Melrose Arch (Foto: Indian)

Indian-motorfietse se hertoetrede tot die mark in 2013 het opspraak verwek in die motorfietswêreld. Met uiters moderne tegnologie, gehul in klassieke lyne, het Indian heelwat harte verower. Myne inkluis.  Die Indian Scout gee so ʼn kykie op die ryke erfenis van die Indian-naam wat so ver terug strek as 1901.

Die toekoms van Indian is nou in die hande van Polaris, en daardie toekoms lyk rooskleurig. Om die handelsmerk verder te vestig hier in Suid-Afrika het Indian nou uitgebrei en ʼn nuwe leefstylwinkel bekendgestel, reg in die hartjie van Johannesburg se Melrose Arch.

Die nuwe winkel in Melrose Arch se High Street bring so ʼn tikkie andersheid na die area. Die winkel is ruim en nie net is daar motorfietse om na te staar nie; daar is ook ʼn wye verskeidenheid kledingstukke en ander items om van te kies. Alles, natuurlik, met die ikoniese Indian-naam daarop. As jy egter net wil sit en kyk, kan jy rustig by die koffiekroegie sit en kuier.

Indian open ʼn leefstylwinkel in Melrose Arch (Foto: Indian)

Bryan Berger is die uitvoerende bestuurder van Indian Motorcycles of South Africa en hy glo dat Indian ʼn uitdrukking is van individualisme. Hulle gee jou as’t ware die sleutel om jou eie legende te kan begin.

Een probleem wat Berger gesien het in die mark was die koue aard van die groot handelaars en Indian wou ʼn winkel skep wat toeganklik is en deel kan wees van jou leefstyl. Jy kan na werk gaan inkopies doen en voor jy aansit by die restaurant, sommer gou inloer by die Indian-winkel ook. Hier kan jy van ʼn T-hemp tot ʼn motorfiets koop.

Indian open ʼn leefstylwinkel in Melrose Arch (Foto: Indian)

Dit was egter nie die enigste rede waarom die pers en bestaande Indian-klante die openingsaand bygewoon het nie. Tussen al die goeie nuus het Indian ook sy nuwe Scout Bobber bekendgestel. Die Indian Scout Bobber trek die jonger mark na die handelsmerk en is derhalwe ʼn baie belangrike model vir Indian. Die fiets is kompeterend geprys. Dit is ʼn ideale beginnerfiets, maar is terselfdertyd dinamies genoeg vir die meer ervare ryer.  Sodra ek voor in die ry kom om die Bobber te ry sal ek kan oordeel of hierdie fiets sy man kan staan.

Berger is opgewonde oor die toekoms van Indian en beoog om ʼn soortgelyke winkel oop te maak in Kaapstad. Die doel is om vir Indian-eienaars ʼn bestemming te gee wat hulle hul eie kan noem. Later die jaar beplan hulle ook ʼn verhuringsopsie en om die Indian-reeks verder uit te brei.

Berger het almal teenwoordig genooi om 2018 Indian se jaar te maak. Uitnodiging aanvaar!

Vir meer inligting besoek Indian se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre C ·

Kyk gerus die fliek The worlds fastest Indian met Sir Antony Hopkins in die hoofrol

Heinrich van Zyl ·

Harley Davidson and the Marlboro man is ook ‘n klassieke fliek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.