Infiniti Q50 – pragtig en stylvol

foto deur Infiniti

Foto: Infiniti

Die onlangs bekendgestelde Infiniti Q50 word deur sy invoerders as ‘n sportsedan beskryf. Hierdie aanspraak is waarskynlik hoofsaaklik te danke aan sy sportiewe vermoëns, eerder as sy voorkoms, want dis ‘n luukse sedan in die ware sin van die woord.

Gevorderde tegnologie, skitterende verrigting en behaaglike gerief is van die eerste opvallende kenmerke van hierdie Japanse nuweling uit die Nissan-stal wat, benewens Toyota se Lexus-reeks, veral daarop gemik is om as teenvoeter vir die luukse Duitse Drie te dien.

Aggressiewe bemarking word eerstens gekenmerk deur ‘n mini-prysoorlog – en hier het Infiniti sy strategie baie duidelik uitgespel deur sy ‘intreevlak’  2.2-liter turbodiesel onder R400 000 in te bring – weliswaar teen R399 000.

Selfs teen hierdie prysvlak bied die Infiniti Q50 hoë vlakke luukse kenmerke sonder addisionele kostes. Dink byvoorbeeld aan 17″ allooivellings met paploop (run flat)-bande, LED-ligte agter, misligte voor en rigtingwysers wat ook in die kantspieëls ingebou is. die kantspieël is buitendien verhit sodat  alles selfs in die ergste winter steeds sigbaar is.

Infiniti is ook een van ‘n handjievol vervaardigers wat verftegnologie inspan wat klein krappies self ‘herstel’ sonder om polering te gebruik. Halogeen-dagryligte rond ook die Q50 se voorkoms netjies af.

Hierbenewens is daar ook ‘n LCD-raakskerm, terwyl suiwer klank deur ses luidsprekers verskaf word. Die klankstelsel omvat ‘n CD-speler, Bluetooth-skakeling, USB en iPos-verbinding en die gebruik van stemopdragte (voice operated control).

Aan die geriefkant bied die Q50 ook togbeheer (cruise control), bult wegtrekhulp, ‘n kamera, sleutelvrye toegang en outomatiese ruitveërs.

Veiligheidskenmerke sluit in dinamiese voertuigbeheer en vastrapbeheer, banddrukwaarskuwings en remhulp.

Namate die spesifikasievlakke styg, krimp die beursie, en die Sport (R474 000) voeg nog lekkernye by. Dit sluit in LED hoofligte, leersitplekke, 18″ vellings en pragtig gestikte leersitplekke. Die elektries-beheerde sitplekke bied ook ‘n geheuefunksie

‘n Super doeltreffende 7-gang ratkas is ook deel van die duurder model se toerusting en is minstens gelykstaande aan die bestes wat tans in die mark beskikbaar is.

‘n Oulike kenmerk van die Hybrid is spesiale klanktoerusting wat veral voetgangers waarsku wanneer daar geen enjingeluid  beskikbaar is om hulle betyds uit die pad te laat spring nie.

 Ry-indrukke

Die Q50 staan deeglik sy man wat versnelling en brandstofekonomie betref. Selfs die bykans 200 kilometer bekendstellingsrit het beswaarlik die naald laat sak, terwyl Infiniti se gevorderde stuurstelsel sorg vir minimale afwyking van die gekose weg. Hierdie nuwe “fly by wire” stelsel (wat in vliegtuie gebruik word) laat die bestuurder toe om onder beheerde toestande ‘n hobbelpad aan te durf sonder dat die voorwiele hulle eie rigting inslaan.

Dit is sekerlik ‘n eerste onder die vervaardigers van luukse voertuie, en ek voorspel dat mededingers binnekort soortgelyke weergawes van hierdie stuurstelsels in hulle eie  voertuie gaan inbou.

Vanselfsprekend is rygerief uit die boonste rakke en is die Q50 Infiniti daardie soort motor wat jou gerieflik binne ‘n dag van Pretoria tot in Kaapstad en selfs verder sal laat ry.

Hierbenewens was die keurige bougehalte, die gebruiksvriendelike kontroles en die slanke lyne wat heel anders vertoon as ander Infiniti-modelle ook opvallend,  amper asof Infiniti besef het dat stilering nie te radikaal van die bestaande norm hoef af te wyk nie.

Infiniti, met sy hoofkantoor in Hong Kong, is gereed om sy mededingers aan te vat.

Daar kan met  sekerheid voorspel word dat Mei se Infiniti-verkope van slegs 23 eenhede binnekort minstens gaan verdubbel – danksy die begeerliksheidsfaktor van hierdie nuwe model.

Die Infiniti Q50 2.2 turbodiesel word sterk aanbeveel as ‘n stylvolle waarde-vir-geld aankoop wat jare se betroubare rygerief behoort te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.