Is jy skuldig aan kindermishandeling van ’n ander aard?

sitplekgordels-vir-kinders

Foto: Everydaylife.globalpost.com

Die Gautengse provinsiale regering het vroeër in September lykshuis-statistieke vir die afgelope drie jaar bekend gemaak. Motorongelukke was verantwoordelik vir die meeste lyke – meer as 1 700 mense het in die afgelope 12 maande in motorongelukke in die provinsie gesterf.

’n Verslag deur die World Health Organisation (WHO), “Global Status Report on Road Safety, 2013”, vertel ’n tragiese storie: 31,9 mense per 100 000 inwoners sterf jaarliks in motorvoertuigongelukke in Suid-Afrika. Uit die 182 lande wat in die verslag ondersoek is, het Suid-Afrika die sewende hoogste sterftesyfer wat voertuigongelukke betref.

Ek wonder hoeveel van hierdie slagoffers was kinders?

Daar word agter bakhande gepraat oor kindermishandeling en -verwaarlosing en die sondaars word in die hel in verdoem.

Dit herinner aan stories van kinders wat fisiek aangerand en verkners word. Kinders wat honger ly en huilend en vuil met min klere aan die lyf rondloop – dwalend en verlate. Ons almal hoor sulke benoude nuusbrokkies wat harte pynlik-stewig in twee hande vasdruk en trane in die oë bring. Dink maar aan die “huis van gruwels” in Springs waar die kinders jare lank gemartel, mishandel en van die samelewing versteek is.

Tog is fisieke geweld en onversorgdheid nie die enigste vorme van verwaarlosing en mishandeling nie. Sielkundiges en opvoedkundiges praat ook van emosionele afknouing en ouers wat kinders verwaarloos deurdat hulle doodeenvoudig nie genoeg aandag aan hulle gee nie.

Kindermishandeling van ’n heel ander aard druk die afgelope ruk swaar op my gewete. Dit is ’n kommerwekkend algemene vorm van verwaarlosing wat ons almal daagliks teëkom. En dit is eintlik vreemd, want geen ouer wil tog as ’n kinderverwaarloser bekend staan nie – veral nie dié wat nooit ’n hand teen hul gelukkige en welgevoede en -geklede kinders sal lig nie.

Dalk moet ek die pad voorberei voor ek met die deur in die huis val deur te gaan soek na ’n definisie vir “kinderverwaarlosing”. Die Suid-Afrikaanse Kinderwet se taalgebruik is moeilik en formeel, maar die bedoeling van die wetgewer is duidelik:

Verwaarlosing word gedefinieer as “die versuim om in die uitvoering van ouerlike verantwoordelikhede voorsiening te maak vir die kind se basiese, fisieke, intellektuele, emosionele of maatskaplike behoeftes.” “Ouerlike verantwoordelikhede” sluit “om die kind te versorg” in. “Versorging” word baie deeglik in die definisies van die wet beskryf as, onder meer, die volgende: Die beskerming en bevordering van die welstand van die kind en beskerming van die kind teen enige ander fisieke gevaar.”

Ouers wie se kinders nie vasgegord is terwyl hulle in ’n voertuig ry nie, is potensieel skuldig aan kinderverwaarlosing. En dalk selfs kindermishandeling.

Die volgende videogreep staaf my stelling verder:

In die videogreep is ’n man en vrou betrokke in ’n trompop botsing. Alles is presies soos dit moet wees: hul veiligheidsgordels is vas en die lugsakke ontplooi behoorlik. Tog is die trauma geweldig. Let op die vernietigende impak op die brein, nek, organe en ingewande.

Speel nou die video ’n paar grepe terug en kyk mooi: ’n glasbottel ontplof teen die voorste paneel; selfoonkomponente spat in duisende rigtings; die lipstiffie, sleutel en notaboek kom nooit agter dat die kar sonder waarskuwing gestop het nie; ’n appel bars sappig teen die radio oop en die stukke vlieg die kar vol.

Verbeel jou nou wat met die los vierjarige dogtertjie op die agterste sitplek sou gebeur het. Of met die tienjarige seuntjie wat vooroor tussen die voorste sitplekke gesit en vrolik met sy ouers gesels het. Wat van die baba wat in haar drawiegie geslaap het? Of die kleuter voor op die ma se skoot?

Sou hulle ook soos die glasbottel, selfoon of appel deur die lug getrek en teen die paneelbord met geweld tot stilstand gekom het? Sou die ruit hulle kon keer? Of sou die spoed hulle deurgeslinger het tot op die pad?

Ek dink daar is net een moontlike antwoord.

Volgens die bogenoemde WHO-verslag, word ’n kind se kans op dood tydens ’n motorongeluk met tussen 54 en 80% verminder indien hy of sy behoorlik vas is in ’n bewegende motorvoertuig.

Ons probeer om ons kinders te beskerm teen rowers, molesteerders, ontvoerders, verkragters, uitbuiters, pedofiele en ander booswigte.

Waarom nie teen geweldige trauma en selfs dood in ’n motorongeluk – wat algemeen in Suid-Afrika voorkom – nie?

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Motors, Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kate ·

So ry daar ‘n motor voor my die ander dag, lyk soos ‘n oupa en kleinkind. Oupa is veilig vasgemaak met sy veiligheidsgordel. Met ‘n sigaret in die mond, venster toe en boetie, seker so 3 of 4 jaar oud staan heerlik en spring op die agterste sitplek. Toe ek langs hom stop en hom aanspreek hieroor toe kry ek sommer 2 middelvingers EN die woord wat daarmee saamgaan. Dis ‘n oupa hierdie wat NIE die voorreg mag hê om sy kleinkind rond te ry nie. Ek wonder of jou kinders weet?

Eliza-beth ·

Kate, die feit dat die oupa ROOK en met toe vensters ry en dus die arme kleingoed aan al die gevare van rook OOK nog blootstel is ook ontstellend!

Adri ·

Baie dankie vir hierdie artikel. Ek sien hier is geen kommentaar nie wat my vertel die meeste mense is skuldig. Ek sien dit daagliks as ek ry, die kinders voor op die ma se skoot, of agter regop met geen stoeltjie of ook nie vasgegord nie. Was self in ‘n kop aan kop botsing en weet waaroor dit gaan en die impak van die ongeluk. So baie mense dink dit sal nooit gebeur nie of ons is amper by die huis of naby die huis. Regtig baie hartseer. My kleinkind was in sy stoel tot hy te groot was daarvoor en nou word hy vasgemaak en sit in die middel (ek persoonlik voel dit is veiliger veral as hulle in jou deur vasry).

Miskien moes jy ook die selfoon storie aangeraak het want baie ouers oortree daardie reel ook en dit is vir my net so gevaarlik – hulle dink nie een oomblik aan hulle kinders se lewens as hulle besig is om boodskappe te lees of te tik nie of selfs te praat oor die selfoon nie

Mart ·

Dit is so waar. Kinders wat op voorste sitplek staan of op ouers se skote sit, of op agterste sitplek is algemeen.
Ek en my 18 maande oue dogtertjie was in ‘n baie groot ongeluk betrokke, vragmotor het oor ‘n rooi lig gery. Die impak van so ‘n botsing kan jy nie vir iemand beskryf nie. As sy nie vas was in haar stoeltjie nie, sou sy nie hier gewees het vandag nie. My kinders ry nie eers om die blok sonder ‘n gordel nie. Ek gee nie om hoe ongemaklik dit vir hulle is nie. Hulle weet al.
‘n Ongeluk gebeur binne sekondes, moet nooit dink jy kan nie iets oorkom nie.
Gordel die HELE gesin vas!

Eliza-beth ·

Nog iets wat hierby aansluit is al die verdrinkings van klein kinders want daar is nie genoeg veiligheidsmaatreels en veral nie nette oor swembaddens nie!

Cdeklerk ·

My seuntjie glo die kar kan nie ry as hy nie in sy stoeltjie vasgegespe is nie. Ek glo dis ‘n witleuntjie waarvoir ek vergewe sal word.

Pappa ·

Gaan hierdie een defnitief begin vertel vir ons seuntjie as hy begin kla in die stoeltjie!

Nadine ·

Ek voel baie sterk oor die punt. My seuntjie is 7 jaar oud en sit altyd in sy “booster” stoeltjie, ek as n enkel ouer koop ook n stoeltjie (soos hy groter word) vir my ma se motor, wat hom in die oggende 4 blokke van die huis af by die skool aflaai. Ek het een middag soos altyd voor die skool gestop en hom gaan haal en terwyl ek hom vasmaak sit daar 2 dogterjies (ook 7 jaar) by die heining, die een dogtertjie maak toe so aanmerking omdat hy nog in n stoeltjie vir baba’s moet sit, hy het hulle so gekyk en gesê “ek sit in die stoeltjie want my ma is lief vir my”.

Louisa ·

Ons woon in die UK en dit is wet dat alle babas en kinders in gegord MOET wees. Die boetes is swaar en ek dink jy kan tot jou lisensie verloor as jy gevang word met ‘n kind wat nie in gegord is nie. Ons kinders is ons verantwoordelikheid, ons trots en ons toekoms, die stoeltjies is duur, maar is jou kind se veiligheid en lewe nie meer werd as die prys van daardie veiligheids maatreel nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.