Isuzu gooi ʼn knuppel in die bakkie-hoenderhok

Ons Suid-Afrikaners is bakkie mal en ek self smag na ʼn dubbelkajuit.

As jy boonop die geld het, is die groter enjin en luukser spesifikasievlak altyd lekker, maar die meeste mense het nie los geld wat rondlê nie. Ek hou vol, ʼn 2.4 Hilux, die 2.0 Amarok, die 2.0 enkelturbo Ranger en die 2.5 Isuzu kan presies doen wat hul groter boeties kan… dalk net ʼn klein bietjie stadiger teen ʼn stewige bult uit.

Isuzu het ʼn groot leemte in die mark gelaat met die dat hul 2.5 slegs in ʼn handrat beskikbaar was. Daar is ʼn migrasie na outomatiese voertuie in Suid-Afrika, en as ʼn mens dink dat baie van die dubbelkajuitbakkies leefstylvoertuie is wat kantoor toe en terug moet ry op ʼn daaglikse basis sowel as om die kinders by die skool af te laai, maak ʼn outomaties sin.

Isuzu het ontwikkeling gedoen aan ʼn 5-spoed-outokas wat spesifiek met ons Euro II 2.5 enjin gepaar kan word. Die resultaat is ʼn ou staatmaker, net gemakliker. Ek het in November verlede jaar die 2.5‑handrat X-Rider Black gery en 10,2 km/ℓ gehandhaaf. Ek het nou die outo gery, en presies 10,2 km/ℓ gehandhaaf. Om geen verlies in brandstofverbruik te handhaaf in ʼn outo teenoor ʼn handrat is fantasties.

Verder is die Isuzu D-Max 2.5 presies die bakkie wat almal ken – ʼn bakkie. ʼn Harde bakkie wat kan werk sou mens dit nodig hê. Daar is sitplek vir vyf, lugreëling, kragstuur, elektriese vensters en ʼn radio. Daar is die gewone belangrike veiligheidstelsels soos ABS en lugsakke, maar daar is g’n foefies hier nie; dis ʼn eerlike ou bakkie en dis verfrissend.

Die 2.5 bied 100 kW en 320 Nm. Dit klink dalk min teenoor van sy mededingers, maar op die pad voel die 2.5 piekfyn. Teen 120 km/h luier die 2.5 outo teen 2 400 r/m, lekker in die kragband – so die bakkie hoef weinig terug te skop vierde toe.

Ritgehalte is maar bakkie. Hy is lekker hard tot jy goed op hom laai; dan is hy gemaklik. Padhouvermoë is presies wat enige mens van ʼn dubbelkajuit kan verwag. Ons het goeie ente op grondpaaie gery en die 2.5 gedra hom puik vir ʼn 4×2 met die banddruk op twee. Ek self blaas my bande af na so 1.8 as ek lang ente op grond gaan ry.

Dis baie maklik om die D-Max 2.5 outo op te som. Dis ʼn intreemodel in die leefstyldubbelkajuitmark. Indien ʼn mens na die X-Rider kyk, lyk dit beslis nie intreevlak nie. Dis ʼn bakkie wat presies doen wat hy beloof om te doen.

Isuzu se handelsmerk het onlangs in Cars.co.za se verbruikertoekennings tweede plek ingepalm in die handelsmerk van die jaar‑afdeling, en dit word slegs deur die eindverbruiker bepaal. Die wat Isuzu’s ry, glo in niks anders nie, en ek kan sien hoekom.

Die outo reeks lyk só:

Isuzu D-Max 250 HO extended cab Hi Ride outoR403 200
Isuzu D-Max 250 HO double cab Hi Ride outoR435 300
Isuzu D-Max 250 HO double cab LE outoR459 000
Isuzu D-Max 300 double cab Hi Ride outoR464 100
Isuzu D-Max 250 HO double cab X-Rider outoR474 700

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/90 000 km‑diensplan.

Ons sal weer tyd met die 2.5 outo in die stadsverkeer deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gato ·

Seker nie sleg vir die prys nie, maar ek verkies nog steeds my Hilux 2.4 GD6 DC 4×4 met 110kW en 400Nm wat 12km/l gee. (Hand rat)

Shady ·

Met al die Hilux bakkies op die pad kan jy nie verkeerd wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.