Isuzu se MU-X bied ʼn lekker sleep-ontdekking

Die Isuzu MU-X. (Foto: Verskaf)

Ons was die langnaweek weg met die woonwa om ons batterye te gaan probeer herlaai. Die hele inperking is effens swaar op krag. Vroeg in die inperking is my woonwa flenters geslaan deur die hael. Nadat ek die woonwa teruggekry het ná die herstelwerk en ʼn paar veranderings wat ek wou aanbring kon ek nie meer wag om ʼn bietjie te gaan kamp nie.

Ek reël toe Isuzu se opgeknapte MU-X vir dié sleeptog. Sonder die karavaan was dit aanvanklik vir my opvallend hoe gemaklik die Isuzu ry. Sy ritgehalte is lieflik sag en soepel. Já, daar is heelwat bakrol wat daarmee saam kom – maar dit is verfrissend om nie stukkend gestamp te word nie.

Karavaan gepak en gehaak agter die Isuzu MU-X 3.0 4×4 outo wys ons die sleepsel in Rustenburg se rigting op die N4 in Pretoria. Nadat Michael van Caravan Fitment Centre my uitgetrap het dat ek my bande te hard pomp en sodoende alles in die woonwa losskud, los ek die bande op 2,5 bar – en die Isuzu sʼn op die aanbevole 2,1 bar en ons vat die pad.

Die wa swaai glad nie. Ek stel die spoedkontrole op 105 km/h, want Michael het my ook uitgetrap dat ek té vinnig sleep. My 1992 Sprite Super Sport was vervaardig om lig te wees, nie ʼn rateltaai boswa wat ʼn mens teen 200 km/h wil sleep nie. Op 105 km/h op die gelyk gedeeltes skop die Isuzu oor na sesde rat, omwentelinge op 1 500 r/min toer hy lieflik stil en rustig – alles onder beheer. Dis baie minder uitputtend om stadiger te sleep. Na die 129 km trippie tot by Aasvoëlkrans wys die MU-X 11.8 km/ℓ. Terwyl ʼn mens sleep dink ek dit is glad nie sleg nie.

Die Isuzu MU-X. (Foto: Verskaf)

Die MU-X word aangedryf deur Isuzu se 3,0 viersilinderturbodiesel wat 130 kW en 380 Nm bied. Op papier is dit die minste wringkrag in die segment, maar as ons iets by Isuzu se 2.5 D-Max leer is dit dat hulle wringkrag en ratverhoudings perfek gekalibreer is. ʼn Mens mis beslis nie nóg wringkrag nie. Isuzu beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,9 ℓ/ 100 km. Heel goed.

Die binneruim van die MU-X bied sewe sitplekke. Die derde ry vou mooi toe in die vloer van die kattebak in. Die sitplekke is almal met netjies leer bedek, en die groot raakskerminliginstelsel bied Android Auto en Apple Carplay. Daar is spoed en klimaatbeheer, ses lugsakke, ABS en EBD, en vastrap- en stabiliteitsbeheer om alles veilig te hou.

Ons het op die plaas ʼn draaitjie gaan ry om foto’s te neem. Die MU-X se sagte vering is puik en welkom as mens in die bos begin ry. Op die pad bly dit lieflik gemaklik, en hy sleep stilletjies soos ʼn droom. In dié segment is net die Pajero Sport heelwat goedkoper, maar die MU-X goedkoper as die Fortuner en Everest. Die MU-X gaan beslis ʼn kleiner diefstal risiko dra as die Ford en Toyota… en dit tel vir baie. Die Kinsey Report het slegs die onderdelemandjie vir die Fortuner teen R80 171 en Pajero Sport teen R201 371. As ons na Isuzu D-Max se mandjie kyk is hy R88 000 teen Toyota se R79 660… so ʼn mens kan aanneem dat die MU-X se onderdele min of meer sal vergelyk met die Fortuner sʼn, wat baie meer bekostigbaar is as die Pajero Sport sʼn.

Die reeks lyk só:

Isuzu MU-X 3.0 outoR643 100
Isuzu MU-X 3.0 4×4 outoR712 200

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 Exceed133 kW/ 430 Nm7.6 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R679 995
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 outo Epic130 kW/ 450 Nm7.6 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R743 600
Ford Everest 2.0BiTurbo 4WD XLT outo157 kW/ 500 Nm7.6 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R744 500

Tussen dié mededingers is almal puik en bitter sterk mededingers. Persoonlike smaak en voorkeur gaan ʼn groot rol speel. Nou moet ons net duim vashou dat Nissan ook sy Terra wat op die Navara gebaseer is na Suid-Afrika bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

In Australie oorheers die Isuzu die segment,dan Pajero Sport,Fortuner en Trailblazer laaste.Laasgenoemde is n neef van die Isuzu.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.