Jaguar bring die toekoms na SA

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Maroela Media is onlangs voorwaar bederf met ʼn klein, persoonlike bekendstelling van die nuwe Jaguar I-PACE.

ʼn Paar dinge het my getref. Eerstens is dit die enorme belegging wat Jaguar met Gridcars onderneem het om laai-infrastruktuur te bou, oral in Suid-Afrika. Die belegging vir fase een beloop R30 miljoen. Ek het al met twee ander vervaardigers gesels wat tans elektriese motors oorsee beskikbaar het, en hulle verskoning is net daar is nie genoeg infrastruktuur om die voertuie te regverdig nie. Wel – ek glo dit is bog. Nissan en BMW verkoop al vir jare elektriese voertuie in Suid-Afrika – en nou sluit Jaguar by hulle aan, met hul eie infrastruktuur.

Tweedens is die feit dat Jaguar onlangs hul I-PACE‑voertuie Knysna toe geneem het om aan die Jaguar Simola Hillclimb deel te neem in die hande van Deon Joubert, Shaun Watson-Smith en Mike Briggs – gewilde Suid-Afrikaanse renjaers. Nie nét die feit dat hulle deelgeneem het nie, maar die feit dat al drie voertuie die hele naweek deelgeneem het sonder om te herlaai.

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Nou kan ʼn mens argumenteer dat enige stadige elektriese voertuig dit sal kan doen. Wel, die I-PACE se finale beste tyd in Mike Briggs se hande was 49,588 sekondes om die 1,9 km‑baan te voltooi. Om te vergelyk – Paul Munro se Porsche GT3‑sportmotor se beste tyd is 46,6 sekondes. Asemrowend om te dink die I-PACE is ʼn sportnutsvoertuig wat 2,2 ton weeg.

Derdens – dis net ʼn motor. ʼn Regte, egte motor waarmee ʼn mens enige plek kan ry waar jy met enige ander gewone voertuig kan ry. Ons bekendstellingsroete het begin by die Jaguar Land Rover Experience Centre in Lonehill voor ons in Lanseria se rigting beweeg het waar ons oor die Jukskeirivier gery het. Ons is toe na die Magaliesberg langs Harties en terug. Op die roete het ek gery soos ek met enige ander binnebrandvoertuig sou ry – behalwe waar ek mense wou verbysteek; dít is ʼn belewenis as 696 Nm jou oombliklik in die rug skop.

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Ek het 23,6 kWh/100 km gehandhaaf. Dit is dieselfde as brandstofverbruik. Mens kan sê die I-PACE het ʼn 90 kWh‑battery. As ek 23,6 kWh/100 km handhaaf, sal ek 381 km reikafstand kan behaal met ʼn I-PACE. Dit is heel billik. Ek het onlangs ʼn Mercedes-AMG G63 gehad, en as mens met hom jaag gee hy 42 ℓ/100km… dis 2,4 km/ℓ of 240 km op sy 100 ℓ‑tenk. Die versnelling tussen die twee verskil nie baie nie.

Binne is die I-PACE ʼn ruim 5-sitplek‑gesinsmotor. Die gehalte is puik en die spesifikasievlak soos ʼn mens verwag van ʼn Jaguar Land Rover‑produk. Die I-PACE het ʼn 5-ster NCAP‑veiligheidsgradering. Daar is ISOFIX‑monteringspunte vir babastoeltjies, de lot. Die I-PACE het twee elektriese motors. In totaal bied die twee motors 294 kW en 696 Nm. Die I-PACE gaan van 0 – 100 km/h in 4,8 sekondes en is tot 200 km/h beperk.

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Wat vir my die lekkerste is – behalwe die krag – is die stilte. Die Jaguar I-PACE toer tjoepstil teen 120 km/h. Dit is uiters ontspannend. Die feit dat dit by ʼn vinnige openbare laaier in die omgewing R270 sal kos om te laai van 0% af en dán minstens 350 km kan ry, is fantasties. Die ligste petrolenjins in klein ekonomiese karretjies gee tans omtrent 20 km/ℓ. Teen R17 per liter is dit R297,50 – duurder as die I-PACE.

Die goeie nuus hou nie daar op nie. Die I-PACE se battery is gewaarborg om 70%‑kapasiteit te behou ná 8 jaar/160 000 km. Teen die tyd wat mens dan aandag aan die battery moet begin gee, het die tegnologie nóg verder ontwikkel en goedkoper geword. Ander instandhouding is amper zero.

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Omdat die voertuig krag herwin deur die motors as ʼn mens rem, word die fisiese remme amper nooit gebruik nie. ʼn Stel remblokkies gaan waarskynlik jare en jare hou. Verder is daar geen enjinolie, vonkproppe, filters of enige van die normale gebruiksgoedere soos op gewone binnebrandenjin-motors nie.

Ek is gek oor die tegnologie. Die infrastruktuur groei nou teen ʼn asemrowende spoed. Die vroeë aanvaarders daar buite wat dit kán bekostig, gaan die infrastruktuur nóg uitbrei vir die res van ons. Die Jaguar is ʼn pragtige motor, en al is hy aanvanklik duur maak dit baie sin oor die langtermyn.

Die reeks lyk só:

Jaguar I-PACE SR1 687 200
Jaguar I-PACE SER1 745 400
Jaguar I-PACE HSER1 820 900
Jaguar I-PACE First EditionR1 920 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑voertuigwaarborg en ʼn 8 jaar/160 000 km‑batterywaarborg, asook ʼn 5 jaar/100 000 omvattende instandhoudingsplan. Diensintervalle is elke 34 000 km/2 jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jakalas ·

Ek wens hulle wil ‘n fabriek vir Jaguar hier oop maak. Dit sal die parte baie goedkoper maak vir die mark. Ek kan nie R20’000 betaal vir ‘n filter nie.
Ek is mal oor Jaguar, maar hulle pryse vir parte is peper duur en ek sal nooit een in Suid Afrika kan bekostig nie. Die elektriese karre gaan nog erger wees om te onderhou.

Jepetto ·

Jaguar is a mark op sy uie dis bedoel vir die super rykes Gaan ry by private hospitale se dokters parkering daadr sien jy hulle staan

JWC ·

Ek verstaan die vergelyking met klein, ligte motors se brandstofverbruik. As ons egter kyk na totale koste van eienaarskap, lyk die prent heel anders. Klein motors ry deesdae BAIE lekker, het ‘n redelike reikafstand, is vol veiligheidsstelsels, relatief baie goedkoop om te onderhou… ens. ens.

Ek raai nou, maar die versekering op daardie nuwe Jag kan dalk al ‘n baie groot deel van ‘n klein motor se totale maandelikse koste wees? Dit neem ongeveer onder 5 minute om ‘n klein motor se tenk vol te maak en aan te ry… hoelank gaan dit vir die Jag neem sê jy?

Op hierdie stadium is die vergelyking om met ‘n vliegtuig oorsee te vlieg en ‘n Elon Musk reis na Mars te onderneem – en wat meer is; daardie laaistasies wat Jag gaan bou – dit kom direk uit die koper se beursie op die langtermyn.

In hierdie stadium is die Jag seker net vir die elite en staatskapers bedoel….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.