Kan die Rio by die Corolla kers vashou?

Die motorbedryf het in 1886 tot stand gekom toe Carl Benz sy Motorwagen gepatenteer het. Eintlik eers in 1908 toe Ford die eerste massa-geproduseerde voertuig gebou het – die Model T. As ʼn mens in ag neem dat die Ford nou 112 jaar oud is, dan is Kia en selfs Toyota nog bloedjonk in Suid-Afrika.

Toyota het hom in 1961 in Suid-Afrika gevestig. Kia het in 1998 hier aangeland. As ʼn mens net dié twee met mekaar vergelyk, is Kia nog nat agter die ore. Ongeag daarvan vind hulle hulself nou albei met ʼn mededinger in dieselfde segment – Toyota se nuwe Corolla Hatch en Kia se Rio. Kan die Rio die mas opkom teen die Corolla?

Ontwerp:

Kia Rio 1.4 Tec outo

Punt: 4/5

Toyota Corolla 1.2T XS outo

Punt: 4/5

 Albei voertuie het ʼn netjiese ontwerp en is ʼn gewone luikrug met sitplek vir vyf. Die Corolla het ʼn meer ronde afwerking, en ek verkies die meer hoekige lyne van die Kia. As handelsmerk het Kia al ʼn ver pad gestap ná Peter Schreyer by hul aangesluit het van Audi af as hul hoofontwerpbeampte. Sedertdien is Kia, Hyundai en Genesis elke jaar bó aan JD Power se aanvanklike gehalte-opname.

Binneruim:

Kia Rio 1.4 Tec outo

Punt: 4/5

Toyota Corolla 1.2T XS outo

Punt: 4/5

Die Kia het ʼn luukse gevoel in die kajuit met elke truuk wat ʼn mens sou wou hê. Die kajuit voel lekker ruim en is ergonomies uitgelê. Een kwaal is die nagemaakte leer wat op die sitplekke gebruik word. Dit gee ʼn effense chemiese reuk aan die kajuit. Aan die ander kant voel die Corolla se binneruim meer knap, maar die sitplekke is fantasties. Die bestuursposisie is ook verskriklik gemaklik.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Kia Rio 1.4 Tec outo

Punt: 3/5

Toyota Corolla 1.2T XS outo

Punt: 4/5

Ek gaan dié afdeling in twee deel. As ʼn mens die enjins vergelyk, is die Toyota ʼn seemyl voor die Kia. Toyota se nuwe 1.2-turbopetrolviersilinderenjin is ʼn juweeltjie. Hy trek lekker sterk, is nie té swaar op brandstof nie – en hy’s lieflik stil. Aan die ander kant is die Rio se 1.4 atmosferiese viersilinderpetrolenjin heel goed, en indrukwekkend lig op brandstof, maar hier op die platorand kan hy ʼn bietjie asmaties raak.

In die ratkas-afdeling loop die Rio weer voor. Kia maak gebruik van ʼn 6-spoed-wringkragomsitter‑  outomatiese ratkas wat lieflik sag ratte wissel. Die Toyota maak gebruik van ʼn 10-spoed-palwisseltransmissie, en hoewel hy hom goed van sy taak kwyt, verkies ek altyd ʼn gewone outo bó ʼn CVT. Verder is albei doodgewone voorwielaangedrewe buksies.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Kia Rio 1.4 Tec outo

Punt: 3/5

Toyota Corolla 1.2T XS outo

Punt: 5/5

Albei luikrûe ry heel lekker. Die Toyota is wel net-net voor die Rio. Sy 16”-wiele met ʼn lekker bandprofiel laat hom soepel en sag ry. Sy padhouvermoë is ook uit die boonste rakke. Ons het tydens sy bekendstelling die Bainskloofpas aangedurf, en die Toyota het almal regtigwaar beïndruk. Die Corolla het een meer lugsak as die Rio met sewe. Die Corolla het ook stabiliteitsbeheer en remhulp wat die Rio nie het nie. Die Rio het wel ABS en EBD, soos die Corolla.

Opsomming:

Kia Rio 1.4 Tec outo

Puntetotaal: 14/20

Toyota Corolla 1.2T XS outo

Puntetotaal: 17/20

Die Kia maak ʼn baie sterk saak uit, en hy is R40 000 goedkoper as die Corolla. Die Toyota is beslis ʼn effe meer afgeronde pakket, en die turbo-enjin is puik hier op die platorand.

Die twee vergelyk só:

 Kia Rio 1.4 Tec outoToyota Corolla 1.2T XS outo
Enjin1.4-viersilinderpetrol1.2-turbopetrolviersilinder
Krag74 kW/135 Nm85 kW/185 Nm
Ratkas6-spoed outo10-spoed CVT
Brandstofverbruik6,2 ℓ/100 km6,1 ℓ/100 km
Diensplan en waarborg5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

3 jaar/100 000 km-waarborg

6 dienste-diensplan

PrysR339 995R380 600

Die kompetisie lyk só:

 Renault Megane 97 kW Dynamic outoMazda 3 1.5 Dynamic outoVolkswagen Golf 1.4TSI Comfortline DSG
Enjin1.2-vier­silinder­turbopetrol1.5-vier­silinder­petrol1.4-vier­silinder­turbopetrol
Krag97 kW/205 Nm88 kW/153 Nm92 kW/200 Nm
Ratkas7-spoed-dubbel­koppelaar-ratkas6-spoed-wring­krag­omsitter outo7-spoed-dubbel­koppelaar-ratkas
Brandstof­verbruik5,4 ℓ/ 100 km6 ℓ/100 km5,2 ℓ/100 km
Diensplan en waarborg5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

3 jaar/ 120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

PrysR377 900R390 700R403 900

 Die Kia Rio loop wydsbeen in twee segmente. Hy is speel in die B‑ en C‑segment – dink Polo en Golf. Hy sit soos ʼn varkie in die middel. Tussen die mededingers is daar nie ʼn slegte voertuig nie; kyk mooi na almal, een gaan soos ʼn handskoen pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.