Katana keer terug na sy wortels

Die Suzuki Katana. Foto: Verskaf

Toe die eerste Suzuki Katana uitgekom het, was ek nog te jonk vir ’n motorfietslisensie, maar wel oud genoeg om skelm met my broer se motorfiets te ry.

Ek het menigmaal na die Suzuki-handelaar in Brits gestap om na die Katana te gaan kyk en gewens ek kon voel hoe hy ry. Die Katana het nie net vinnig gelýk nie, hy wás ook vinnig.

Toe die eerste stories die ronde begin doen het dat daar ’n nuwe Katana op pad is, het die motorfietswêreld regop gesit. Sekere name soos Katana, Haybusa of Blackbird plak jy nie sommer op enige fiets nie.

In Oktober 2018 het Suzuki die nuwe Katana aan die wêreld gewys. Daar was darem nie volskaalse muitery nie, so Suzuki het hier iets besonders beetgehad. Die Katana het uiteindelik nou Suid-Afrika bereik. Ek kon dus hierdie fiets in lewende lywe sien by die Randse skou.

Die Suzuki Katana. Foto: Brian Cheyne

By die Suzuki-stalletjie was daar ’n oorspronklike Katana reg langs die nuwe een geparkeer sodat jy kan waardeer hoe getrou die nuwe een hulde bring aan die oorspronklike. Daar was ’n groep Katana-aanhangers teenwoordig wat gretig was om die nuweling van nader te beskou. Party van hulle het reeds een bestel, en ná die onthulling kon ek sien hulle was tevrede met hulle keuse. Die hele eerste besending Katanas is reeds verkoop. Dit wys net watter aanhang hierdie fiets het.

Die Katana gebruik as basis die bewese GSX-1000-platform. Daar is mense wat sê die Katana is net ’n GSX met nuwe bakpanele, maar dit is meer as dit. Wat Suzuki hier reggekry het, is merkwaardig. Deur slim met kleure, lyne en ontwerpelemente te werk, het hulle ’n motorfiets geskep met skerp dog vloeiende lyne. Die Katana-bloedlyn is ook baie duidelik.

Die Suzuki Katana. Foto: Verskaf

Verskeie items van die huidige GSX-R1000-superfiets is ook oorgedra na die Katana. Dit sluit onder meer die brandstofinspuiting en die remme in. Die enjin is wel aangepas om meer gebruikersvriendelik te wees en meer gepas vir alledaagse gebruik. Dit beteken nie dat die Katana te min krag gaan hê nie. Allermins. Die enjin lewer steeds 110 kW en 108 Nm wringkrag.

Die volkleur-TFT-skerm is ’n welkome toevoeging tot die Katana en lyk na ’n uiters volledige paneel. Persoonlik hou ek baie van die ontwerp.

Die nuwe Katana is nou al lank op my radar omdat ek nooit die kans gehad het om met die oorspronklike te ry nie. Dit lyk egter of ek nog ’n bietjie langer sal moet wag, aangesien daar eers aan die waglys aandag gegee moet word en fietse vir die pers dalk eers heelwat later vanjaar beskikbaar sal wees.

Ek wag al 35 jaar – nog ’n paar maande sal geen verskil maak nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

marco polo ·

Dankie Brian, ek sien uit na jou toetsverslag. Dit bring herinneringe terug. My eerste motorfiets was ‘n Katana en ek het hom nie lank gery voor ek hom verkoop het nie, want ek het geweet ek gaan my agterent sien met hom. Jong laaities wil mos net jaag. Die nuwe een lyk fantasties.

Gemaskerde Sopbeen ·

1984. 1000cc Suzuki Katana. Sitplek donkerblou en grys. Helfte van die voorwiel toe binne-in die modderskerm. Ek was uitgenooi na partytjies toe van mense wie ek nie eens geken het nie, op voorwaarde dat ek met die Katana daar aankom. As ek reg onthou was die prys iets soos R3 600,00…..en Suzuki het vir my ‘n valhelm persent gegee!!

marco polo ·

Net so. Ek het die 650 gehad met die dryfas. Sy sitplek was grys en oranje en hy het nie die klein windskermpie van die 750 en 1000 gehad nie. Jou nek en arms wou afbreek as jy langpad ry.

Ninja ZX ·

Jy sê jy het jou broer s’n skelm gery? – het jy darem ‘n skelm proe gehad van die oue? LOL

anton ·

Ek onthou nog die TV advertensie destyds so vaag waar die Katana teen die Ferrari gejaag het en die musiek wat daarmee saam gegaan het. Of was dit teen n Porsche?

sweis ·

Die Honda 900 F (boldour) was sy tier gewees,en as ek reg onthou was die kawa z1000R ook vinniger.

sweis ·

Die naaste wat ek aan n Katana gekom het was die 50 cc Gamma, sjoe great tye.

Klinker ·

Lag ek nou vir jou Gys!

Ek sien nog die 50cc Gamma voor my geestesoog. Die 50cc’s was ook maar al wat ons nat-agter-die-ore tieners toentertyd beskore was. Yamaha MR, DT enr RZ, Honda MT(X) en MB(X), Suzuki ER, Kawa AR en AE … heerlike tye.

Gerhard ·

Nee honda F en FII boldor was n regte koei. Die kawa 1000 asook die Eddy Lawson replika her ek sommer met my gewone GSX 1100 weg gery. Die striker(met die speek wiele) was die een om te he

Wim ·

Ag nee Gerhard nou praat jy strooi. My CB900F het draaie om julle GSX e gehardloop.

Risko ·

Great legende. Des Massey van Carletonville het ‘n 1188 cc modifikasie gedoen wat die fiets iets verskrikliks gemaak het. Baie oorsese manne het hulle fietse hierheen gestuur vir bietjie aandag.

Boerboel ·

Myne was gedoen deur Piet Van Zyl van Speedbike in Potch, Het op n’ twee kilometer pad wat vooraf gereel is 263km per uur gedoen, hy was warm en vining, Dit was n’ “top end run” Die enjins was ook baie sterk en het min probleme gegee. Ek raak nou te oud vir die een.

Cobus.panther ·

Het die 1100 striker gehad…da was ni n fiets wat my gelos het nie…Honda 900 f het jou n run vir jou geld gegee maar kon nie wen….Kawa Z1100 was te pap….almal wou jou challenge en agterlos so jy moes daai naam hoog hou….ek het lang pad en dorp-ry in die oortreffende trap gedoen en myself gate uit geniet…Wat n fiets vir sy era…my stert juk vi die nuutste toevoeging….

Riemvasmaak ·

Die Katana was DIE motorfiets wat ons tienerseuns destyds groen van begeerte gehad het. Ek’t eers na diensplig, in ’85 n spin op een kon neem, ‘n vriend se 650 deur Potch se strate. Witweerlig vir iemand wat tot toe slegs veldfietse gery het.

Ek’s oortuig die nuwe Katana sal die legende laat voortleef. Saluut.

Kiewiet ·

Nee dis omrede Honda sin die beste was, daarom kon hy kringe om die Katana ry en hom nog steeds wegry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.