Kawasaki se baanfiets vir die pad

Die Kawasaki ZX-10R (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki ZX-10R (Foto: Brian Cheyne)

Kawasaki het in 2016 die superfiets-kampioenskap heeltemal oorheers. Die twee Kawasaki-spanmaats, Tom Sykes en Jonathan Rea, was tot die einde van die kampioenskap in ʼn titaniese stryd gewikkel, maar dit was Rea wat uiteindelik met die louere, vir die sogenaamde ryerstitel, weggestap het. Kawasaki het eindelik die vervaardigerstitel, die toekenning vir die beste vervaardiger, ingepalm.

Die ryer en die vervaardiger kry albei ʼn titel.

In die Supersport-klas was dit ook Kawasaki en Kenan Sofuoglu, die Turkse motorfietsrenjaer wat al vyf keer vantevore dié klas gewen het, wat die onderskeie titels opgeraap het. Teen hierdie agtergrond het ek die Kawasaki ZX-10R gaan opsaal om te sien wat maak die fiets so spesiaal.

My eerste instink as ek op ’n superfiets klim, is altyd om alle elektroniese hulpmiddels aan te sit omdat ek onseker is van my eie vermoë. Ek het kop gekrap met al die skakelaars en moes ingee en die handleiding naslaan – daar was net te veel verstellings en afkortings wat ek nie kon uitpluis nie.

Ek blaai na bladsy 100. Die opskrif is: ‘How to ride the motorcycle’. Dit klink belowend. Kraglewering, traksiebeheer, wegtrekbeheer, noem maar op.

Die Kawasaki ZX-10R (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki ZX-10R (Foto: Brian Cheyne)

Alles kan verstel word. Die voorste SHOWA-vurke kan bo en onder verstel word. So ook die agterste skokbreker. Voor is die yslike Brembo-remme toegerus met sluitwering en die agterste Nissin-knypertjie lyk amper te klein vir die taak op hande. ’n Baie lang ruk later, toe ek nou dink die ZX se 200 perde is mooi kalm, druk ek die aansitter.

Die 1000cc blaf en luier onegalig. Jy weet sommer hierdie is ’n fiets wat op die baan hoort. Ek skop hom in eerste en trek oorversigtig weg. Met al die beperkings wat ek aangesit het, is die stremming op die fiets tasbaar. Het jy al ooit daai omie gesien wat sy labrador vat vir ’n stappie en die arme omie hang aan die leiband vir lewe en dood?

Die hond se agterbene sprei sommer so oop soos hy probeer wegkom van die omie en die band. Dit is hoe die ZX moes voel. Ek stop toe, stel die kraglewering op vol, en skielik is dit ’n ander fiets. Jy voel sommer die vryheid. Die ZX is toegerus met ’n ‘quickshifter’. Die naaste beskrywing wat ek in Afrikaans kon kry, moet iets wees soos blits-skakeling, maar dit klink nog te stadig.

Jy trek weg, en daarna raak jy nie weer aan die koppelaar nie. Jy hou die krane oop en tik net die rathefboom met jou tone. Die enjin gee ’n kort nies en sit seepglad oor na die volgende rat. Die mooiste klankbaan vergesel die aksie, en ek wens die Kawasaki het ’n 17-spoed ratkas. As jy so lekker speel en luister vergeet jy maklik om af te kyk na jou spoedmeter!

Die Kawasaki ZX-10R (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki ZX-10R (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentasie is maar aan die klein kant, so dit is maklik om dit mis te kyk. Ek het vir die ZX probeer verduidelik dat die eerste syfer nie ’n twee mag wees nie, maar dit het geblyk dat hy my nie mooi verstaan nie. Ek kan aangaan oor die tegniese goed, maar waarom nou ’n mooi storie bederf met feite?

Die Kawasaki ZX-10R is ’n baanfiets wat al die ander fietse in die riete geblaas het in 2016, en nou beskikbaar is in ’n padmondering. Met al die elektronika aan boord hoef jou van nie Rea of Sykes te wees om hierdie fiets terdeë te geniet nie. Maak net seker jou beursie het R290 000 beskikbaar as jy so een wil aanskaf.

Vir meer inligting, besoek Kawasaki se produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae