Kawasaki se nuwe vlagskip, die Z H2

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Brian Cheyne)

My pa het my een keer die storie vertel van die Amerikaners wat trots ’n boorpuntjie vir die Duitsers gestuur het. Hulle het beweer dit is die dunste boorpuntjie wat nog ooit gemaak is. Die Duitsers het die boorpuntjie teruggestuur met ’n gat deur die middel geboor wat hulle dun boorpuntjie in die dunste pypie ooit omskep het. Die ou storie het al baie variasies aangeneem in verskillende lande, maar die kern van die saak bly dieselfde.

Die Kawasaki Z H2 is vir my een van daardie “kyk wat kan ons doen”-fietse. In 2015 het Kawasaki die motorfietswêreld verras met die Ninja H2. Dit was ’n 998 cc-viersilinderenjin met ’n superaanjaer.

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Brian Cheyne)

Die fiets was ook afgewerk in ’n baie besonderse kleur. Soos met Kawasaki se destydse GPZ 750 Turbo het ek gedink dit is ’n reklamefoefie, maar die H2 het die wêreld laat kennis neem van dit waartoe Kawasaki in staat is. Die H2 R het nog meer verrigting gehad en kon 0-400 km/h in ’n (nie-amptelike) 26 sekondes kafdraf.

In 2018 stel Kawasaki die H2 SX bekend wat die superaangejaagde enjin in ’n sporttoerfiets inbou. Skielik lyk die H2-reeks na meer as net ’n spoedvraat. Nou kan jy rustig gaan toer en steeds daardie wonderlike enjin ervaar. Kawasaki het ook die enjin meer ekonomies gemaak, want die H2 was ’n baie dors kalant. Nou het Kawasaki hulle derde iterasie van die H2 bekend gestel. Die Z H2. ’n Kaalfiets soos ek nog nie ervaar het nie.

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Brian Cheyne)

Kawasaki se Z-reeks-fietse lok verskeie reaksies uit. Nie almal is rasend oor die ontwerp nie, en Kawasaki het hul bes probeer om die Z aanvaarbaar op die oog te maak. Kawasaki beskryf die ontwerpstyl as “sugomi”. Kawasaki vergelyk sugomi met ’n roofdier wat jag. Soos ’n leeu wat sy prooi bekruip, reg om te spring, so lyk die Z-reeks-fietse.

Bekyk jy die fiets van voor, sal jy oplet dat die fiets breër is aan die een kant. Dit is om die inlaat vir die aanjaer te akkommodeer. Hier is ’n pyp aangebring wat lug in die inlate inforseer. Hoe vinniger jy beweeg, hoe meer lug laat jy in, hoe meer krag onwikkel die fiets.

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Brian Cheyne)

Die enjin self trek egter die meeste aandag en neem ’n groot deel van die spasie in beslag. Dit word netjies verpak in ’n groen pyp-raam. Jy besef eers hoeveel plek die superaanjaer in beslag neem as jy op die fiets sit. Die tenk het ’n lywige boggel en hy sprei jou bene uit. My knieë het nie lekker vastrapplek gekry nie en die breë tenk laat die voorkant van die fiets bonkig voorkom. Die saal is egter gemaklik en die handvatsels is meer regop, wat sorg vir ’n baie gemaklike rit. Toe ek die eerste keer op ’n H2 gesit het, was my palms nat en my senuwees gedaan. Die Z se hele ryposisie het my gemakliker laat voel.

Kawasaki het uiteindelik hulle verouderde instrumentepaneel vervang met ’n volkleur TFT-eenheid.

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Brian Cheyne)

Die eenheid kan koppel met jou foon en jy kan ’n toepassing op jou foon laai waarmee jy alles aan die fiets kan verstel. Dit neem ook die hele roete wat jy ry op, en jy kan dit dan by die huis terugspeel. Elke ratskakeling, versnelleropening, remkrag en selfs leunhoeke word gestoor. Dit is ʼn wonderlike toepassing, maar dit kan jou ook erg in die moeilikheid laat beland as jy vir jou wederhelf moet verduidelik hoekom jy dink die fiets se spoedmeter is baie optimisties.

Dit is egter die ryervaring wat my sal bybly van die Z H2. Die enjin is ongelooflik glad en elke ratskakeling is klinies korrek. Die snelskakeling is seker een van die bestes wat ek nog teëgekom het.

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Ruan Rabie)

Die elektroniese vangnet van die Z H2 is ook uitstekend. Alhoewel die versnelling jou asem wegslaan, voel die fiets in geen stadium asof dinge gaan skeefloop nie. By tye kon ek voel die voorwiel wil lig, maar die elektronika het dit heel ongemerk in toom gehou. Daar is selfs spoedbeheer, sou jy die fiets op ’n lang rit wil aanwend en brandstof bespaar.

Aan die ander kant van die spektrum is lanseerbeheer. Jy sit die fiets in eerste rat, draai die krane vol oop en los die koppelaar. Die elektronika sal alles namens jou beheer om jou die vinnigste moontlike wegtrek te kan gee. Ek is egter nie van die regte stoffasie gemaak om dit te probeer nie. As jy hierdie funksie wil gebruik, verg dit volle oorgawe. Die geringste huiwering van jou kant en die program sit af en jy is op jou eie.

Die Kawasaki Z H2. (Foto: Brian Cheyne)

Die fiets hanteer goed en ek kon my verlustig in die leunhoek-aanduiding op die instrumentepaneel. Volgens die ouens wat weet, tel die enjin se gewig teen hom, en daarom is die Z H2 nie so goed soos byvoorbeeld die ZX-10 op ’n baan nie. Dit is egter nie draaie wat my die meeste beïndruk het nie. Dit is as jy deur die draai is en die krane weer oopdraai wat die poppe begin dans. As die drukmeter op die instrumentepaneel begin beweeg, dan moet jy maar vashou. Hier is nie windbeskerming waaragter jy kan wegkruip nie. Die kraglewering en die versnelling is brutaal. Draai jy weer die krane toe, dan protesteer die aanjaer met die mooiste klankbaan. So of jy versnel of stop, die Z H2 is ’n aangename aanslag op al jou sintuie.

Hierdie fiets is amper dubbel die prys van die standaard Z 1000. As jy ’n baanfiets soek, sal die ZX-10 ’n beter roep wees. So ek weet nie wie hierdie tipe fiets sal koop nie, maar ek was bevoorreg genoeg om hom te kon ervaar vir ’n week en ek sal die Z H2 nie gou vergeet nie. Dankie Kawasaki dat julle aanhou om vir ons te wys wat julle kan doen!

Kyk hier na die produkblad.

Die feite:

Enjinkapasiteit998 cc
Gewig (nat)239 kg
Kraglewering147 kW @ 11 000 r.p.m.
Wringkrag137 Nm @ 8 500 r.p.m.
Tenkkapasiteit19 ℓ
Saalhoogte830 mm
PrysR329 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Sjoe, baie geld vir iets wat jy verseker weet, jy gaan seer kry op die fiets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.