Kawasaki Versys 650: ʼn Motorfiets wat beïndruk

Die Kawasaki Versys 650 (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki Versys 650 (Foto: Brian Cheyne)

Ek kry onlangs ʼn oproep van iemand wat my raad vra oor ʼn beginner-motorfiets. Hy het motorfiets gery in sy jong dae en is op soek na ʼn gemaklike motorfiets om net weer terug te kom in die ding in. Toe vertel ek hom van Kawasaki se Versys 650.

Die eerste generasie Versys was ʼn koddige kalant. Regop, met ʼn gestapelde hooflig. Die ontblote agterste skokbreker was seker sy sterkste estetiese eienskap. Die Versys het onlangs ʼn gedaanteverwisseling ondergaan en die nuwe een lyk baie skerper met dubbele kopligte wat hom ʼn sportiewer voorkoms gee. Kawasaki het ook aandag gegee aan die vibrasies wat deel was van die vorige model se karakter.

Voorlangs het die Versys dubbelskyfremme en agter ʼn enkelskyf. Die skokbrekers kan voor en agter verstel word, sou jy hom bietjie wil laai. Die windskerm is ook verstelbaar met ʼn eenvoudige meganisme. Jy draai twee knoppe los met die hand, skuif die skerm tot waar jy hom wil hê en draai weer vas, so maklik soos dit.

Die Kawasaki Versys 650 (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki Versys 650 (Foto: Brian Cheyne)

Met ʼn saalhoogte van 84cm, is die Versys steeds ʼn regop kalant, maar die saal is ruim en gemaak vir meer as net jou Sondag-ontbytrit. Die werk wat Kawasaki gedoen het om die vibrasie te demp, het wondere verrig. Die fiets voel seepglad. Ek het al ʼn enkelsilinder-fiets van hierdie grootte gery en as jy stop, voel dit asof alles prikkel. Dit was nie die geval met die Versys nie.

Die instrumente is ʼn kompakte eenheid. Die boonste helfte is ʼn analoog-toereteller en onder word die res van die inligting vervat in ʼn vloeikristaleenheid. Daar is die gewone ritmeters en selfs ʼn opsie om jou huidige brandstofverbruik aan te dui.

Wanneer jy egter die Kawasaki aan die gang kry, raak al die syfers en afmeting oorbodig. Die klank uit die verkorte uitlaatpyp is iets om te beleef. Ek ry gewoonlik met oorpluisies, maar vir die Versys se simfonie het ek hulle uitgehaal. Die enjin is so verstel dat die meeste van die wringkrag op die laer toere beskikbaar is, dus is die fiets rats uit die blokke en kan met hartelus rondgegooi word in draaie.

Die Versys het my baie beïndruk. Dit is een van daardie fietse wat jy net wil ry sonder rede. In die stad is hy rats, maar as jy vir hom ʼn stukkie oop pad wys, sal hy dit ook met gemak kafdraf. Is dit dus die ideale fiets vir iemand wat bietjie geroes is? Beslis. Die fiets is ongelooflik gemaklik om mee saam te leef en hoef, wat sy voorkoms betref, nie ʼn duim terug te staan nie.

Vir meer inligting, besoek Kawasaki se produkblad.

Die Versys 650 in ʼn neutedop:

Enjingrootte649cc
Aantal silinders2
Maksimum kraglewering51kw / 69pk
Saalhoogte84cm
Tenk-kapasiteit21L
PrysR129 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.