Kawasaki Z 900 RS: Huldeblyk aan die eerste Z

Die Kawasaki Z 900 RS. Foto: Brian Cheyne

In die 70’s was lang hare, groot sonbrille en platformskoene die in ding. Snaaks genoeg, in die motorfietswêreld was die groot kapasiteit enjins nog tweeslag‑eenhede.

Kawasaki het hulle 750cc‑tweeslag H2 gehad en terwyl hierdie fiets verantwoordelik was vir ’n hele paar mense se einde was hulle besig om ʼn vierslag‑weergawe ook te ontwikkel. Hierdie projek het bekend gestaan as Project New York Steak. G’n mens weet hoekom nie, maar dit was ʼn 750cc‑vierslag‑, viersilinder‑enjin.

Voor Kawasaki die fiets kon bekend stel, het Honda die CB750 bekend gestel en die wêreld se aandag was op hierdie fiets. Die bekendstelling van Kawasaki se nuwe fiets was summier uitgestel sodat hulle die enjin kon vergroot na 903cc, en in 1972 rol die eerste Kawasaki Z1 uit die fabriek in Kobe, Japan. Die Z in die naam het sinoniem geword met Kawasaki se modelle.

Die Kawasaki Z 900 RS. Foto: Brian Cheyne

Met retro-fietse wat ʼn oplewing in die mark beleef, het Kawasaki besluit om hulde te bring aan die oorspronklike Z1 met die Z 900 RS. Hierdie fiets is, na my beskeie mening, seker die beste retro-fiets wat ek nog gery het. Nie net oor die tegnologie wat in hierdie fiets vervat is nie, maar ook die ongelooflike hoeveelheid detail van die Z1 wat Kawasaki in die ontwerp kon inbring.

Die Z1 se ronde agterlig is nou ’n ovaal LED‑eenheid en die ontwerplyne van die Z1 kan jy sien in die agterste dop oor die agterlig. Die saal het soortgelyke steke in soos dit op die Z1 was. Die brandstoftenk het dieselfde basiese lyne, maar is nou heelwat groter. Dis amper soos die omies wat ’n boepie kry soos die jare aanstap. Die ontwerp is egter só om voorsiening te maak vir die vergrote lug-inlate wat die brandstofinspuiting vereis.

Die Kawasaki Z 900 RS. Foto: Brian Cheyne

Toe ek egter na die instrumentasie kyk, was ek skoon nostalgies. Ek het my lisensie op ’n Kawasaki Z440 gedoen, en die instrumentasie kon netsowel van daar af gekom het. Daar is ’n spoedmeter en toereteller aan weerskante van ’n klein LCD‑skermpie. Selfs die letters, en die hoek waarteen die naalde op nul rus, is dieselfde as op die Z1. Natuurlik is die voorlig en die spieëls rond. Die LED‑flikkerliggies lyk amper onvanpas op hierdie fiets. Ek het daardie groot ronde oranje ligte verwag.

As jy op die RS sit, sit jy op ʼn sagte saal en die handvatsels is regop. Die skakelaars is bekende Kawasaki‑eenhede. Waar die Z1 vier uitlaatpype gehad het, het die RS net een. Die pyp is akoesties gestem en luier met ’n warm, diep toon. Die enjin is gebaseer op dié van die Z900‑kaalfiets, maar is heelwat kalmer gemaak om by die karakter van die RS te pas.

Die Kawasaki Z 900 RS. Foto: Brian Cheyne

Die krag is egalig op lae toere en die wringkrag is sodanig dat sesde rat genoeg is op die snelweg. Om motors verby te steek verg net ’n draai van die gewrig. Die enjin tol teen ’n gemaklike 4 500 rpm teen 120km/h en die maksimum wringkrag is beskikbaar teen 6 500 rpm. Dit beteken dat jy nog baie reserwe krag het, sou dit nodig wees.

Draaie is ook nie ’n probleem vir die Z900 RS nie. Met verstelbare vering voor en agter is die RS goed gemanierd. Gelukkig het Kawasaki twee ordentlike remme voor op die fiets gesit want die agterste rem voel vaag. Die fiets versnel ongelooflik, so die goeie remme boesem vertroue in.

Ek moet regtig gaan dink wat ek nie van hierdie fiets hou nie, want hy doen alles net reg. As ek nou iets moet uitwys, sal dit seker die plastiek onder die tenk en op die modderskerm wees wat voorgee dat dit metaal is. Maar dis dit. Ek het net ’n kort tydjie die RS onder hande gehad en ek moet sê, dís nou hoe jy retro reg doen!

Produkblad : http://kawasaki.co.za/product-details/z900-rs-se-2018/

Die feite:

Enjin948cc‑viersilinder
Gewig (nat)215 kg
Kraglewering82 kW  @ 8 500 rpm
Wringkrag98 Nm @ 6 500 rpm
Tenkkapasiteit17 ℓ
Saalhoogte835 mm
PrysR 175 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marco polo ·

Moenie vergeet van die Z650 met daai opwip stertjie en die klomp GPZs wat gevolg het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.