Kawasaki ZX-10 R kraai steeds koning op die baan

Die FIM Superfiets-wêreldkampioenskap, oftewel WorldSBK, is in 2019 vir die vyfde agtereenvolgende jaar deur Jonathan Rea van Brittanje gewen. Hy jaag met ’n Kawasaki ZX-10 RR. Sy oorwinning het ook aan Kawasaki die vervaardigerstitel besorg. Van die komponente wat van die ZX-10 RR so ʼn sukses maak, het nou begin verskyn op Kawasaki se padweergawe, die ZX-10 R Ninja.

Soms wens ek dat ek vir een dag die vaardigheid van Jonathan Rea kan hê om so ’n fiets regtig tot sy volle reg te laat kom. Ek bedoel ook nie net vinnig hier om ’n plaaslike baan nie; nee, ek bedoel op daardie vlak waar die presiesheid van elke komponent ’n verskil maak in die tyd van jou rondte.

Die Kawasaki ZX-10 R is ’n fiets wat een doel het, en dit is om wedrenne te wen. Niks minder nie. Die 2019-weergawe wat ek vir so ’n paar dae in gebruik gehad het, is feitlik identies aan die model wat ek in 2016 getoets het. Afgesien van die Kawasaki Racing Team- (KRT-)afwerking het ek gesukkel om hierdie twee modelle uitmekaar te ken. Die verskille is egter baie subtiel en meestal weggesteek agter die bakpanele van die fiets of diep in die elektronika.

Die silinderkop van die nuwe ZX-10 is nou rooi geverf om aan te dui dat dit een van WorldSBK se komponente is. Die silinderkop gee die kleppe meer beweegruimte wat die kraglewering op hoër toere merkbaar verbeter. Die snelskakeling is nou in albei rigtings wat beteken dat jy sonder die hulp van die koppelaar ratte kan verwissel.

Hoe Kawasaki dit regkry om al hierdie tegnologie in te pas in ’n motorfiets wat net 206 kg weeg, sal net hy weet. Die enjin lewer sy 203 perdekrag teen ’n verbysterende 13 500 rpm, en die verhouding van krag tot gewig is amper een tot een. Die ZX-10 beskik oor Kawasaki se RAM-Air-sisteem. Tussen die twee voorligte is ’n inlaat wat lug na die inlaatkleppe lei. Hoe vinniger jy ry, hoe meer lug word ingedwing. Met hierdie stelsel kan die kraglewering tot 213 pk toeneem!

Dit is egter met die instrumentasie wat die Kawasaki begin afsteek teen sy kompetisie. Die minimalistiese LCD-skermpie lyk verouderd teenoor die hedendaagse volkleur-TFT-skerms. ’n Paar van die 2020-Kawasaki-modelle het reeds TFT-skerms, so die ZX-10 se opgradering is dalk nie te ver weg nie.

Kawasaki ZX 10 R. (Foto: Verskaf)

Die fiets vertoon klein, só kompak is alles in die ZX-10. Dit maak ook dat iemand wat nou al verby sy middeljare is, soos ek, maar moeilik op die Ninja sit. Die hefbome vir die koppelaar en voorrem is teen ’n ongemaklike hoek gemonteer. Dit is egter wanneer jy jou maag op die tenk neersit en agter die skermpie inkruip dat jou arms reguit word en jy besef die ZX is gemaak vir spoed en nie gemak nie.

Die snelskakeling is seker van die bestes wat ek al ervaar het en die ratskakeling het vir my ’n speletjie geword. As jy die toere nét regkry, en die rathefboom op die regte tyd lig, dan klap die uitlaatpyp soos ’n sweep. Ek kan amper nie glo hierdie pyp het die streng Euro 5-standaarde geslaag nie. Dit is ’n heerlike klank.

Die Kawasaki ZX-10 R is nie jou tipiese pendelfiets nie. Hy hoort op ’n baan of êrens op ’n stil kronkelpad met hier en daar ’n lang reguit stuk. Hy wil vry wees. Vry om ongesteurd vir jou te wys hoekom hy steeds WorldSBK oorheers.

Produkblad: http://kawasaki.co.za/product-details/ninja-zx-10r-wsb-2019/

Die feite:

Enjinkapasiteit998 cc inlyn viersilinder
Gewig (Nat)206 kg
Kraglewering203 pk/149 kW @ 13 500 rpm
Wringkrag115 Nm @ 11 200 rpm
Tenkkapasiteit17 L
Saalhoogte835 mm
PrysR259 995

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre C ·

Brian ,kan jy vir ons die versnelling en maks spoed gee. baie lesers soos ek het nie n idee waartoe hierdie klas fiets in staat is nie

Brian Cheyne ·

Andre C, dankie vir jou navraag. Ek bly maar weg van daardie tipe statistieke omdat die vervaardigers self nie hierdie tipe inligting op hul webtuistes aandui nie. Jy moet maar glo wat sekere bronne sê. Wat ek wel kan sê, is dat die ZX-10 R in standaard mondering van 0-299 km/h kan versnel in minder as 20 sekondes. 0-100 doen hy in minder as 3 sekondes, bloot omdat jy dan nog steeds in eerste rat is. 160 in eerste rat is amper die norm vir superfietse. Meeste vervaardigers beperk hulle fietse tot 250 of 299 afhangend van die mark. Ek gaan volstaan deur te sê die ZX-10 R is ‘n baie vinnige fiets. :)

Swannie ·

Die fiets kan 120km/h ry, want as jy vinniger gaan word jy toegesluit !!

Onprakties om so `n fiets te koop en weet jy gaan in die moeilikheid beland.

AGGE NEE OU SWANNIE ·

Swannie, dis mos nou ‘n stupid redenasie. Enige motorfiets, selfs ‘n 120cc, kan vinniger as 120 km/h ry. Die kleinste motor kan vinniger as 120 km/h ry. So ek stel voor jy kry ‘n fiets , en nie ‘n 12 spoed resiesfiets nie. Jy mag dalk 120 km/h haal op ‘n afdraende. En hulle sluit eers toe op 90 km/h in die dorp en 160 km/h op snelweg. So om te sê dis onprakties om so ‘n motorfiets te koop net omdat die fiets vinniger as 120km/h is nou wragtig die stupidste redenasie nog want dit sluit enige voertuig/motorfiets te koop in.

Ben Niemand ·

Kawasaki het die laaste paar jaar besonderse fietse uitgebring! My vrou het ‘n 650z wat ‘n fantastiese fiets is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.