Kenners gee veiligheidswenke vir veldry

Die Land Rover Defender. (Foto: Verskaf)

Met Suid-Afrikaners wat nou meer vrylik mag reis, beplan talle inwoners om binnekort die dolle gejaag agter te laat in ruil vir ʼn kuiertjie in die bosveld. Virseker het ʼn veldry-veiligheidsgids saamgestel om te verseker dat jy jou bosveld-padvat veilig kan geniet.

“Vir sommige is veldvoertuie meer as net vervoer. Dit is ʼn leefstyl,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Of jy iemand is wat net van ʼn hoër rithoogte hou of graag taai en uitdagende roetes aanpak, is dit noodsaaklik om seker te maak dat jy die voertuig so veilig as moontlik hanteer terwyl jy die vreugdes daarvan geniet.”

Coetzee, met die raad van kenner Christo van Loggerenberg, hoofinstrukteur by die Land Rover Experience Centre, gee die volgende goue reëls vir veldrit-entoesiaste.

Veiligheid eerste: Maak seker jou voertuig is padwaardig en goed onderhou. Wees deeglik bewus van jou omgewing en moenie ʼn oorambisieuse roete aanpak nie. Gaan eerder om ʼn uitdagende hindernis.

Ken jou voertuig: Of jy ʼn ouer voertuig of een met die nuutste tegnologie het, maak seker dat jy goed vertroud is met sy kenmerke, vermoëns en beperkings.

Spoedslim: Die sleutel tot veldritveiligheid is “so stadig as moontlik, so vinnig as nodig”, wat impliseer dat ʼn mens net so vinnig moet beweeg as wat absoluut nodig is om ʼn hindernis te oorkom, maar eerder stadig en berekend moet beweeg indien moontlik.

Gebalanseerde vrag: Maak seker dat jou voertuig nie oorlaai is nie en dat die vrag en bybehore behoorlik vas en gebalanseerd gepak is. Een brandstofkan uit sy plek kan jou voertuig se balans noemenswaardig beïnvloed.

Kies slim met bybehore: Kies bybehore wat jou voertuig sal help om sy taak optimaal te verrig. Belê in goeie veiligheidstoerusting vir enige veldritnoodgeval. Kies die regte bande vir die soort terrein wat jy gaan aandurf. Kies voor- en agterbuffers of bosbrekers, sowel as glyplate wat jou voertuig beskerm, maar steeds die nodige grondvryhoogte bied. Hou ʼn gereedskap- en onderdelestel byderhand vir basiese voertuig- en bandherstelwerk. Hou ook ʼn kompressor byderhand vir wanneer jy bande moet pomp. Belê in ʼn goeie hoogligdomkrag, traksieplate en selfs ʼn wenas om jou uit moeilike situasies te kry. Belê ook in energie-doeltreffende elektriese stelsels om jou omgewing te belig en maak seker jy het ʼn goeie stel laaikabels byderhand.

Let op na die volgende: Een van die gewildste bybehore is ʼn verhoogde luginlaatpyp, waarna gereeld as ʼn “snorkel” verwys word. In teenstelling met die oortuiging dat dié soort luginlaatpyp ʼn voertuig in staat stel om in dieper water te kan ry, is dit eintlik ontwerp vir stowwerige toestande, waar daar minder stof op ʼn hoër asemhalingspunt is. Volgens Van Loggerenberg word die watertrotseringsvermoë (wading specification) van ʼn voertuig deur baie meer as net die luginlaatpyp bepaal: “Ons moet ook dinge soos elektroniese toestelle, ewenaar- en ratkas-asemhalingstoestelle, alternators en watertoegangspunte in ag neem. Indien selfs net een van hierdie faktore oorgeslaan word in die voorbereiding van jou voertuig vir dieper water, kan dit ernstige skade veroorsaak.”

Die nuwe Land Rover Discovery (Foto: Land Rover)

Wanneer dit by praktiese wenke kom om ʼn roete veilig en paraat aan te pak, het Van Loggerenberg se omvangryke opleidingservaring hom geleer dat bestuurders gereeld oorweldig word deur die mag der menigte reëls en beginsels om te onthou. Gevolglik het hy die belangrikste wenke vereenvoudig tot wat hy die “3 groepe van 3” noem.

 1ste groep van 3: Naderingshoek, oorbruggingshoek en vertrekhoek

Dit verwys na of jou voertuig aan die bou- en verrigtingsvereistes voldoen om dit tot in, en deur, ʼn hindernis te maak.

 2de groep van 3: Verkenning, risiko-assessering en verantwoordelikheid

 Verkenning of inspeksie van jou beplande roete is van kritieke belang. Jy moet seker wees dat jou voertuig ook dit wat aan die ander kant van ʼn hindernis is, kan hanteer. Daar kan byvoorbeeld ʼn diep poel water aan die ander kant van die heuwel wat jy aanpak wees – een waaruit jou voertuig dalk nie kan kom nie.

Risiko-assessering sluit enige moontlike risiko vir jou, jou voertuig en die omgewing in. Dit sluit gate, klippe, bome, hellings en die moontlikheid om te gly of om te val in. Die pad wat jy kies, kan dalk teen ʼn helling wees wat jou voertuig kan hanteer, maar ʼn rots wat in die pad is, kan jou voertuig dalk verby sy kantelpunt dryf.

Verantwoordelikheid hou verband met hoe jy reageer op jou assessering hierbo. As daar ʼn risiko is vir enige iemand om seer te kry, enige iets om beskadig te word of vir die omgewing om skade te ly, soek eerder ʼn veiliger roete.

3de groep van 3: Stelsels en ratte, stuur en pedale

 Stelsels en ratte: Dit is noodsaaklik om die meganiese en elektroniese hulpmiddels tot jou beskikking vir ʼn spesifieke uitdaging in te span. Dit behels om te besluit watter stelsels – soos afdraandbeheer, terreinreaksie, dinamiese stabiliteitsbeheer, ewenaarslotte, hoëstrek- of laestrek-ratverstellings – aan of afgeskakel moet word.

 Stuur: Dit is van kritieke belang om ʼn lyn van stuur te kies wat jou die beste kans gee om ʼn spesifieke hindernis te oorkom. Sorg ook vir ʼn plan B ingeval jou oorspronklike lyn nie die gewenste resultate oplewer nie.

Pedale: Dis baie belangrik om die gebruik van pedale – veral die versneller en rem – te balanseer om presies die regte hoeveelheid krag en wringkrag, sowel as presies die regte hoeveelheid remkrag, toe te pas waar nodig. Selfs al doen moderne voertuie die meeste van die werk, is dit noodsaaklik om hierdie vaardighede op te skerp omdat ʼn fout tot ʼn ramp kan lei.

Coetzee sluit af: “Op die ou einde is dit wys om altyd ingelig, goed voorbereid en waaksaam te wees en natuurlik omvattende versekering in plek te hê ingeval die uitstappie in meer van ʼn bosbreek ontaard as wat jy beplan het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Reel twee – As jy wel n land Rover ry, neem jou hond saam, dan hoef jy nie alleen terug te loop nadat dit gebreek het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.