Kia Seltos wys sy vleis

Deur Gerhard Horn

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

Daar was ek, op die N4, in die rigting van Tzaneen. Elke kilometer vorentoe was ’n kilometer verder as wat ek die afgelope ses maande van die huis af was.

Ek het met Kia se Seltos gery, ’n kar wat ek so nege maande terug die eerste keer gery het. Ek het hom weer gery, want Kia het onlangs besluit om ’n dieselenjin by die reeks te voeg. Ek gaan nie doekies omdraai as dit by die kar kom nie. Ek dink die Seltos is tans een van die beste kopies beskikbaar in Suid-Afrika.

My gesin bestaan uit vier lede, twee onder die ouderdom van sewe. Die Seltos is net die regte grootte vir ons. Niks meer en niks minder as wat ons nodig het nie. Die Kia is effe duur, maar hy het nie regtig mededingers waarmee jy hom direk kan vergelyk nie. Die meeste van die kompetisie is goedkoper, maar ook baie kleiner. Mitsubishi se ASX en Hyundai se Creta kom die naaste, maar albei is al ʼn bietjie lank in die tand. Daar is eintlik net een ander kar wat dieselfde spasie bied – Renault se Duster waarmee ek ook al gery het.

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

Die rede vir ons besoek aan Tzaneen was eenvoudig. Kia borg Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie, en Tzaneen is een van die semi-finaliste. Op pad soontoe het ons ook by so ʼn paar plekke gestop om ʼn bietjie geld in die omgewing se ekonomie in te pomp. Soos ons almal weet, trek mense in die toerismebedryf swaar, en noudat die reëls verslap het, kan ons as Suid-Afrikaners weer uitgaan en dit die hupstoot gee wat dit so broodnodig het.

Die 1.5-viersilinderdieselenjin is splinternuut. Hy lewer 86 kW en 250 Nm se wringkrag. Jy kan hom kry met ’n sesspoed-handrat, of ’n sesspoed-outo. Ek was in die EX+ outomaties. Ek dink nie dis die beste kopie in die reeks nie, want alles wat jy regtig nodig het, is reeds standaard op die goedkoper EX-model. Die EX bied jou ses lugsakke, ABS en EBD.

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

Die luukshede sluit in lugversorging, spoedbeheer, Bluetooth, een USB-proppie en ’n groot 8”-raakskerm-inligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied. Vir my is dit als wat ek nodig het; so ek sien geen rede om die ekstra R18 000 uit te gee vir daai plusteken nie.

Die dieselenjin en ratkas werk lieflik saam. Met 250 Nm se wringkrag is dié enjin die kragtigste wat jy tans in die Seltos kan kry. Die 1.4-turbopetrol is bietjie vinniger, maar as dit kom by ander karre verby vat op die snelweg is die diesel baas. Hy het so ʼn klein bietjie meer vleis om die bene. Die ratkas is goed in die sin dat jy vinnig van hom vergeet. Hy doen sy werk lekker rustig in die agtergrond. Hy skop af as hy moet, en die ratverwisselings is seepglad. Die ander bonus is natuurlik die dieselverbruik. Op ons toer van Limpopo het hy so 5,5ℓ/100km gebruik.

Tebogo van Zwakala Brouery wys vir ons hoe hulle bier maak.

Sommer vinnig was ons by die Zwakala Brouery so 40 km buite Tzaneen. Dié onderneming het natuurlik swaar getrek gedurende die inperking, maar hulle is dankbaar dat dinge weer semi-normaal is. Na ʼn vinnige knertsie van hul fantastiese bier, het ek die kar se sleutels aan my vriend oorhandig om ons by die hotel te kry.

Die Fairview Hotel in Tzaneen is een van die mooiste plekke waar ek nog was. Die mense daar was tog te bly om ons te sien, wat maar redelik standaard by enige blyplek deesdae is. Dit was ook deel van die avontuur. Kia probeer hard om mense te oortuig dat daar soveel wonderlike plekke in ons land is wat jy kan besoek, en dat jy dit eerder moet probeer voordat jy jou kaartjie Italië toe boek vir Desember.

Die Fairview Hotel is voorwaar ’n vyfster-ervaring.

Terwyl ek daar gesit en wag het vir aandete om te begin, loop ek rondom die Seltos. Ek probeer sin maak van die kruismodel, en sy prys. Hy is duurder as die swetterjoel kruismodelle, maar ook groter. Dieselfde geld vir Renault se Duster, maar die Duster is baie goedkoper. Daar is wel ’n baie goeie rede daarvoor. Alhoewel die Seltos se afwerking op party plekke nie so goed soos in die Sportage is nie, is hy myle beter as die Duster in die opsig. Die rit is gemakliker, die binneruim is stiller en die gehalte is beter. Ergonomies is hy ook ’n redelike entjie voor. Ongelukkig is die Duster ook byna R80 000 goedkoper, en dit is ’n hengse klomp geld.

As ’n gewese eienaar van ’n Duster kan ek jou dié advies bied: As jy dit kan bekostig, gaan vir die Seltos. Ek sou. Dit is net soveel gemakliker, en ’n lieflike plek om tyd deur te bring. Die Duster is ook ’n baie goeie kar. Ek moet ook noem dat jy vir die prys van die Seltos 1.5 CRDI EX outo ʼn intreevlak Kia Sportage kan koop. As jou familie groter as myne is, maak daai kopie baie meer sin. Ek kan die argument ook andersom maak. ’n Sportage met al die lekker speelgoed verhandel vir R550 000, en met die meeste mense wat deesdae sukkel met finansies as gevolg van die inperking, gaan hulle begin rondkyk vir goedkoper opsies. Die stap af van ’n Sportage tot ʼn Seltos is nie so groot soos wat jy dink nie, en iets waarna jy moet kyk as jy in die mark is om daai maandelikse karbetalings ʼn bietjie af te bring.

Die Old Packhouse Distillery werk tans aan ʼn reeks rum wat binnekort beskikbaar sal wees.

Op pad terug die volgende dag stop ons vinnig by die Old Pack House Distillery om te kyk hoe gin gemaak word, gevolg deur ʼn lekker rustige middagete in die pragtige Haenertsburg. Ek het al telkemale verby die dorpie gery, en nooit die moeite gedoen om daar te stop nie. Dis beeldskoon, die mense is lieflik en die kos is fantasties. As ek kon, het ek die hele naweek gebly.

Op pad terug na Pretoria probeer ek tot ʼn slotsom kom oor die Kia Seltos-diesel. Ek hou baie van hom. Daar is baie wat in sy guns tel, maar die prys pla bietjie. Nie soveel dat ek hom nie sou aanbeveel nie, maar ek dink mense gaan in die toekoms baie versigtiger wees met hulle geld. Gelukkig weet ons nou dat Kia tans werk aan ʼn kruismodel wat onder die Seltos gaan inpas, en dit gaan interessant wees om te sien hoe daai karretjie doen.

In my opinie is die Seltos bo gemiddeld, en ek is meer as bereid om hom aan te beveel. Ek moet ook net noem dat jy Kia se hele modelreeks goed moet nagaan om te kyk of daar nie dalk iets is wat jou beter sal pas nie.

Die reeks lyk só:

Kia Seltos 1.5 CRDI EX handrat86 kW/250 Nm5,1 ℓ/100 kmR410 995
Kia Seltos 1.5 CRDI EX Outo86 kW/250 Nm5,7 ℓ/100 kmR428 995
Kia Seltos 1.5 CRDI EX+ Outo86 kW/250 Nm5,7 ℓ/100 kmR446 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só

Renault Duster 1.5 dCi TechRoad Outo80 kW/250 Nm7,9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R350 900
Mitsubishi ASX 2.0 outo110 kW/197 Nm4,8ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R414 995
Hyundai Creta 1.6D Executive94 kW/260 Nm7,4ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R455 500
Kia Sportage 1.6 GDI Ignite outo97 kW/161 Nm7,7ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R430 995

Ek vergelyk die spesifieke voertuie, want hulle bied almal ʼn bietjie meer ruimte as die kleiner kruisvoertuie, en is almal beskikbaar met ʼn outoratkas. Die ASX en Sportage het albei atmosferiese petrolenjins, so die verrigting gaan nie naastenby so goed wees soos dit in die Seltos is nie. Myns insiens is die Duster die grootste kompetisie en beter waarde vir geld, maar die Seltos is ’n beter kar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.