Kia stel sportnutserige kruismodel bekend

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

Daar is ʼn reusebeweging van sedanmotors na sportnutse en kruismodelle. Kia het tot nou toe nog nie ʼn rolspeler in die kompaksportnutsegment gehad nie …

As ons kyk na ʼn vervaardiger soos Volkswagen verskil die groottes bepaald van mekaar. Die kleinste is die T-Cross, dan kom die kruismodel – die T-Roc, en dan die Tiguan, Tiguan Allspace en Touareg. Die T-Roc en die Tiguan is nie ver van mekaar af in grootte nie, maar wel in ontwerpstyl. Dieselfde geld vir die Seltos. Daar is nie ʼn reuseverskil tussen die getroue ou Sportage en die nuweling nie.

Ek krap my kop – en kan nie met ʼn goeie antwoord vorendag kom oor hoekom Kia nie eerder ʼn klein sportnuts sou ontwikkel voordat hulle die kruismodel gemaak het nie. Dit laat my in ʼn vreeslike tweestryd … watter een sou ek kies?

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

Die nuwe Seltos het ʼn redelik netjiese ontwerp. Daar is ʼn chroomstrook op die kap wat nie vir my heeltemal mooi by die ontwerp pas nie, verder is alles waar dit hoort. Die LED-dagligte lyk bitter mooi as dit begin donker word.

Die binneruim is lekker ergonomies uitgelê. Ek is nie die grootste liefhebber van die paneelbord nie en die Sportage is bewys dat Kia beter kan vaar in dié opsig. Verder is al die truuks soos spoedbeheer daar, maar nie klimaatbeheer nie – heel vreemd.

Dit bring my by die Seltos se beste, en slegste punt. Die 1.4-viersilinderturbopetrolenjin is puik. Nou ja, 103 kW en 242 Nm is nie te versmaai nie – én hy’s heel billik op brandstof … Kia beweer 6.3 ℓ/100 km. Let wel, 0–100 km/h neem 9,7 sekondes en hy sal aanhou draf tot 189 km/h. Goed. Daai 1,4 is gepaard aan Kia se sewespoed-dubbelkoppelaarratkas.

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

In beginsel is dubbelkoppelaarratkaste puik, maar van hulle kan effe stamp en stoterig raak – dié is een van hulle. Ek moet byvoeg – die ratkaste is intelligent en leer ʼn mens se rygewoontes aan – so, naderhand raak dit rustiger en gladder namate die ratkas jou leer ken, en jy die baie sensitiewe versneller. As ʼn mens nie versigtig is met hom nie, dan wil die Seltos met alle mag wegsnol met skreeuende bande en wringkrag wat die stuurwiel in jou hande rondruk.

Wêreldwyd sit baie vervaardigers dié DCT-ratkaste in hul motors om een rede – emissieregulasies. In ʼn laboratorium is die DCT-ratkaste baie goed daarmee om die omwentelinge so laag moontlik te hou vir die CO2-toets – ongeag hoe dit die ervaring agter die stuur beïnvloed. Ek dink egter dié enjin en Kia se sesspoed-wringkragomsitter-outo sal ʼn baie beter huwelik wees.

Die Kia Seltos. Foto: Verskaf

Op die oop pad loop die Seltos soos ʼn windhond. Die enjin is voorwaar baie gretig. Daar is heelwat windgeraas óm die kajuit – waarskynlik weens die aggressiewe ontwerp en dakrelings. Die Seltos hoort bitter veilig te wees met ses lugsakke, ABS, EBD en stabiliteitsbeheer.

Dit is vir my moeilik om die Seltos op te som. Ek voel of ek ʼn bietjie onregverdig is met hom – maar die Seltos word in Indië vervaardig – en ʼn mens kan dit voel … die gehalte is nie waar die Slowaaks geboude Sportage die standaard gestel het nie. Die Seltos is ook nie goedkoop nie. Ek dink met nog ʼn bietjie verfyning en instelling kan die Seltos net so goed soos sy ouboet wees – maar dis hoekom ek steeds ʼn Sportage sou neem en nie ʼn Seltos nie.

Die reeks lyk só:

Kia Seltos 1.6 EX90 kW/151 Nm6.9 ℓ/100 kmR380 995
Kia Seltos 1.6 EX outo90 kW/151 Nm7.2 ℓ/100 kmR398 995
Kia Seltos 1.6 EX+90 kW/151 Nm7.2 ℓ/100 kmR416 995
Kia Seltos 1.4T-GDI GT-Line103 kW/242 Nm6.3 ℓ/100 kmR471 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Renault Duster 1.5dCi TechRoad outo80 kW/250 Nm7.9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R350 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid outo88 kW/172 Nm6.9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R360 500
Mitsubishi ASX 2.0 outo110 kW/197 Nm4.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R414 995
Volkswagen T-Cross 1.5TSI 110 kW R-Line110 kW/250 Nm5.5 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R415 600
Kia Sportage 1.6 GDI Ignite outo97 kW/161 Nm7.7 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R430 995
Toyota Rav4 2.0 GX127 kW/203 Nm6.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6-dienstediensplan

R454 500
Kia Sportage 2.0 Ignite + outo115 kW/196 Nm8.1 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R454 995
Hyundai Creta 1.6D Executive94 kW/260 Nm7.4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R455 500

Hier vergelyk ek sommer die hele vrugtebak met mekaar. Diesel, petrol en turbo alles deurmekaar. Almal is wel outo. As ʼn mens die Seltos 1.4T-GDi in dié mengsel voeg, is hy met ʼn redelike marge die duurste. Ek is nie oortuig dat die Seltos ʼn beter voertuig is as ʼn groter Sportage of Rav4, en die effe kleiner T-Cross 1.5TSI nie – almal baie goedkoper met goeie spesifikasievlakke … selfs beter. Gaan toetsbestuur almal, maar tussen dié staan die Duster, Venue, T-Cross, Rav4 en Sportage vir my uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.