Kirsten Landman droom groot

Kirsten Landman. Foto: Merzouga Rally

Suid-Afrika se Kirsten Landman het amptelik met die kwalifiseringsproses vir die 2020 Dakar-tydren begin.

Met ʼn droom om die eerste vrou uit Afrika te word om die ikoniese tydren te voltooi, het Landman na Marokko gevlieg om aan die Merzouga-tydren deel te neem. Dié tydren duur van 1 tot 5 April. Landman hoef net die tydren te voltooi om haar plek te verseker in volgende jaar se Dakar.

Die 27-jarige Landman het al van die wêreld se moeilikste en mees tegniese terreine aangepak en verower. Nou is haar fokus op die grootste een van hulle almal.

Dit was die Suid-Afrikaanse Dakar-legende Joey Evans wat Landman se belangstelling geprikkel het. Evans het die 2017 Dakar voltooi nadat hy herstel het van ʼn Enduro-motorfietsongeluk wat hom verlam gelaat het. Landman onthou toe hy teruggekeer het van die Dakar-tydren en opgewonde vir haar gesê het: “Kirst, jy moet dit probeer!”

Kirsten Landman in aksie. Foto: Merzouga Rally

Landman was vyf jaar gelede in ’n groot ongeluk in Botswana betrokke. Voordat sy enige Dakar-ambisies kon koester moes sy eers haar eie vrees vir spoed oorkom. Sy het vir kleiner tydrenne ingeskryf om haar vertroue terug te kry en in 2018 is sy terug Botswana toe om die dieselfde wedren te voltooi waar haar ongeluk plaasgevind het.

Landman, met die steun van Ryobi Africa, is nou op die punt om haar Dakar-droom ’n werklikheid te maak. Sy is na die Sahara-woestyn op haar KTM 450 Rally Replica om voor te berei.

Landman het op agt die eerste keer ’n been oor ’n motorfiets gegooi en alles wat in die laaste 19 jaar gebeur het, het haar tot by hierdie punt gebring. As jy ná haar ongeluk vir haar die Dakar genoem het, sou sy seker net haar kop geskud het. Omdat sy aan feitlik elke harde Enduro-wedren deelgeneem het, was Dakar die logiese volgende stap.

Kirsten Landman. Foto: Merzouga Rally

Ná Evans se inspirerende woorde het sy die besluit om in te skryf met haar ouers bespreek. Die besluit is nie ligtelik geneem nie want sy is heeltemal bewus dat die Dakar nie maklik is nie. Sy is ook bewus dat dinge baie vinnig kan skeefloop op die moordende roete, maar daar is nie nou tyd vir omdraai nie.

Met haar vrees vir spoed agter haar moet sy begin fokus op ’n totaal ander stel vaardighede. Sy het byvoorbeeld nog nooit duine gery nie en die navigasie wat in die Dakar gebruik word, is ook nuut vir haar. Selfs net die voorbereiding vir die Merzouga-tydren was al genoeg om te besef dat hierdie nie net ’n vinnige naweek Enduro-resies is nie.

Sy moet hierdie tydren klaarmaak om te kwalifiseer, en dit is al waarop sy nou fokus: “Moenie bekommerd wees oor enigiemand anders nie, maak net klaar. As ek die laaste een oor die eindstreep is, dan is dit ook goed!”

Volg Landman se voorbereiding hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.