Klein sportnutse begin nou sin maak

Die VW T-Cross. Foto: Verskaf

Die piepklein sportnuts-segment is nie my gunsteling nie. Ek glo dat ʼn doodgewone luikrug ʼn beter, goedkoper en ligter op brandstof-opsie is – wel meeste van die tyd. Ek praat hier van tjorre soos Ford se EcoSport, Hyundai se Venue en nou ook Volkswagen se T-Cross.

Volkswagen het drie spelers – prysgewys, baie naby aan mekaar in dié segment. ʼn Mens kan kies tussen ʼn Polo, T-Cross of intreevlak Golf. Nou begin dit sin maak: Ongeag jou behoeftes is daar ʼn oplossing.

Die T-Cross se ontwerp is vir my oulik. Meer só met die R-Line pakket op, maar dit is geen geheim dat ons Suid-Afrikaners altyd die sportiewe ontwerpe verkies nie.

Die VW T-Cross. Foto: Verskaf

Nog ʼn ding wat VW reg doen is dat die T-Cross nie belaglik hoog en regop is nie. Dis eerder ʼn Polo wat met ʼn 25%-vergroting in die fotostaatmasjien gedruk is.

Die binneruim van die T-Cross bied voorwaar baie meer ruimte as wat ek aanvanklik sou dink. Dís die enigste rede hoekom ek sal instem en sê dat die T-Cross ʼn goeie opsie is om van ʼn Polo op te gradeer, want dit bied werklik meer ruimte. Dan kom ons by Volkswagen se bougehalte. ʼn Mens kan regtig nie in die kajuit fout vind nie. Al wat afsteek is die plastiek deurkaarte. Ek sou graag materiaal óf leer daar wou gehad het, maar ek stem geensins saam met ander media wat sê die materiale en gehalte in die kajuit is sleg nie.

Die VW T-Cross. Foto: Verskaf

Die nuwe digitale instrumente is fantasties. ʼn Mens kan verander wat én hoe al die inligting uitgebeeld word. Die klankstelsel bied CarPlay en Android Auto, daar is spoedkontrole as standaard en ʼn mens kan aanpasbare spoedkontrole kies as opsie. Dit is beslis iets wat ek sou kies in my eie T-Cross. ʼn Mens stel die spoedkontrole na 120 km/h en hy sal dit handhaaf tot daar ʼn voertuig voor jou is – dan sal hy die spoed verminder en daai motor teen ʼn veilige afstand volg tot jy verbygaan – dan gaan hy terug na 120 km/h toe. Saam met die aanpasbare spoedkontrole kom blindekol- en botsingswaarskuwing.

In die Highline-model wat ons getoets het is daar ʼn draadlose laaimatjie vir jou foon – maar CarPlay vereis nog die draad. Dit sal wel begin verander in die toekoms soos alle vervaardigers skuif na ʼn Bluetooth en WiFi-koppeling vir CarPlay.

Die VW T-Cross. Foto: Verskaf

Daar is ongelukkig tans net een enjin in die T-Cross-reeks beskikbaar. Dis VW se 1.0 turbodriesilinderpetrolenjin. Die enjintjie bied 85 kW en 200 Nm. Albei spesifikasievlakke kry VW se 7-spoed dubbelkoppelaarratkas. 0 – 100 km/h neem 10,2 sekondes en die T-Cross sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 193 km/h. Die enjin voel lekker op die pad, al kwaal wat ek het, is die nuwe programmering van die DSG-ratkas wat die omwentelinge so laag moontlik probeer hou, dan kan die T-Cross dood voel, maar dis maklik opgelos deur om die rathefboom ʼn vinnige stamp te gee, dan is die ratkas in Sport – dan wissel hy vir my in ʼn beter toerestrek as ʼn mens nie net stadig rondploeter nie. In die dorp as mens haastig is, kan die T-Cross dors raak – maar op die oop pad teen 120 km/h sal hy 5,7ℓ/ 100 km handhaaf.

Die VW T-Cross. Foto: Verskaf

Op die pad is waar die T-Cross uitblink. Die onderstel veg bó sy gewig. Dit voel meer soos ʼn Golf as wat dit soos ʼn Polo voel, so wat VW met die platform uitgerig het, is puik. ʼn Mens is luuks geïsoleer van meeste van die NVH- (Noise Vibration and Harshness) vlakke. Die ritgehalte is lekker sag sonder enige bakrol en die padhouvermoë oorgenoeg vir dié segment voertuig. Ek het ʼn paar langafstand trippies in die T-Cross aangedurf van bó 100 km elk en die en met die T-Cross se aanpasbare spoedkontrole en outoratkas vreet hy die myle op. Die kajuit is lieflik stil en die BeatsAudio-klankstelsel speel vir ʼn vale. As jy so klein sportnutsie wíl hê – dan is die T-Cross beslis ʼn baie sterk mededinger om te oorweeg. Daar behoort vanjaar (as Covid-19 nie al VW se planne vernietig nie) nóg twee T-Cross-modelle in SA te land. ʼn Trendline-handratmodel met 70 kW wat VW probeer om onder R300 000 te prys, en dan die reeksleidende 1.5TSI Highline met 110 kW en 250 Nm.

Die reeks lyk só:

Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85 kW ComfortlineR343 300
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85 kW HighlineR374 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 120 000 km waarborg en 3 jaar/ 45 000 km diensplan

Die kompetisie lyk só:

Mahindra XUV300 1.5TD W886 kW/ 300 Nm4,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R324 999
Renault Duster 1.5dCi TechRoad outo80 kW/ 250 Nm4,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R332 900
Ford EcoSport 1.0T Titanium outo92 kW/ 170 Nm6,3 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R360 900
Peugeot 2008 1.2T GT Line outo81 kW/ 205 Nm5,2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R368 900
Citroën C3 Aircross 1.2T Shine81 kW/ 205 Nm6,5 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R369 900
Hyundai Venue 1.0T Glide88 kW/ 172 Nm6,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R369 900
Kia Seltos 1.6 EX outo90 kW/ 151 Nm7,2 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R376 995

Tussen dié mededingers moet dit opgemerk word dat die Duster en Seltos groter is as al die ander en eintlik in klas van hul eie begin meeding. Ál die mededingers het ʼn sterk punt. Die enigste een waarteen ek sal waarsku is die Ford – hy is baie swaar op brandstof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

amot ·

Brendan, ek het ook na die T-cross gaan kyk toe hulle bekend gestel is. Wat my opgeval het is dat VW oordadig van harde plastiek gebruik gemaak het in die binneruim. Alles lyk mooi, maar moet nie dieper delf nie. Iets wat ek toe ook gesien het, asook op ‘n hele paar op die pad gesien het, is dat die bakpanele nie baie mooi pas nie. Veral agter en rondom die agterligte is dit opvallend hoe die gapings aan die linker en regter kant verskil. Doen jouself ‘n guns en kyk bietjie daarna as jy een van hulle sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.