Kom leer motorfiets ry by die kerk

Foto: Brian Cheyne

Ek onthou nog hoe ek leer motorfiets ry het. My broer se vriend Krisjan het ’n groen Suzuki AC50 gehad. As my broer saam met sy vriende gaan uithang het, het hulle gewoonlik hul motorfietse by ons huis kom los.

As ek uitgewerk het dat hulle nou lank genoeg weg was, dan het ek skelmpies op Krisjan se motorfiets in ons agterplaas rondgery. Motorfietse het maar ’n unieke manier om jou aan te raak, maar wat nou gemaak as jy nie ’n Krisjan in jou lewe het nie? Wel, daarvoor het die Christian Motorcycle Association (CMA) dalk ’n oplossing.

Foto: Brian Cheyne

Voor jy jou CMA-kleure mag dra, moet jy ’n kursus aflê in gevorderde rykuns. Om die standaard te handhaaf het die CMA sy eie kursus ontwikkel. Hierdie kursus bied intermediêre opleiding om bestaande ryers ’n paar vaardighede aan te leer om van hulle veiliger ryers te maak.

Die CMA hier in Gauteng het nou die kursus uitgebrei en bied ’n beginnersklas aan. Hierdie kursus is vir mense wat nog nooit in hul lewe ’n motorfiets gery het nie, of iemand wat lank genoeg die agteroppie was en nou self wil ry.

Foto: Brian Cheyne

Vir hierdie kursus om ’n sukses te wees, het hulle motorfietse nodig gehad. Suzuki Suid-Afrika het tot die redding gekom en tien motorfietse en twee simuleerders geborg. Opleiding word deur CMA-lede gedoen wat hul tyd opoffer om meer mense op motorfietse te kry op ’n veilige en verantwoordelike manier. Suzuki het wel die motorfietse gegee, maar sonder vrywillige instrukteurs wat bereid is om opleiding te gee, sou hierdie projek nooit van die grond af gekom het nie.

Ek het ’n opleidingsdag gaan bywoon en was verbaas om te sien dat daar meer dames as mans  opgedaag het vir die beginnerskursus. Die eerste takie vir die dag was koffie en ’n handskudsessie. Daarna is die studente vir ’n vinnige veiligheidslesing deur een van die instrukteurs.

Foto: Brian Cheyne

Die inhoud behels veiligheidsdrag en basiese oorlewingswenke. Dit maak nie saak hoe lank jy al motorfiets ry nie, mens leer altyd iets by so ’n kursus.

Buite het die Suzuki’s reggestaan vir ’n paar studente om hul eerste gevoel vir motorfietsry te kry. Dié wat al ’n basiese kennis van motorfietse het, is eers op bromponies losgelaat. Geen ratverwisseling is nodig nie, net basiese balans. Van die dames het nog nooit ’n motorfiets gery nie, en hulle moes eers op die simuleerder begin. Dit is ’n motorfiets wat vas is aan ’n raam en die agterwiel loop op ’n roller. Die gedagte is dat jy eers leer waar al die kontroles sit en hoe hulle werk, voordat jy kan oorskuif na die bromponie.

Foto: Brian Cheyne

As jy voel jy is behendig op die bromponie skuif jy oor na die Suzuki GS150-fietsies. Hier kom die ekstra stap in om met ’n koppelaar te werk. Ek het presies geweet hoe hierdie mense voel, want ek kon goed onthou hoe ek gesukkel het met die koppelaar en koördinasie op Krisjan se fiets. Vandag kom alles so vanself.

Ná twee uur kon selfs die heel beginners die fietse baasraak en kon hulle al hoe verder en beter begin ry. Natuurlik moet die nuut aangeleerde vaardighede deeglik ingeoefen word, maar al hierdie studente het die eerste treetjies gegee in die wonderlike wêreld van motorfietse. Die goeie nuus is dat die oggend se opleiding jou minder gaan kos as wat jy dink. Die huidige prys is ’n skamele R250 vir ’n oggend se opleiding. Moet ook nie bekommerd wees as jy nie ’n CMA-lid is nie. Almal is welkom.

Die opleiding geskied by die Biker’s Church in Midrand, naby Grand Central-lughawe.

Laat weet gerus vir Phil Kruger by 083 448 4703 as jy belangstel om so ’n kursus by te woon. Sy e-posadres is: [email protected] of alternatiewelik: [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amelia ·

Sal as dit moontlik was self wou bywoon Gaan hul by ander dorpe ook sal myself en kinders ook graag wil laat leer om moterfiets te ry Kan iemand my in kennis stel waar dit dalk nog aangebied gaan word

Brian Cheyne ·

Amelia, tans word hierdie kursus net in Midrand aangebied. Die logistiek om tien motorfietse te vervoer maak dit net onprakties om die kursus êrens anders aan te bied. Phil het egter groot planne, so dalk sal daar in die toekoms iets gebeur!

Liekie ·

Dis nou regtig ‘n puik, oorspronklike, veilige inisiatief ooit !!
BAIE DANKIE aan almal betrokke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.