Kompetisie lig sluier oor bakkies se laaivermoë 

Foto: Verskaf

Die tydskrif Leisure Wheels het onlangs sy bakkie van die jaar aangewys.

Die Volkswagen Amarok V6 TDI 4Motion het met die louere weggery.

Ek wil in die artikel egter fokus op die skokkende ontdekking waarop daar in die proses afgekom is, naamlik dat bakkies nie die gewig mag dra wat die vervaardigers sê dit kan nie. Wat meer skrikwekkend is, is dat die bakkie wat almal sê die taaiste werkesel is, inderwaarheid die minste kan dra.

Leisure Wheels het elke bakkie gevat en dit met ʼn vol tenk brandstof en dieselfde bestuurder geweeg. Dit is gebruik as die tarragewig (die leë gewig van die voertuig). Dié gewig is dan van die voertuig se geregistreerde bruto voertuigmassa (BVM) afgetrek en siedaar – die verskil is die gewig wat jou bakkie wettig mag dra.

Die skoksyfers lyk só:

BakkieTarragewigBVMVerskil
Toyota Land Cruiser2 710 kg3 300 kg590 kg
Ford Raptor2 500 kg3 090 kg590 kg
Toyota Hilux2 270 kg2 910 kg640 kg
Mitsubishi Triton2 150 kg2 880 kg730 kg
Mercedes-Benz X-klas2 500 kg3 250 kg750 kg
Nissan Navara2 160 kg2 910 kg750 kg
Ford Ranger Wildtrak2 330 kg3 090 kg760 kg
VW Amarok2 310 kg3 080 kg770 kg
Isuzu D-Max2 250 kg3 100 kg850 kg
Mahindra Pik Up2 210 kg3 150 kg940 kg

Foto: Verskaf

Suid-Afrikaners ken dié tipe bakkies as ʼn sogenaamde eenton-bakkie. Jy is dus onder die indruk dat jy ʼn ton op jou bakkie mag laai, én volgens die vervaardiger mag jy, maar beslis nie volgens wet nie.

Leisure Wheels het bevind die Toyota Land Cruiser kan die minste dra, terwyl die Mahindra Pik Up die meeste kan dra. Ja, jou bakkie kan beslis baie meer hanteer, maar sou ʼn verkeersbeampte jou aftrek en weegbrug toe neem, is daar perde.

Terug by die bakkie van die jaar-kompetisie. Die manne by Leisure Wheels het ʼn klomp ander faktore in ag geneem soos om die onderdele-mandjie te vergelyk wat deur die Kinsey-verslag bymekaar gemaak word. Die goedkoopste bakkie om te onderhou is dus die Isuzu D-Max met ʼn totale mandjie van R62 578… en dan kom die skoksyfer weer: Die Triton se mandjie is R202 111!

Foto: Verskaf

Daar is ook somme gemaak oor krag-tot-gewig-verhouding… die wenner is VW se V6 Amarok met 70,69 kW per ton – dit is hoekom hy blitsbuksies in die verkeer pak gee, en die verloorder met ʼn allemintige marge is Toyota se Cruiser met 37,64 kW per ton.

Die toetse en ontledings wat die Leisure Wheels-span gedoen het, is puik werk. Gʼn koper sal al hierdie inligting bymekaar kan maak nie.

Die tydskrif wat ʼn diepgaande verslag hieroor sal bevat, is vanaf Maandag 17 Februarie beskikbaar.  Lees meer oor die kompetisie hier.

Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerard ·

Ek wonder tog hoe kan mens nou n V6 Amarok vergeluik met die gewone ander bakkies, ek meen tog daar is n groot verskil in die engine, krag, spoed ?

Karin ·

Presies, vergelyk appels met appels, nie appels met pere nie.

Wielspore ·

Ons het bietjie meer as ‘n jaar terug vir ons ‘n gebruikte Amarok gekoop nadat ons na al die vervaardigers se produkte gekyk het. Daar is nie fout met die ander produkte, die Amarok beskik oor die eienskappe wat vir my belangrik is. Ons ry so bietjie grond paaie, heelwat bergpasse en dan partykeer die snelweg. Brandstof verbruik is puik, daar is genoeg krag, puik handtering en lekker ry gerief op teer en grondpaaie. Na my mening word die meerderheid dubbel kajuit bakkies vir min of meer dieselfde doel aangewend, daar is selfs sulke bakkies wat nog nie eers op ‘n grondpad gery het.
Lekker ry!

Marcel ·

Ek is baie happy met my Fiat Fullback 2.5D. Ek kry in die stad 11.1km/l en oop pad tussen 13.5 en 14.5 km/l afhangende vd omstandighede. Ek laai elke naweek twee KTM’s agter op. Dan ook gazebos en toerusting. Dis ‘n 4×2 en ons is gereeld op die grondpaaie. Hy is verseker ‘tough enough’. Ek het hom in 2018 nuut vir ongeveer 133000 minder as die Toyota’s’, Amaroks, Nissans ens gekoop. So ja…dis wel n Mitsubishi…maar hoeveel Dakars het hulle nie gewen nie! Goeie samewerking tussen Fiat en Mitshubishi!

Gato ·

@ Shady. Ek het dieselfde gedagte gehad. As die Amarok so goed is (en ek sê geensins dit is sleg nie) hoekom sukkel Volkswagen so om hulle van die vertoonlokaal se vloer af te kry? Dit is sekerlik ‘n baie lekker sport nuts voertuig vir die stads bewoner maar ek dink die Hilux se sterk punt is dat hy amper net so goed is as sportnuts maar beter is as ‘n plaas en mynbakkie.

vetpret ·

Ek sal dieselfde toets en vergelykings met enkel kajuit bakkies wil sien. Want ek koop defnitief nie n dubbel kajuit as n werksesel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.