Kort motorstories van oraloor

Foto: Quickpic

Die Toyota Quantum | Foto: Quickpic

Lexus

Lexus, Toyota se luukse afdeling, het skielik besef dat sy mark toenemend neig na kleiner en meer kompakte sportnutsvoertuie (SUVs).

Die NX, ʼn nuwe toetrede tot die mark, sal gekenmerk word deur sy hoekige stilering, omvattende tegnologie en ‘n binneruim wat eintlik in ‘n sportmotor tuishoort.

Drie enjins sal beskikbaar wees, naamlik ‘n petrol/elektriese hibried in die NX 300h, ‘n 2-liter turbo in die 200t, asook ‘n konvensionele 2-liter in die NX200.

Kopers kan ook kies tussen voorwiel- en vierwielaandrywing en Lexus SA het intussen ook aangedui dat ons wel die turbomodel gaan kry. Terselfdertyd is die moontlikheid ook sterk dat die petrol/elektriese hibriede model ook in ons land beskikbaar sal wees.

Toyota

Toyota se Quantum, waarvan duisende in die Sesfikile -gedaante op ons paaie is, is onlangs behoorlik opgeknap.

Die nuwe Quantum is steeds ʼn meerdoelige voertuig en is beskikbaar as ‘n paneelwa, die sogenaamde “Crew Cab” en ‘n konvensionele bussie.

Twee enjins is beskikbaar, naamlik die betroubare 2.7-liter petroleenheid wat ook in die Hilux diens doen, en ‘n 2.5-liter turbodiesel wat 75 kW ontwikkel. Die 2.7-liter ontwikkel 111 kW en albei enjins is duidelik ontwerp vir ‘n lang lewe eerder as asemrowende werkverrigting.

Foto: Quickpic

Foto: Quickpic

Volvo

Dit is vanjaar 50 jaar sedert Volvo die eerste veilige kinderstoeltjie (prototipe) die lig laat sien het. Vyftig jaar later is Volvo weer aan die voorpunt met ‘n opblaas kindersitplek prototipe wat in ‘n klein sakkie gebêre kan word.

Volgens Volvo, leier op die motorveiligheidsgebied, is klein kinders nie bloot mini weergawes van volwassenes nie, en verdien hulle spesifieke aandag soos Volvo se siening dat kinders tot op ouderdom drie tot vier jaar agtertoe moet kyk, terwyl ouers ‘n addisionele kussing moet gebruik om te verseker dat die heupgordel behoorlik pas.

Ford

Foto: Quickpic

Foto: Quickpic

Ford se wakker klein Fiesta ST is stil-stil besig om die toekennings en pryse in te ryg. In sy eerste produksiejaar, het die Fiesta reeds 22 toekennings wêreldwyd ingepalm, onder meer die BBC se Top Gear-toekenning as Brittanje se 2014 motor van die jaar, sportmotor van die jaar in Frankryk, benewens toekennings in ander lande waaronder die VSA

Volgens Gavin Golightly, Ford SA se bemarkingsbestuurder, is hierdie tweedeur met sy 134 kW 1.6-liter EcoBoost-enjin in staat tot ‘n topsnelheid van 220 km/h en 0-100km/h versnelling in ‘n blitsige 6.9 sekondes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.