Kraai die Caravelle nog koning?

Ford se 2.2TDCI Limited Tourneo Custom. (Foto: Verskaf)

My kinderjare is deurspek met kombi’s. Ons was vier kinders in die huis. Toe ek in graad een was kan ek ʼn rooi Ford Husky onthou. Rathefboom op die stuurkolom en al. Daarna was dit die eerste Microbus. ʼn 2.0 lugverkoelde model, met ʼn outo ratkas. Toe ‘n 2.1i … waterverkoel! En uiteindelik, ’n 2.5i… nes David Kramer se Volksiebus waarmee hy die brandweer gaan help het.

Vandag is daar baie meer rolspelers in die bussie-mark as toe. Ek het ’n tydjie gelede twee bussies onder hande gehad. Albei hul onderskeie handelsmerke se reeksleiers. Volkswagen se 2.0BiTDI Highline 4Motion Caravelle, en Ford se 2.2TDCI Limited Tourneo Custom. Al is albei die reeksleiers, is daar ʼn groot prysgaping tussen die twee.

Kom ons vergelyk hulle só:

Ontwerp

Caravelle *****Tourneo Custom *****

Albei bussies het ’n aantreklike ontwerp. Waar die VW meer konserwatief is ten opsigte van sy lyne is hy bitter mooi in twee kleure geverf. Daarteenoor is die Ford meer aggressief in sy lyne. ’n Mens verwar hulle nie vir MPV’s of kleiner bussies nie – hulle is lekker groot, vol vet gesinsbussies.

Binneruim

Caravelle ****Tourneo Custom *****

Volkswagen se 2.0BiTDI Highline 4Motion Caravelle. (Foto: Verskaf)

Dit is moeilik om só te gradeer. Die Caravelle is baie luuks binne, maar twee dinge vang hom hier. Die Caravelle het net sewe sitplekke en die Tourneo agt. Ja, VW bied ook agt sitplekke in sy gewone Kombi-modelle. Die ander probleem wat ek het met die Caravelle se binneruim, is met die oulike tafeltjie-ding wat ’n mens kan opslaan. Twee probleme: Eerstens, om die ding opgeslaan te kry verg ’n graad. As jy hom eers bemeester het, is hy oukei, maar daar gaan baie vloekwoorde vloei voor dán. Die ander probleem met die Caravelle is dat daai plastiektafeltjie vreeslik ratel as ’n mens op ’n slegte pad ry. Die laaste probleem met die Caravelle is dat hy slegs in ’n kortasafstand beskikbaar is – dan is die kattebak maar klein vir ’n bus.

Enjin, ratkas en dryfstelsel

Caravelle *****Tourneo Custom **

Ford se 2.2TDCI Limited Tourneo Custom. (Foto: Verskaf)

Die Volkswagen se 2.0BiTDI enjin is puik. Hy bied 132 kW en 400 Nm wat deur ’n 7-spoed dubbelkoppelaarratkas aan al vier wiele gestoot word. Al die faktore soos vierwielaandrywing en die aërodinamika van ’n baksteen beteken wel dat die Caravelle nie só lig is op brandstof soos wat mens sou verwag nie.

Aan die ander kant is die Ford se enjin heel oukei, ’n 2.2 viersilinderturbodiesel wat sy krag deur ’n 6-spoed handrat aan die voorwiele stoot. Die vlieg in die salf is wel die ratkas. Die ratverhoudings is heeltemal verkeerd en die Tourneo Custom is bitter frustrerend om te bestuur in die dorp. Eerste en tweede rat is piekfyn, maar dan is daar ’n gaping wyer as die Grand Canyon tot by derde, soveel só dat die bussie gereeld loop en ruk en pluk. As daar ’n taai bult is, moet ’n mens die bussie tot by 4 200 r/min druk in tweede om 2 100 r/min in derde te kry om turbotraagtheid te vermy. ’n Outomatiese ratkas met eweredig verspreide ratverhoudings sal dié bussie se bestuurservaring ’n duisendmaal verbeter. As jy eers op die oop pad toer, is hy wel lekker lig op brandstof.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid

Caravelle *****Tourneo Custom *****

Volkswagen se 2.0BiTDI Highline 4Motion Caravelle. (Foto: Verskaf)

Hier is nie veel verskil tussen dié twee bussies in die afdeling nie. Albei ry baie lekker. Padhouvermoë is nie iets wat mens gaan toets op ’n bussie nie, hulle is nie renmotors nie – maar vir wat hulle moet doen is hulle heel dollies. Aan die veiligheid kant het albei ses lugsakke, ABS met EBD en vastrapbeheer. Waar die Caravelle wel sal uitblink is in sy sleepvermoë. Die vierwielaandrywing gaan beter vaar as die Ford se voorwielaandrywing. Die Caravelle mag 2.5 ton sleep en die Ford slegs 1.6.

Opsomming

Caravelle *****Tourneo Custom ***

Ford se 2.2TDCI Limited Tourneo Custom. (Foto: Verskaf)

Die Ford kry slegs drie sterretjies hier want ’n mens kan nie met daai ratkas saamleef nie. Teen dié prys is die Ford wel ’n winskoop teenoor die Caravelle – maar daar is ’n Kombi wat direk met die Ford meeding in sitplekke en prys – maar hy bied Volkswagen se DSG outomatiese ratkas, ’n moet in ’n bussie. Die Caravelle is reeds voor die Ford én die opgeknapte T6.1 VW word vanjaar bekendgestel.

Die twee vergelyk só:

Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI Highline 4MotionFord Tourneo Custom 2.2TDCi SWB Limited
Krag132 kW/ 400 Nm114 kW/ 385 Nm
Brandstofverbruik8.8 ℓ / 100 km6.5 ℓ/ 100 km
Diensplan & Waarborg5 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan

4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

PrysR1 051 700R675 100

Só lyk die kompetisie:

Kia Grand Sedona 2.2CRDi EX147 kW/ 440 Nm8 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R673 995
Hyundai H1 2.5CRDi Elite125 kW/ 441 Nm9.8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R690 500
Mercedes-Benz V200d100 kW/ 330 Nm6.5 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R917 965
Toyota Quantum 2.8 VX Premium115 kW/ 420 Nm8.7 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R966 300

Tussen dié mededingers het ek twee gunstelinge. Aan die onderkant van die mark is die Hyundai die beste produk, en bo-aan die mark is die Quantum VX ongeëwenaar in terme van luuksheid. Gaan kyk na almal, een gaan jou sak en jou gesin pas. Ek sien uit om binnekort te sien hoe lyk die nuwer T6.1 VW.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.