KTM 390 Adventure staan kop en skouers bo ander uit

Die KTM 390 Adventure. (Foto: Brian Cheyne)

Die KTM 390 Adventure is vroeër vanjaar bekend gestel en noudat ek tyd met hom deurgebring het, krap ek steeds kop oor hoe KTM hierdie fiets as sy intreevlakfietsie kan bemark. Hoe meer ek na die spesifikasies en standaardtoerusting kyk, hoe meer soek ek na die asterisk wat sê dat dié of daai opsioneel is, maar dit is nêrens te vinde nie. Sy mededingers krap seker net so kop.

In die prysklas ding hy mee met fietse soos BMW se G 310 GS, Suzuki se DL 250 V-Strom, die Kawasaki Versys 300 en die Zontes 310 T. As dit egter by verrigting kom, staan die KTM 390 kop en skouers bo die ander uit. Persoonlik dink ek die enigste fiets wat met dié KTM sal kan meeding, is as Kawasaki die enjin uit sy Z400 neem en hom in die Versys druk.

Die KTM 390 Adventure. (Foto: Brian Cheyne)

KTM bou al jare lank avontuurfietse, so hy weet wat hy doen en wat sy klante soek. Nou probeer hy seker ook om jonger en nuwe ryers na die handelsmerk te lok met ’n fiets soos die 390. Namate hulle ervaring groei, sal hierdie ryers iets groters soek en dan kan KTM vir hulle die 790, 1090 of 1290 bied. Daar rus dus baie op hierdie buksie se skouers, want as ryers met hom ’n slegte ervaring het, sal hulle juis na ander handelsmerke kyk.

Gelukkig vir KTM was dit nie nodig om die Adventure van nuuts af te ontwikkel nie. Die span het reeds die 390 Duke en RC 390 in sy arsenaal en kon baie van daardie komponente gebruik in die Adventure. Vir die stilering het hy net na die 790 Adventure verwys, want die 390 trek sterk op ouboet. Dit is ’n ongelooflike mooi fietsie.

Die KTM 390 Adventure. (Foto: Brian Cheyne)

Voor het hy die kenmerkende KTM-hooflig met dagryliggies ingebou. Die 390 is veronderstel om ’n intreevlakfiets te wees, maar my verbasing was groot toe ek sien die voorste skokbrekers is nie net van WP nie, maar ook ten volle verstelbaar.

Die 390 het boonop ’n volkleur-TFT wat kan koppel met jou slimfoon. Met behulp van ’n KTM-toepassing kan jy navigasie op jou skerm hê. Ongelooflik! Die elektronika stop nie net daar nie. Nee, die klein KTM het selfs traksiebeheer en die sluitwering neem die hoek waarteen jy oorleun ook in ag. Jy kan die sluitwering afsit op grondpaaie, maar dit is amper ’n gegewe.

Die saal is ruim en bied baie ondersteuning. Op die pad is die fiets baie gewillig en ek was weereens verbaas tot watter snelhede hierdie fiets in staat is.

Die KTM 390 Adventure. (Foto: Brian Cheyne)

Die bande is Continental se TKCs en hulle bied genoeg greep op die teerpad, maar ek was maar huiwerig op grond met hulle. Maar dan moet ek, ter verdediging, sê dat hierdie fiets eerstens ’n pendelfiets is. Rowwe grondpaaie is nie eintlik waarvoor hy gemaak is nie. Maar dit is ’n KTM! Ek wil gaan grondpad ry.

Soos ek in die bekendstellingsberig vermeld het, kan die allooiwiele rede tot kommer wees, maar KTM se nuwe bemarkingsbestuurder het my gerusgestel dat hierdie vellings baie taai is. Ek het sy woord gevat en ’n lang stuk grondpad gaan aandurf. Ek wou iets kry wat die klein KTM nie reg doen nie, maar enigiets wat jy van hom vra, doen hy sonder moeite. Vir my lengte is die handvatsels te laag as ek opstaan, maar selfs dit kan ’n mens regstel.

Dit klink nou amper of ek ’n KTM-advertensie geskryf het, maar die 390 Adventure staan sy skoene vol. Met trots. Ek sal kan gaan toer met hierdie fietsie. Baie ver, sonder om te twyfel. As jy dus nuut is in die avontuurmark, kan jy gerus na die KTM 390 Adventure gaan kyk.

Klik hier vir die produkblad.

Spesifikasies:

Enjinkapasiteit373 cc
Gewig (Droog)158 kg
Kraglewering32 kW
Tenkkapasiteit14.5 l
Saalhoogte855 mm
Grondvryhoogte200 mm
PrysR93 999

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.