KTM 790 Duke: ‘My Kyalami-aand met die skalpel’

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Toe ek die e-possie kry wat my nooi na die bekendstelling van die KTM 790 Duke op Kyalami was ek benoud. Jy sien, ek is nie ʼn vinnige ryer nie. Ek erken dit en ek weet dit. En nou wil KTM my loslaat tussen manne wat leerpakke dra en skaafmerke op hulle knieë het. En om dit nog meer skrikwekkend te maak, beplan hulle dit vir die aand. Glo my, om teen 180 km/h daardie effense buig in Kyalami se pylvak in die donker te benader, sit net nie in my broek nie.

Die KTM 790 Duke is gemaak om ʼn gaatjie te vul in die huidige Duke-reeks. Tot nou was daar vier Duke-modelle. Die reeks het bestaan uit die drie enkelsilinder-modelle met kapasiteit van onderskeidelik 125 cc, 390 cc en 690 cc. Die volgende model is die V-Twee, 1290 Super Duke. KTM het besluit om die gaping tussen die 690 en die 1290 te vul met ʼn splinternuwe fiets: die 790 Duke.

KTM terg ons nou al lank met steelfoto’s en konsepsketse, en nou kon ons die eerste keer die 790 in lewende lywe sien. Met die eerste oogopslag kon ek sien hierdie fiets is nie soos die ander nie. Die raam is eenvoudiger en die enjin is nou ʼn parallel-twee, maar tog is dit onmiskenbaar Duke.

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Voor ons op die baan losgelaat is, is ʼn paar tegniese aspekte met ons bespreek. Die bemarkingsafdeling het dit goedgedink om hierdie fiets te vergelyk met ʼn skalpel. ʼn Vlymskerp baanfiets wat jy kan aanwend in jou daaglikse pendel. KTM wou hierdie stelling bewys deur ons vir ʼn uur op die baan los te laat en dan in stadsverkeer te laat ry tot by ʼn restaurant waar ons sou aandete geniet.

Die hoofdoel van die ontwerp was om so kompak en lig moontlik te wees. Die enjin lewer 105 perdekrag en dit is baie vir ʼn fiets wat net so skrams oor die 170 kg weeg.

Met al die gepraat agter die rug, het ons afgestap kuipe toe waar 15 Dukes op ons gewag het. Jy klim op, voel hoe hard die saal is, en dan lê jy vorentoe. Jou hele liggaamsposisie is asof jy regmaak vir ʼn geveg. En glo my, om dan weg te trek en 60 te ry, gaan net nie gebeur nie. Dis nie verniet dat hulle hierdie fietse straatvegters noem nie. Die enjin het steeds ʼn V-twee-klank te danke aan sy ongewone ontbrandingslag.

Voor jou is ʼn klein TFT-skerm wat ʼn bekende gesig sal wees vir ryers van die ander Dukes. Die 790 was in die baanryprogram. Daar is ook drie ander ryprogramme wat saam met die leunsensitiewe sluitwering vir jou ʼn redelike veiligheidsnet gee. Die baanprogram skerp die versnellerrespons op. Dus, nie net moes ek die donker nag in nie, ek moes dit doen op ʼn fiets wat sy vlymskerp titel gestand doen.

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Die koppelaarlose snelskakeling het glad gewerk, maar hier en daar het die stelsel tog ʼn rat of twee gemis. Die koplig het hom goed van sy taak gekwyt om vir my die draaie uit te wys, maar as jy rem, sak die voorkant en jy verlig die baan so twee tree voor jou voorwiel en dan gaan jy die draai blind in. Jy vertrou maar jy onthou hoe die baan loop. Dit was angswekkend, maar tog opwindend.

Namate ek meer rondes voltooi het, het die fiets al meer vertroue ingeboesem, en die effense buig in die pylvak het minder angswekkend geword.

Dít is nou ʼn fiets waarmee ek elke dag sal kan saamleef, en ek sal ʼn meer volledige verslag doen sodra ek so ʼn week of wat met hom kan deurbring. Tot dan sal ek met ʼn grynslag terugdink aan my aand met die “skalpel”: die KTM 790 Duke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.