KTM 890 Adventure R bied meer  

Foto: KTM

Dit was net ’n kwessie van tyd. KTM het die 790 Duke se krag onlangs ’n hupstoot gegee met die nuwe 890 Duke. Nou het hierdie ekstra 90 cc- kapasiteit oorgeloop na die KTM 790 Adventure-reeks. Die KTM 890 Adventure R is pas bekendgestel en KTM het nie net die kapasiteit vergroot nie, maar ook die kans gebruik om ’n paar verbeteringe aan die reeds bekwame Adventure aan te bring.

Toe ons verlede jaar deur Lesotho getoer het met die 790 Adventure, het ek baie respek vir hierdie fiets gekry. Dit is deur en deur ’n avontuurfiets en sy vermoë op pad en op grond het my regtig beïndruk. Die fiets is klein en lig, net wat jy nodig het as die roetes begin tegnies raak. Die 890 Adventure R bied nou net so ʼn bietjie meer.

Foto: KTM

Die nuwe enjin bied nou 10 pk meer krag (105 pk @ 8000 rpm) en 12 Nm meer wringkrag (100 Nm @ 6500 rpm) as die 790. KTM maak geen geheim daarvan dat hulle fietse bedoel is vir die rofste paaie nie, so hulle het ook aandag gegee aan die volgende: versterkte koppelaar, verbeterde sluitwering en tolbeheer, verbeterde snelskakeling, nuwe skakelaar vir spoedbeheer, verskeie verbeteringe aan die raam om dit ligter te maak en verbeterde remme.

Foto: KTM

KTM het ook ’n beperkte aantal Adventure R Rally-modelle beskikbaar gestel. Net 700 van hierdie fietse sal die lig sien. Hierdie fiets bied ’n ekstra 30 mm reikwydte op die vering wat die sitplek op ’n baie hoë 910 mm te staan bring. Toegerus met WP XPLOR Pro- vering, ’n Akrapovič-uitlaatpyp en unieke kleurskema is hierdie fiets reg vir die uiterste avonture.

Hierdie model behoort vanaf November by handelaars te wees en ek sien baie daarna uit om met hierdie fiets te gaan ry. Omdat ek meestal alleen ry, verkies ek middelslag avontuurfietse bo die groot kapasiteit fietse. As die 790 my só beïndruk het, is ek seker die 890 gaan net sorg vir nog meer!

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
PieterP

Overrated, overpriced. Dit behoort hulle slagspreuk te wees beral as dit by dje peperduur onderhoud kom. Nee dankie, daar is beter alternatiewe op die mark