KTM Adventure Rally: Die oranje span vang gees

Foto: Carli Smith/KTM/VErskaf

Die naweek van 23 to 25 Augustus het KTM die Adventure Rally in Swaziland aangebied. Dit was die eerste keer dat hierdie geleentheid heeltemal vol bespreek was. Dit het dalk iets met Swaziland se asemrowende natuurskoon te doen gehad.

Nie net het deelnemers op die mooiste roetes gery nie, maar van die ryers is ook deur Riaan Neveling, bemarkingsbestuurder van KTM SA, uitgenooi om die naweek deel te neem aan die “Ultimate Race”. Twee ten volle betaalde ritte na die 2019 Merzouga Rally in Marokko met ʼn algehele waarde van R500 000 was op die spel. Deelnemers moes verskeie take voltooi om punte bymekaar te maak. Die wenners, Christiaan Odendaal en Greg Hodgkins, kry boonop die geleentheid om die Rally met die nuwe KTM 790 Adventure R by te woon.

Sportlegende Alfie Cox teken ‘n deelnemer se hoed. Foto: Carli Smith/KTM/VErskaf

Omtrent 300 plaaslike en internasionale ryers het die Donderdag by Lugogo Sun Hotel kom  registreer. Dit was nie net ʼn naweek vir die manne nie, maar ook ʼn gesinsnaweek. Verskeie agteroppies het ook ingeskryf. Motorsportlegendes soos Lyndon Poskitt, Ross Branch en Alfie Cox was ook daar.

Volgens Cox is hierdie soort geleentheid baie belangrik vir die avontuurgemeenskap in Suid-Afrika, want dit bring almal saam en hou die passie vir hierdie leefstyl aan die gang.

Foto: Carli Smith/KTM/VErskaf

Een van die internasionale ryers was verras deur die Swazi’s se opgewondenheid. “Dit was wild! Elke keer dat ons by die plaaslike mense verbygery het, was hulle so opgewonde om ons te sien. Die Suid-Afrikaners is ongelooflik. Hulle is altyd reg om ʼn situasie ten volle te geniet en is sekerlik die vriendelikste groep mense wat ek nog ooit teëgekom het.”

Daar was verskeie moeilikheidsgrade vir die roetes. Op een van die tegniese oranje roetes van sowat 234 km kon selfs reën en wind nie die entoesiasme demp nie. Een van die agteroppies, BeauAnn Jordaan, het opgemerk dat die saamry haar en haar man nader aan mekaar bring. Sy moedig ander vroue aan om dit ook te probeer.

ʼn Belgiese ryer, Yve’s Grofils, het die naweek raak opgesom: “Toe KTM hierdie geleentheid georganiseer het, kon ek dit nie misloop nie! Ek is verwelkom deur die Suid-Afrikaanse motorfietsfamilie en die avontuur in Swaziland het al my verwagtinge oortref!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.