KTM nooi jou vir die avontuur van jou lewe

Foto: Zoon Cronje/KTM

As jy ʼn avonturier is met een van daardie oranje fietse, is daar vir jou goeie nuus.

KTM wil jou nooi om die ware betekenis van avontuur te kom beleef saam met mense wat dieselfde fietse as jy ry. Die KTM Adventure Rally word van 23-26 Augustus in Swaziland aangebied. Jy kan die uiterste terrein en skoonheid waarvoor Swaziland bekend is, eerstehands kom ervaar.

Teen die agtergrond van die Ezulwini-vallei, wat as “Hemelvallei” beskryf word, word twee verskillende moeilikheidsgraad-roetes aangebied wat elke dag by Lugogo Sun begin en eindig.

Asof die natuurskoon en kameraadskap nie genoeg is nie, het KTM ʼn ekstra wortel voor die neus kom hang vir 2018.

Deelnemers het die geleentheid om ’n plek in die Ultimate Race te los te slaan. Die Ultimate Race maak deel uit van die Merzouga-tydren in Marokko. Die prys sluit alles in: vlugte, verblyf, inskrywingsfooie en volle ondersteuning van KTM. Boonop sal jy deelneem op die nuwe KTM 790 Adventure wat binnekort vrygestel sal word.

Foto: Zoon Cronje/KTM

Die opdrag is duidelik: vir ’n kans om dié ongelooflike prys te wen, moet ryers reg wees om KTM se slagspreuk uit te leef: “Ready to Race”. Is jy gereed?

Oor die drie dae in Swaziland kan ryers aanmeld vir ʼn kwalifiserende afdeling, mits jy op ʼn twee-silinder-KTM is. Aan die einde van die drie dae word die toptwee-ryers aangewys en hulle kan die Ultimate Race gaan beleef.

Dit eindig egter nie daar nie. Die wenners sal ook die geleentheid kry om deur sommige van die wêreld se beste en vinnigste renjaers afgerig te word.

Die Merzouga-tydren is ’n resies oor vyf dae met ’n proloog, en sluit ’n marathon-trajek in die Marokkaanse woestyn in. Navigasie is belangrik, want die trajekte is gevarieerd en deelnemers het ’n wye verskeidenheid vaardighede nodig.

Vir meer besonderhede besoek http://www.ktm-adventure-rally.com/af/south-africa-2018/

Foto: Zoon Cronje/KTM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J. J. Fourie ·

Die Swaziland ding klink lekker..ek is klaar daar…moet ek vir julle plek hou.?

pieter ·

hoeveel van die bikes gaan in die veld agterbly [stukkend] ,ry met n BMW

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.