KTM pure perd in die Bergkoninkryk

Foto: Carli Smith

Wat maak jy as die bemarkingsbestuurder van KTM jou nooi om so vier dae in Lesotho te kom rondry? Boonop sê hy dat hy die hele KTM-avontuurfietsreeks saamvat.

Van die nuwe 690 Enduro R regdeur tot die 1290 Superadventure R. Jy sê ja, natuurlik! En dan begin jy jouself bedink as jy hoor Joey Evans, wat al die Dakar voltooi het, gaan ook saam.

Desperaat om my eie vaardigheid op te skerp, reël ek vir ’n vinnige opknappingskursus by ADA se opleidingsentrum in Hartbeespoort. Gewapen met ’n KTM 790 Adventure R woon ek die kursus by, en ek kan dit nie hoog genoeg aanskryf nie. En as jy dink so ’n kursus is ’n mors van geld, dink bietjie hoeveel skade jou fiets gaan hê as jy hom laat val oor iets wat jy kon vermy. Of selfs net verkeerd optel. Op die ou einde het ek baie meer tuis op die fiets gevoel. Hoe erg kan Lesotho tog wees?

Foto: Carli Smith

Die 790 Adventure is onlangs in Marokko bekendgestel, so almal was gretig om dié nuweling te ry, maar ons is mooi gevra om gereeld fietse te ruil sodat almal ’n kans kon kry om die hele reeks te ervaar. Ons roete vir die eerste dag was van Johannesburg tot by Afriski in Lesotho. ’n Stewige entjie, maar almal se klere was nog skoon en die entoesiasme groot!

Ek het vir my die standaard- 790 Adventure uitgesonder vir die eerste stuk teer, uit die stad. Die 790 se enjin is ongelooflik. Met 95 perdekrag beskikbaar, was dit veral die wringkrag op laer toere wat beïndruk het. Die saal is ook besonder gemaklik en ek kon sommer gou voel dat hierdie fiets moeilik geklop gaan word as ek aan die einde van die vier dae moet oordeel watter fiets uitstaan. Net soos ek gevoel het oor die 790 Duke het hierdie fiets ook bewys dat ’n mens selde meer en groter nodig het. Die brandstoftenk op die 790 is bo-oor die enjin gemonteer en strek af tot aan die onderkant van die fiets. Dit lyk eienaardig, maar dit maak dat die gewig van die fiets laag gedra word. Alles omtrent die 790 voel of dit ontwerp is vir perfekte balans.

Foto: Carli Smith

Ons het deur die Vrystaat gery tot by Kestell, en ná middagete is ons deur die Monantsa-grenspos in Lesotho in. Sommer gou het die mooi paaie verander in grondpaaie met slote, klippe en waterkruisings. Maar ons was slaggereed en die oranje span het gou teen ’n lekker tempo begin ry.

Die 790 R beskik oor ’n Rally-program en tydens my opleiding het ek verstom gestaan oor die remme op die fiets. Jy kan maar met oorgawe ’n handvol voorrem gryp. Die sluitwering sal die fiets sonder enige drama tot stilstand bring, selfs op die slegste grondpad. Dit het tot gevolg gehad dat die pas waarteen ons kon ry heelwat hoër was as wat ek verwag het, maar sonder die angs! Toe ons die teerpad bereik het, was dit al sterk skemer, en deur die koue heen kon ons die fietse se vermoë op teerpad ook waardeer. Die Motengpas het wonderlike haarnaalddraaie en het ons beloon met ’n ongelooflike ryervaring.

Foto: Brian Cheyne

Die volgende oggend is daar vir ons ’n 250 km-sirkelroete uitgewerk tot by Katsedam en ek het weggespring met die 1090 R. Die 1090 was nou al vir lank die brood en botter van KTM, maar hy begin sy ouderdom toon. Met sy groot analoë toereteller steek hy af teen die TFT-skerms van die 790 en 1290. In terme van sy vermoë is daar egter geen twyfel dat dit ’n regte KTM is nie. Die paaie wat ons gery het, was op plekke baie tegnies, maar die 1090 het net aangehou. Later die oggend het ek die 1290 Superadventure R by een van my mederyers afgerokkel.

Die 1290 is net eenvoudig fenomenaal. Met sy groot TFT-skerm en ongelooflike elektronika is hy onstuitbaar. Ek was bang dat die groter fiets gaan sukkel in die tegniese terrein, maar die fiets se vermoë het my vaardigheid oortref.

Foto: Brian Cheyne

Ek het doelbewus die 690 Enduro vermy, want dit het net nie na my tipe fiets gelyk nie. Maar soos afgespreek, moes ek my 1290 afstaan en die 690 ook beproef. Die 690 Enduro R is onlangs opgeknap, maar dit is niks anders as ’n veldfiets met flikkers en ’n hooflig nie. Die instrumentasie is minimalisties en die saal kon netsowel ’n plank gewees het, so hard is hy. Toe ek wegtrek, maak die 690 egter perfekte sin. Wat ’n absolute fees in hierdie terrein!

Die 690 Enduro R het ’n enkelsilinder-690 cc-enjin met 74 perdekrag beskikbaar. Die hele fiets, met olie en brandstof in, weeg slegs 150 kg en dit beteken net een ding: eindelose pret. Klippe en slote is nie eens ’n uitdaging nie. Vir die res van die rit het ek hierdie fiets geannekseer vir vrotpad. Op die teer hanteer die 690 verbasend goed, maar daai saal sal jou stuitjie afbreek. Dis nou as die wind jou nie eerste afwaai nie.

Foto: Carli Smith

Die aand het Joey Evans ons sy storie vertel van hoe hy ná ’n groot motorfietsongeluk verlam gelaat is. Hy het egter sodanig herstel dat hy in 2017 aan die Dakar-wedren kon deelneem en dit voltooi het. As julle ooit ’n kans kry om sy praatjie by te woon, doen dit! Dit is ongelooflik emosioneel en ek het aan die einde ’n traantjie weggepink.

Die volgende oggend het ons die pragtige nuwe teerpad gevolg tot by Sani. Sanipas is tans in ’n baie slegte toestand en ons was maar voel-voel daar af. Weereens het die elektronika baie gehelp, en ons het dit almal deur die pas gemaak. Ons is met die skouspelagtige Lotenipad tot by Harrismith en toe huis toe. Ons het altesaam ongeveer 2 000 km gery waarvan sowat 800 km op teer was.

Ek dink dit was braaf van KTM om so ’n uiteenlopende groep mense in die onherbergsaamste plekke in te neem en hul produk tot die uiterste te beproef, om die fietse in terrein te ry waarvoor hulle gebou is. Dit is die vertroue wat KTM in hul produk het. KTM het in vier dae vir my bewys dat hul fietse die rofste terrein kan aandurf en oor genoeg hulpmiddels beskik om iemand soos ek, met twyfelagtige vermoë, goed te laat lyk. Of jy nou op jou eie in die rofste terrein wil gaan baljaar, en of jy met twee op, die lang pad wil aandurf, daar is nou ’n KTM-avontuurfiets vir feitlik enige behoefte.

My keuse, as ek môre weer moet gaan, sal tussen die 1090 en die 790 Adventure R wees, maar ek dink die 790 sal met ’n kortkoppie wen. Ek gaan weer die 790 in die hande probeer kry om ’n meer volledige verslag te doen. Ek weet nou hy kan in Lesotho rondry, maar ek wil weet hoe hy die ander 99% van die tyd sal vaar.

Vir opleiding: http://www.adasa.co.za/

Vir die fietse: https://www.ktm.com/za/

Vir motivering: https://www.joeyevans.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marco polo ·

Dankie Brian, lekker storie. Watter een sal jy kies as jy ‘n stel tasse wil aanheg en om die wereld wil ry?

Brian Cheyne ·

Marco polo, as jy alleen wil ry, die 790 Adventure R. Twee op, die 1090. Jy het regtig nie meer as dit nodig nie.

marco polo ·

Dankie Brian. Ek het bietjie gaan loer, ek hou van die basiese 790 adventure se groter windskerm, maar ek neem aan dit is ‘n opsie op die 790 adv R.

Brian Cheyne ·

Marco polo, as ek moet kies, vat ek die 790 R met die standaard fiets se skerm. Die R se skerm is wel verstelbaar deur sowat 40mm, maar met my lengte help dit nie veel nie.

JWC ·

KTM is besig om naam te maak! Ek het baie onlangs die KTM Superduke 1290 (1301cc) gaan ry – toegerus met hul Track & Performace pakket…. Ek het verkies om geen hulpmiddels aan te skakel nie en in Track Mode gery…. Wat ‘n fiets!! Ek het net een stukkie kritiek en dit is heel moontlik die rede waarom ek maar moet wegbly van die Superduke… daai fiets gaan my in groot moeilikheid bring en vinnig ook!!

Brian Cheyne ·

Gys, ongelukkig nie. Ek het net saamgery. Daar was aanvanklik ‘n roete uitgewerk vir dag twee, maar toe het Wessel Basson van Afriski ons gelei daardie dag, en hy het ons op paaie gevat wat hulle nog op kaarte moet sit. Van die foto’s wat ek geneem het, het ek met my selfoon geneem en daar is ‘n koordinaat by, maar verder as dit het ek net die stofwolk voor my gevolg!

Marcel ·

Ek kan amper nie verstaan dat mense nog die BMW GS koop nie, die KTM is helfte van die prys en bied basies dieselfde fiets. Dan ook nog as daardie BMW vir ‘n diens moet gaan of as iets breek……is dit mos Duits jong. Daardie 1090 is eintlik die perfekte fiets, so vinnig soos ‘n 600 padfiets (sal dalk van hulle weg ry), en jy kan op die grondpad gaan ry as jy wou met al die elektronika om jou op 2 wiele te hou. Een van die dae is KTM vollop op die paaie sou ek sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.