KTM se nuwe buksie beïndruk

Foto: ZC Marketing Consulting.

Ek weet nie of die mark vir groot avontuurfietse versadig begin raak nie, maar al hoe meer vervaardigers wend hulle nou tot kleiner kapasiteit fietse. Of dalk is dit die vervaardigers se manier om jonger ryers in die mark te kry sodat hulle later na die groter modelle opgradeer.

Hoe dit ook al sy, KTM het nou ook hierdie mark betree met die 390 Adventure. Hierdie model is onlangs in Suid-Afrika bekendgestel.

Ek het laasjaar met die KTM 790 Adventure gery en na my mening is dit seker die mees afgeronde avontuurfiets tans beskikbaar.

Foto: ZC Marketing Consulting.

Die nuwe 390 trek baie op die 790, met soortgelyke lyne, en dit is ’n goeie ding. Die 390 vertoon aggressief en uiters aantreklik.

Die kragbron is dieselfde as dié van die 390 Duke, en ontwikkel 32 kW teen 9 500 r.p.m. en 37 Nm wringkrag teen 7 000 r.p.m. Die 390 Duke is ’n lewendige kalant en dit hou belofte in vir die 390 Adventure. Die ratverhoudings is egter aangepas om by die karakter van die Adventure te pas, maar dit behoort nie die fiets se entoesiasme te stuit nie.

Foto: ZC Marketing Consulting.

Ander items wat ook van die Duke oorgedra is, is die kenmerkende KTM‑voorlig en ’n volkleur TFT‑skerm. Die brandstoftenk hou 14,5 liter en dit is baie goed vir ’n fiets in hierdie klas. Dit beteken dat jy met vertroue in die boendoes kan ry waar vulstasies yl gesaai is.

Waar die KTM 390 Adventure stof in die kompetisie se oë gaan skop, is met die vering. Die voor-vurke en agterste skokbreker is ontwikkel deur WP. Dit is dieselfde maatskappy wat hul MotoGP‑ en veldrenfietse se vering ontwikkel. Selfs die remme leen tegnologie by die groter fietse. Byvoorbeeld, die sluitwering neem in ag of die fiets oorleun of nie.

Foto: ZC Marketing Consulting.

Min mededingers in hierdie segment kan hierop aanspraak maak.

Die saal is 855 mm hoog en, soos dit ’n dubbeldoelfiets betaam, sit jy regop agter breë handvatsels. Die voorste skermpie lyk maar klein, maar ek het al ervaar dat hierdie skerms verbasend doeltreffend werk. Ek was laasjaar deur Lesotho saam met KTM en die klein skermpie help baie om jou oë op die pad te hou. Jy kyk oor hom, nie deur hom nie; die modder en stof kan maar aanpak.

Foto: ZC Marketing Consulting.

Een klein negatiewe punt teen die 390 is sy allooiwiele. Die puriste wil hê dit moet speekwiele wees, maar KTM is daarvan oortuig dat hierdie gegote vellings baie sterk en duursaam is. Die klein avontuurfietsie weeg slegs 158 kg en is seker lig genoeg dat daar nie veel spanning op hulle sal wees nie. Tyd sal leer of dit die regte keuse was.

KTM is sinoniem met avontuur en ek is oortuig dat hierdie fiets goed deurdink en deeglik ontwikkel is. Teen slegs R85 999 gaan hy rand vir rand meeding met fietse met kleiner enjins. Hierdie klein buksie behoort baie goed hier in Suid-Afrika te vaar!

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.