Kwid, Go opgeknap: Só vergelyk buksies

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Twee van Suid-Afrika se strafste mededingers in die goedkoopste segment voertuie in die plaaslike mark is laat verlede jaar opgeknap.

Renault se Kwid en Datsun se Go het ʼn outomatiese palwisselratkas bygekry.

Hier wil ek die twee vergelyk, maar ook eintlik elkeen se sterkpunte uitlig.

Ontwerp

Die Datsun GO. Foto: Verskaf

Nie een van die twee motors gaan ontwerptoekennings opraap nie… maar die Kwid se nuwe moderner voorkoms is vir my die mooier een van die twee.

Binneruim

Die Go is beslis ʼn groter motor as die Kwid en bied dus meer spasie in die binneruim. Gehalte is min of meer dieselfde in albei voertuie. In dié klas moet ʼn mens nie die beste gehalte bekleedsel óf steun van die sitplekke verwag nie, maar vir ʼn eerste koper sal dit nie te veel pla nie.

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Die Renault bied vir my ʼn ouliker instrumentpaneel met die digitale skerms, maar die stuurwiel se belyning is nou uit – so ʼn mens kan nie mooi die meters lees nie want die stuurwiel is in die pad.

Albei motors het inligtingstelsels wat Android Auto en Apple CarPlay bied. Albei voertuie het twee lugsakke met ABS.

Enjin, ratkas en verrigting

Die Datsun GO. Foto: Verskaf

Die Kwid en Go maak albei gebruik van ʼn driesilinderenjin. Die Kwid is 1.0 en die Go 1.2. Die Kwid bied 50 kW en 91 Nm, terwyl die Go 57 kW en 104 Nm bied. Al klink die Go se voordeel min, is die 7 kW 14%… so ook die verbetering in wringkrag. Dit word weer uitgeskakel deur die feit dat die Datsun 17% swaarder as die Kwid is.

Op die pad voel die twee motors baie dieselfde. Die Go se reusevoordeel oor die Kwid is sy outomatiese ratkas. Die Kwid maak gebruik van ʼn AMT of geoutomatiseerde handtransmissie. Die ratkas is aaklig en stadig om ratte te wissel. Party joernaliste het dié spesifieke ratkas as gevaarlik bestempel omdat hy nie seker is van wat hy wil doen in swaar verkeersituasies óf met wegtrek teen groot bulte nie. Die Datsun maak gebruik van ʼn palwisseltransmissie wat glad nie enige van die Kwid se probleme het nie.

Vering en padhouvermoë

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Die Kwid het vir my effe stywer vering as die Go, en dus is daar minder bakrol. Ek hou eerder van die minder bakrol – maar al twee voertuie se padhouvermoë is billik vir dié klas voertuig. Ritgehalte in die Go is uiteraard beter as die Kwid sʼn weens die sagter vering. Nog ʼn eienskap waar die Go die Kwid klop, is by stabiliteit op die snelweg wanneer die wind lol. Die Kwid word rondgewaai, maar nie die Go nie. Dalk is dit te danke aan die Go se gewigsvoordeel.

Opsomming

In dié klas gaan dit waarskynlik neerkom op smaak en voorkeur. Indien jy ʼn outomatiese voertuig moet hê en baie tyd op die snelweg deurbring – koop beslis die Go. Indien jy nooit snelweg ry nie en ʼn oulike motor vir winkels toe en terug soek, koop die Kwid.

Só vergelyk die twee

Renault Kwid 1.0 Climber50 kW/91 Nm4,7 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km‑waarborgR164 900
Datsun Go 1.2 Lux outo57 kW/104 Nm5,0 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km‑waarborgR184 200

Ons sal weer later tyd met albei motors deurbring en hulle in dorpsverkeer op die proef stel. Indien jy wel ʼn handratvoertuig wil hê, het dié twee albei ʼn groot kompetisie in die vorm van Suzuki se Celerio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Ek het albei voertuie as huur voertuie bestuur. Die Kwis is dood. Daar is geen krag nie. Swaar gelaaide vragmotors ry jou weg teen bulte op. Sy winde blaas die Kwid van die pad af. Hy is baie onstabiel met sy winde.
Die Go is ‘n baie beter motor wat baie kragtiger is en baie beter handteer. Die Go is in ‘n baie hoër klas as die Kwid.

anton ·

Darm bitter baie geld vir baie min motor in albei gevalle……

charmaine ·

Anton ek stem saam dit is lekker studente motors maar onbekostigbaar vir n student.
En in Pretoria verkeer het n mens krag nodig.

Vita ·

Koop n VW UP aangewys as die beste stads voertuig, en goeie kwaliteit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.