kykNET Buite-ekspo perfekte uitstappie vir die gesin

Foto: Veskaf

Foto: Veskaf

Dis weer tyd vir die kykNET Buite Ekspo en dit lyk asof dit vanjaar nog groter en beter gaan wees.

Die Ekspo is spesifiek gemik op die buitelewe-entoesias, maar daar is genoeg vermaak vir elke lid van die gesin, wat dit die perfekte uitstappie maak.

Van sy nederige begin in Februarie 2011 langs die Breederivier, naby Swellendam in die Wes-Kaap, is dit vandag ʼn ekspo wat op groot skaal in verskeie dele van die land aangebied word. Na die aanvanklike sukses, is besluit om die geleentheid ook in Gauteng aan te bied. Die ekspo wat hierdie naweek afskop, vind by die Mbizi Game Lodge net buite Bela-Bela plaas.

Dis ʼn volwaardige buitelewe leefstyl ekspo en bestaan nie net uit buitelewe-uitstallers wat hul produkte op ʼn baie unieke manier in die bosveld kom uitstal nie. Dit bied ook baie opwindende aktiwiteite om die hele gesin besig te hou.

Die 7de nasionale rondte van die 4×4 X-Track Racing-wedren word ook vir die eerste keer tydens die ekspo aangebied. Verder kan mense uitsien na verskeie aktiwiteite, soos veldrenritte, helikopteritte en kameelritte en puik kunstenaars wat gaan optree.

Vanjaar is daar ook ʼn baie unieke wyntuin, waar oesters, kase, olywe en nog meer bedien sal word saam met puik SA wyne. Daar is ook volop gekeurde kosverskaffers en ʼn plaaskombuis op die terrein, met ʼn groot kroeg en biertuin.

kykNET sal ook teenwoordig wees saam met die drie sepies Binnelanders, Suidooster en Getroud met Rugby, waar hulle met mekaar gaan afreken in die kykNET-sepie “Vuurgeveg”, aangebied deur Jimmy’s Steakhouse Sauces om te bepaal watter sepie kraai koning in ʼn baie interessante braai kompetisie!

Daar is ook ʼn kindervermaak-area sodat ouers met gemoedsrus hulself kan geniet.

Die ekspo vind van 30 September tot 2 Oktober 2016 plaas. Besoek die webtuiste vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.