Kymco is terug in SA

Kymco Agility RS 125 (Foto: Verskaf)

Die Taiwannese motorfietsvervaardiger Kymco is terug in Suid-Afrika. Kymco het in die vroeë 2000’s die land verlaat. Soos met talle handelsname gebeur het, het Kymco gesukkel om vastrapplek in die klein Suid-Afrikaanse mark te kry. Vir eienaars van Kymco-motorfietse hier plaaslik moet dit beslis goeie nuus wees.

Yamaha Suid-Afrika is onlangs aangewys as die alleenverspreider van die Kymco-reeks hier in Suid-Afrika. Hulle voer nie net motorfietse in nie, maar ook Kymco se vierwielreeks. Daarbenewens het Kymco ook ’n side by side-voertuig wat aanklank behoort te vind by boere en mense op kleinhoewes.

Hul motorfietsreeks dek ’n wye reeks groottes. Daar is twee 125 cc-modelle – een met ’n vergasser en een met brandstofinspuiting. Daar is ook twee 300 cc-modelle – met en sonder ABS. Dan is daar die 400 cc-model en hulle toer-georiënteerde 550 cc-fiets. Terwyl die kleiner kapasiteit- fietse bedoel is vir pendel, is die AK 550 gerig op moeitevrye langafstandtoere. Die groter modelle is ook toegerus met Kymco se eie navigasiestelsel as standaard.

Agility RS 125 – R19 950
Like 125i – R 34 950
G-Dink 300i – R 49 950
G-Dink 300i ABS – R 69 950
XCITING S 400 i – R 99 950
AK 55 – R 154 950

As jy meer gemaklik is op vier wiele as twee, dan het Kymco vir jou ook ’n model:

MXU 150 – R 49 950
MXU 250 – R 64 950
MXU 450i 4×4 – R 104 950

Kymco AK 550 (Foto: Verskaf)

Daar is onlangs ’n mooi Afrikaanse naam gesoek vir ’n side by side en Theunis Nel van Woema het toe besluit op die term: ’n sit-sit. (Die liedjie “Hoe ry die boere sit-sit so…” was dus baie profeties.) Toegerus met twee sitplekke langs mekaar en vierwielaandrywing behoort hierdie voertuig ’n meer ekonomiese alternatief te wees om op die plaas mee rond te ry. Dit kan ’n vrag dra en beskik selfs oor ’n lae-strek ratkas. Dit kan eweneens groot pret wees op ’n naweekwegbreek. Kymco het hier twee modelle beskikbaar:

UXV 450i 4×4 – R 149 950
UXV 700i 4×4 – R 169 950

Met ’n uitgebreide modelreeks behoort daar iets te wees vir almal se behoeftes. Met Yamaha wat nou die invoere en onderhoud behartig kan jy nou met gemoedsrus ’n Kymco aanskaf.

Ek het die afgelope week twee van die modelle gebruik in my daaglikse pendel en sal binnekort meer breedvoerig verslag doen.

Vir meer inligting oor die reeks besoek gerus www.kymco.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.