Land Rover Defender groet finaal

Argieffoto van die Land Rover Defender

Argieffoto van die Land Rover Defender

Groot nuus is dat Land Rover se ikoniese Defender letterlik die einde van die pad bereik het. Na meer as ses dekades gaan hierdie ruwe dog geliefde bosbreker nie meer vervaardig word nie.

Die rede: Ondanks pogings deur ingenieurs en ontwerpers voldoen selfs hedendaagse Land Rover Defenders nie meer aan basiese veiligheidsvereistes nie, en word verkope van die Defender reeds etlike jare lank in die VSA verbied.

Ander motornuus wat met veiligheid te make het is dat die pas bekendgestelde Suzuki DZire (die Swift met ‘n bagasiebak) se intreevlakmodel aanvanklik nie met ABS-remme toegerus sou gewees het nie.

Na verskeie lastige vrae deur die media tydens die Dzire se bekendstelling het Suzuki SA by monde van bemarkingshoof Francois van Eeden aangedui dat selfs die intreevlakmodel hierdie basiese veiligheidseienskap sal hê. Of die Indiese mark – waar die DZire gebou word – ABS-sluitweerremme sal hê, moet nog gesien word.

Intussen beweer Nissan se bemarkingsmense uit Rosslyn digby Pretoria dat hulle Nissan Navara steeds die kragtigste bakkie op die Suid-Afrikaanse mark is. Die Navara se 4-liter V6 petrolenjin ontwikkel 198 kW en 385 Nm wring- (trek-)krag. Nissan se 3-liter V6 turbodiesel is ook ‘n ware spiertier – en ontwikkel 170 kW en 560 Nm. Dit gee die dieselweergawe sleeepvermoë van drie ton.

Nuus uit die Chinese bakkie-omgewing is dat Foton (met sy beproefde Cummins-dieselenjin) nou ook in enkelkajuit-formaat beskikbaar is. Die 2.8 turbodiesel ontwikkel 96 kW en 280 Nm wringkrag, en het ‘n 3-jaar/100 000 km waarborg. Die brandstoftenk hou 75 liters en die vervaardigers maak aanspraak op verbruik van 8l/100 km.

Nog nuus uit die Chinese stal is dat Geely – eienaars van Volvo – hul klein 1.3-liter petrolenjin aan ‘n turbo gaan koppel vir beter werkverrigting. Bekend as die Gleagle GC7 (waar op aarde kry hulle hierdie name?) gaan kraguitsette nou op tot 99 kW. Na verwagting sal hierdie nuwe model binnekort in Suid-Afrika beskikbaar wees.

In die dolle najaag van krag en brute verrigting, het Mercedes-Benz pas aangekondig dat sy 12-silinder dubbelturbo 6-liter tans die kragtigste enjin in sy klas is. Ontwikkel deur MB se AMG-filiaal, bied hierdie monster – in die S-Reeks – 463 kW en ‘n verstommende 1 000 Nm, en dit teen ‘n brandstofverbruik, aldus die vervaardigers, van 11.9l/100 km. Dit versnel glo van 0-100 km/h in 4.3 sekondes en maksimum snelheid word beperk tot 250 km/h.

In die wedloop om klein, kompakte sport-nutsvoertuie (SUVs) te bou, het Korea se Ssangyong met ‘n 4.4-meterlange B-segment konsep by die Geneefse motorskou gedebutteer. Aandrywing is deur ‘n 1.6-liter diesel – aangehelp deur ‘n hibriede stelsel wat ‘n elektriese motor en lithium-battery insluit.

Ssangyong, wat aanvanklik gesukkel het om die mas op te kom, word beherend (70%) besit deur Mahindra van Indië en beplan om teen 2016 jaarliks sowat 300 000 voertuie te verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.