Land Rover Discovery Sport: Kleinboet word groot

Foto: Verskaf

Land Rover het in 2015 sy Discovery Sport bekendgestel. Dit het die Freelander vervang. Op ʼn stadium wou ek ʼn Freelander 2 koop. Eintlik sou ek steeds van een hou. Toe kom die Disco Sport. Ek onthou ʼn video op YouTube waar Johnny Smith van Fifth Gear met hom deur ʼn reuserivier gery het … ek was beïndruk.

Die opgeknapte Discovery Sport is pas in Suid-Afrika bekendgestel. Dit het nou ʼn nuwe platform wat reeds gerat is vir hibridiese dryfstelsels. Daar is aan die vering getorring – en die resultaat is fantasties. Die Discovery Sport sweef oor ʼn grondpad soos min.

Foto: Verskaf

Met ons belastingstrukture op ingevoerde motors is die prys egter effe skrikwekkend.

Die ontwerp het volwasse geraak en die Disco Sport lyk nou nóg meer soos ʼn volbloed Disco. Die voor en agterligte is opgeknap en is nou LED-tipes. Beskou uit die meeste hoeke werk die ontwerp puik – veral in die luuksste HSE-spesifikasievlak met die groter wiele.

Die binneruim voel luuks en goed aanmekaargesit. Die kajuit is ergonomies uitgelê en alles is waar ʼn mens dit soek in ʼn Land Rover.

Foto: Verskaf

Die intelligente knoppies – waarvan die funksies verander soos ʼn mens verskillende verstellings maak – is werklik slim. Een stelsel wat my nog wel teleurstel is die inligtingstelsel. Dit blyk my Land Rover kan net nie presies regkom met die programmering van dié stelsel nie. In die mark waar meeste stelsels nou perfek werk staan dit uit. Die Bluetooth op ons roete was op die koffie. Ons kon die foon kry om te werk – nie die musiek nie. Nietemin – draad ingeprop en CarPlay aangeskakel dan is Bluetooth nie nodig nie.

Die Discovery Sport voer twee truuks in sy mou wat meeste van die sportnutse in dié segment nie het nie. Sewe sitplekke én vierwielaandrywing. Werklik bekwame vierwielaandrywing met ʼn fantastiese stelsel wat hulle noem Terrain Response 2. ʼn Mens kan die stelsel in outo laat, óf kies tussen verskeie programme vir modder, rotse, sand ensovoorts.

Foto: Verskaf

Daar is ʼn slim nuwe kamera wat hulle noem ClearSight – hy is hoër gemonteer en kan baie meer wys, veral langs die motor as ʼn mens 4×4. Dit gaan saam met die ClearSight-truspieëltjie wat ʼn skerm kan wees met ʼn beeld, óf ʼn doodgewone spieël.

Die nuwe ratkas- en enjinkombinasie is ʼn openbaring. Ek het ʼn tyd gelede met Jaguar se E-Pace D240 gery en die enjin was baie grof en die ratkas traag. Die intree D180-enjin in die Discovery Sport met sy nuwe 9-spoed outo is fantasties. Die beste brandstofverbruik wat ons kon behaal is ʼn indrukwekkende 6.4 ℓ/ 100 km op die oop pad. Die 2,0 viersilinderturbodieselenjin bied 132 kW en ʼn reusagtige 430 Nm. Gepaard met dié ratkas voel die Disco altyd ywerig om te hol. Daar sal binnekort ʼn P250 model beskikbaar wees met ʼn 184 kW petrolenjin.

Foto: Verskaf

Die Discovery Sport spog met ʼn 2,5 ton sleepkapasiteit, en met die egalige kragband dink ek die Discovery Sport sal soos ʼn droom sleep. Die Discovery Sport is een van die min sportnutsvoertuie wat nie swaar en lomp voel nie. Hy raak sy massa puik baas. Die ritgehalte is van die boonste rakke, veral op ʼn grondpad. Daar is nie regtig enige bakrol om van te praat nie en die padhouvermoë beter as wat ooit in só voertuig sou nodig wees.

Die Discovery Sport kan baie meer 4×4 as wat die meeste mense hom voor krediet sal gee. Die voertuig ry soos ʼn droom en is lekker luuks. Ongelukkig is die prys heel wild en die derde ry sitplekke altyd ʼn opsionele ekstra, maar vir dié wat kan is dit ʼn lieflike ryding. Ons gaan weer tyd met die Discovery deurbring in die dorpsverkeer – maar vir dié wat dit kan bekostig is dit ʼn aantreklik alternatief.

Die reeks lyk só:

Land Rover Discovery Sport D180 AWDR749 500
Land Rover Discovery Sport D180 S AWDR795 500
Land Rover Discovery Sport D180 R-Dynamic S AWDR819 100
Land Rover Discovery Sport D180 R-Dynamic SE AWDR855 300
Land Rover Discovery Sport D180 R-Dynamic HSE AWDR897 800
Land Rover Discovery Sport P250 AWDR759 900
Land Rover Discovery Sport P250 S AWDR805 800
Land Rover Discovery Sport P250 R-Dynamic S AWDR829 500
Land Rover Discovery Sport P250 R-Dynamic SE AWDR865 700
Land Rover Discovery Sport P250 R-Dynamic HSE AWDR908 100

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.