Langpad word ʼn kortpad in dié weeldewa

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Toyota se Quantum VX is ʼn uiters luukse bus en ons het die langpad Suidkus toe van Pretoria af met hom aangepak.

Ek het drie kinders, onderskeidelik ses, agt en 10 jaar oud, en hulle reis baie lekker en gemaklik sonder te veel foefies óf pa wat moet sê: “As ek die kar stop!” Al reis my kinders maklik kan dit altyd gemakliker gaan. Dink aan ʼn besigheidsklasvlugkaartjie teenoor ekonomie.

Die Quantum VX is ʼn volbloed-weeldewa waar die tweede ry se sitplekke elektries verstelbaar is, met sitplekverwarmers én ʼn voetrus wat uitskop.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Natuurlik wou die oudste, die gadget-kind, daar sit. Sussie moet ook daar sit sodat mamma by die jongste kan uitkom vanuit die passasiersitplek. Die middelboetie is net te bly om in die derde ry alleen te sit met sy foon en ʼn USB-laaipoort reg langs hom. Saligheid.

Namate die vakansie nader skuif, begin ek wonder en oorweeg of ek ʼn waentjie gaan sleep of nie. Dis ʼn pyn as dit nie heeltemal nodig is nie, én ek moet ʼn pel se waentjie dan leen. En mens weet wat sê baie mense oor leen!

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Die probleem is dat die vierde ry sitplekke in die Quantum nie uitgehaal kan word nie. Die sitvlak vou op – maar verder vat dit nog ʼn groot gedeelte van die bagasiebak. Die ander probleem is onkunde. Ek sukkel my roer af om die sitplekke vorentoe en agtertoe te skuif – daar is sulke gidse wat die sitplekke stop.

Wel – gelukkig wys die gadget-kind vir my dat die goedjies net uithaal – dan kan mens die sitplekke afsonderlik skuif soos mens wil. Ek gaan vroetel toe vir 20 minute buite rond en vind ʼn oplossing vir die week se bagasie sonder dat ons ʼn waentjie moet sleep. Indien ek ʼn waentjie van my eie gehad het, sou ek dit net gesleep het – dis minder moeite.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Die vyf van ons vat die pad, sak en pak Margate toe. Ons kry huisvriende daar – hulle is vier. Dán is daar presies genoeg plek vir die nege van ons. Die Quantum maak my aanvanklik bang met sy brandstofverbruik – maar sodra Gauteng se bulte in die truspieëltjie is, kom dit af. Ek maak vol in Harrismith en die bussie vat so by die 37 ℓ. Die rekenaartjie sê ook ons kry so 9.4 ℓ/100 km gemiddeld – en die wind het lelik gewaai.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Ná Harrismith is die eerste stop eers weer in Cato Ridge by die groot Engen net voor die N2 wegbreek Suidkus toe. Bergpas op en af het die Quantum nie ʼn voet verkeerd gesit nie. Die padhouvermoë is vir my opvallend. Ja – dit is ʼn groot, breë bus – maar hy hanteer gemaklik. So agt uur later kom ons in Margate aan. Die gemiddelde brandstofverbruiksyfer wys net hier by 9.2 ℓ/ 100 km … maar die lekkerste van alles is niemand is moeg nie. Niemand het lyfseer nie. Almal is vriendelik met mekaar. Dis net ʼn bus wat dit kan doen.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Vir die volgende week rits ons nege op en af teen die Suidkus in die gietende reën. Ons het elke strand besoek en almal wat verbystap, fluister iets oor die bus. Die langpad terug huis toe is ook in ʼn japtrap verby, sonder enige probleme. Die brandstofverbruik klim na 10.4 ℓ/ 100 km, want sussie het iewers nét ná ʼn vulstasie ʼn nood ontdek – toe moes ek maak asof ek ʼn Ferrari-bus ry en ʼn badkamer kry.

Soos ons die bus by die huis afpak, is dit die vreemdste gevoel. Mens is hartseer dat hy teruggaan. Nie omdat dit ʼn asemrowende sportmotor is nie, maar eerder omdat dit deel word van die gesin. Mens raak lief vir ʼn bus, want dit maak jou gesin gelukkig, en daar is bitter min voertuie wat dit kan doen.

Die reeks lyk só:

Toyota Quantum 2.8 LWB panel vanR501 000
Toyota Quantum 2.8 LWB crew cabR510 200
Toyota Quantum 2.8 SLWB panel vanR538 500
Toyota Quantum 2.8 LWB bus 11 seater GLR631 100
Toyota Quantum 2.8 SLWB bus 14 seater GLR647 700
Toyota Quantum 2.8 LWB bus 9 seater VXR947 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai H1 2.5CRDi Elite125 kW/ 441 Nm10 ℓ/100 km9 sitplekke5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

4 jaar/90 000 km- diensplan

R674 900
Kia Grand Sedona 2.2CRDi SXL147 kW/ 440 Nm8 ℓ/100 km7 sitplekke5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- diensplan

R825 995
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI Highline 4Motion132 kW/ 400 Nm8.8 ℓ/100 km7 sitplekke3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/60 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 046 600
Mercedes-Benz V250d Avantgarde140 kW/ 440 Nm6.5 ℓ/100 km7 sitplekke2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 292 474

Tussen die mededingers is die Hyundai H1 nie werklik baie luuks nie – maar beslis ʼn winskoop. As mens die Quantum in gedagte hou, is nie eens die Mercedes-Benz luuks genoeg nie. As mens ʼn luukse bus wil hê, is die Quantum puik … As mens net ʼn gesinsbus wil hê, is die H1 steeds my keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

isabelle ·

dis die regte bewoording ….weeldewa-dis nou weer vir my LUUKS maar nie so mal oor die ligte agter nie …NETJIES NES DIE PERSOON WAT SO EEN KOOP SE BANK BALANS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.