Langtermyntoets: Dié bakkie die volmaakte reisgenoot

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 (Foto: Toyota)

Ek’t van 12 Desember 2017 tot 12 Januarie 2018 met ʼn Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 handrat gery. Ek’t in totaal 4 116km gery en R4 947.49 se brandstof ingegooi. Daar was drie verskillende bene op ons reistog.

Die eerste been is van my huis in Pretoria na die Katse dam in Lesotho. Dit is 544km, alles teerpad. Sulke vankansiereistogte is lieflik met ʼn dubbelkajuit. Mens hoef nie te kommer oor pakplek nie. Die bagasie, lyfplanke, noodhulptrommel en wie weet wat nog alles is agter op die bakkie gepak, kinders vasgegespe en die Hilux is in Lesotho se rigting gewys.

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 (Foto: Toyota)

Die eerste paar honderd kilometer verdwyn in ʼn oogwink met die spoedbeheer op 120km/h gestel. Dit is eintlik lieflik om ander paaie te ry, nie die doodgewone ou N3 nie. By Villiers vat mens die R26 na Frankfort, Tweeling, Reitz, Bethlehem en eindelik Fouriesburg. Ons bly in ʼn bitter mooi land. As ʼn jong lat het ek altyd gedink die Vrystaat is die lelikste provinsie. Nie so nie. Die Oos-Vrystaat is bitter mooi. By Caledonspoort is ons in ʼn oogwink deur die grenspos.

Lesotho is regtigwaar prentjie-mooi. Die paaie lyk soos repies spaghetti wat teen die berg geplaas is. Net binne die grens leer ons bitter vinnig dat daar nie Cell C opvangs is in Lesotho nie. Slimjan het ook nie gedink dat Google Maps moontlik ʼn probleem kan word sonder selfoonopvangs nie. Nietemin, oor berge en deur dale is elke aangesig mooier as die vorige een. Die Hilux se padhouvermoë indrukwekkend op die kronkelpaaie. Die hoë bestuursposisie verseker dat mens alles mooi kan sien. Die eerste dag sien ons ʼn piek van 3 090m. Tot die Hilux se 2.8 GD-6 enjin voel asmaties op dié hoogte.

Ons is 07:30 by die huis weg, 12:00 deur die grens en het 14:30 by Katse Lodge gearriveer. 544km en ʼn paar bergpasse later sien ons die asemrowende Katse dam voor ons. Die Hilux het sonder een enkele protes ons veilig tot ons eerste bestemming gebring.

Die Hilux waarmee ons ry is ʼn 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider. Die bakkie kos R576 400. Die enjin bied 130kW en 420Nm. Die Hilux het 7-lugsakke en ʼn magdom ander veiligheidstelsels. Die bakkie kan 3 500kg sleep, maar meer daaroor in die volgende artikel oor ons sleeptog met die Hilux.

Die Mafika Lisiu-pas (Foto: Brendon Staniforth)

Odometer begin1 246km
Odometer nou2 499km
Afstand afgelê1 253km
Brandstof ingegooi105ℓ
Brandstof kosteR1 526.17
Brandstof verbruik8.4ℓ/100km

Die volgende been van Katse Lodge oor Sanipas tot in Margate is waar dinge interessant raak. Daai storie volg oor ʼn paar dae.

Die Mafika Lisiu-pas (Foto: Brendon Staniforth)

Die Mafika Lisiu-pas (Foto: Brendon Staniforth)

Die Katsedam in Lesotho (Foto: Brendon Staniforth)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Brendon ·

Dagsê FF

Baie dankie vir jou kommentaar. Nie een keer in 4 116km nie. Omtrent 250km daarvan op grondpaaie. Tensy jy self al een gerol het onder normale toestande sal ek stry dat dit totale bog is dat Hilux bakkies net omval. Jy sal in die volgende storie lees hoekom ek só sê.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Basson ·

‘n Interessante tog in ‘n goeie voertuig, dankie vir die oorsig en foto’s.

Francois ·

Hi Brendon

Ek stem saam jou.
Ons het Pretoria,Kaapstsd,Weskus,Kgalagadi in Desember gedoen total 4730 km met 2.8
Hilux 4×4.
Ry soos n droom.

Groete
Francois

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.